'n Senior advokaat, Patric Mtshaulane, wat vir die staat optree teen 'n Vrystaatse boer, het gister in die Pretoriase Hooggeregshof gesê dat dit nie verkeerd was om grond te nasionaliseer soos in Zimbabwe gebeur het nie.
Mnr. Crawford von Abo van Bothaville dagvaar die Suid-Afrikaanse regering vir skade van R80 miljoen wat hy gely het omdat hy geen diplomatieke hulp ontvang het toe sy grond en bates deur die Mugabebewind in Zimbabwe gekonfiskeer is nie.
Die staat se advokaat het Von Abo se bewerings verwerp dat sy versoeke om hulp deur Suid-Afrika geïgnoreer is, maar het erken dat die diplomatieke stappe wat geneem is, nie die verlangde resultate opgelewer het nie.
Von Abo doen 'n aansoek om die SA regering te dwing om 'n party te word tot die Internasionale Konvensie oor die Beslegting van Beleggingsdispute sodat hy 'n eis om skadevergoeding teen die Zimbabwiese regering deur internasionale arbitrasie kan instel.
Omdat Zimbabwe nie tot so iets so instem nie, het die staat se advokaat dit as 'n "akademiese oefening" beskryf.

Ongeveer 22 gevangenes is die afgelope vier maande in Mosambiek oorlede, meeste van hulle weens ‘n tekort aan mediese hulp. Mosambiek se staatsbeheerde koerant berig dat Francisco Mathe, bestuurder van die Tjimoio-gevangenis in die Manica-provinsie, sê meeste van die oorledenes is aangehoudenes wat nog nie skuldig bevind is aan enige misdaad nie.
ANC president Jacob Zuma het kerkleiers vies gemaak met sy stelling dat God sal toesien dat die ANC vir ewig regeer. Zuma het in Khayelitsha gesê dat selfs God verwag dat die ANC die land moet regeer omdat dit die enigste organisasie is wat deur kerkleiers geseën is toe dit tot stand gekom het.
'n Topamptenaar van die departement van landbou is in die Transvaalse Hooggeregshof in Pretoria aan moord skuldig bevind. David Linley Sonkosi het sy vrou Pumla Mkatali doodgeslaan ná 'n beweerde verhouding met 'n ander man deur haar kop en lyf herhaaldelik teen die vloer te stamp en deur haar met 'n leergordel te slaan.
Volgens die Vrystaatse polisie het drie gewapende mans gister 'n bank in Winburg van 'n onbekende hoeveelheid geld beroof.