Suid-Afrika sal vandag die kwessie van die Israelse-Palestynse konflik direk met die Amerikaanse regering ophaal. Kabinetsministers woon vandeesweek saam met President Jacob Zuma ‘n Amerika-Afrikaberaad in Washington by, het RSG berig.
Die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana Mashabane sê die land sal in sy hoedanigheid as vriend van die Palestyne die saak aanroer.
Sy sê die VSA het ‘n verantwoordelikheid om die waansin en sinnelose sterftes te help beëindig.
Mashabane meen die res van die wêreld kan nie eenvoudig toekyk en wag vir Israel en Hamas om die vrede te bewerkstellig nie.
Intussen sal Amerika na verwagting tien miljard rand se saketransaksies, ‘n verhoging in geld vir “vredesoperasies” en nog miljarde rand vir die uitbreiding van kos- en kragprogramme in Afrika op die beraad aankondig.
Amerikaanse amptenare hoop die beraad van 50 Afrika-staatshoofde in Washington sal Amerikaanse belange in die vinnig groeiende streek onderskryf deur ‘n reeks regerings-en privaatvennootskapstransaksies om handel en beleggings te bevorder.
Amptenare het vrae oor of die beraad in reaksie op China se toenemende teenwoordigheid in Afrika is, ontwyk.
‘n Woordvoerder van die Amerikaanse agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, Rajiv Shah sê daar sal grootskaalse aankondigings wees wat betref aansienlike verhogings in privaatsektorsteun vir Amerikaansgesteunde kos-en landbouprogramme in Afrika.
Die Oos-Kaapse regering moes verlede week ‘n “reddingsoperasie” loods by die wêreldberoemde en skatryk Mandela-familielandgoed te Qunu om te keer dat hul beeste nie ook weens verwaarlosing vrek soos Thandi Modise se diere nie.
Die Mandelas is trots op hul Xhosa-“beeskultuur” en hou daarom ‘n kudde op hul kleinhoewe aan, dog sonder om hulle genoeg voer te gee. Daarom het die provinsiale regering van die Oos-Kaap met die belastingbetaler se fondse “ingegryp” om gratis lusern aan die Mandela-beeste te verskaf. Die dienste van veeartse is ook ternouernood ingeroep, aangesien een van die 97 beeste reeds van die honger gevrek het en die ander 96 insgelyks in lewensgevaar verkeer het.
‘n Plaaslike boer in die Oos-Kaap het in reaksie gesê: “Terwyl die ANC-bewind, wat deur die toedoen van mnr. FW de Klerk en Sweedse miljoene vir ‘n terreurveldtog in die 1980s aan bewind gekom het, beplan om blanke plase te onteien en politieke “boere” daar te vestig, kan sy eie nomenklatoera wat die staatskas leeg steel nie eens na hul plaasdiere omsien nie.”
Verlede maand is 82 dooie diere, waaronder ontbindende varke, hoenders, ganse en skape, tydens ‘n klopjag op Thandi Modise, premier van die Noordwes-provinsie, se plaas ontdek. Modise is een van die eertydse terreurbeweging se mees prominente figure en voorsitster van die Nasionale Raad van Provinsies.
Die Oos-Kaapse LUR vir “landelike ontwikkeling en grondhervorming”, Mlibo Qoboshiyane, het Vrydag die Mandela-plaas besoek en was glo “diep bekommerd” toe hy die toestand van die beeste aanskou. Die beeste is nie ingeënt nie, had geen voer nie en die toestand van die plaas was blykbaar “onbevredigend”.
‘n Hele span staatsveeartse, wat met behulp van regstellende aksie aan Onderstepoort afgestuurd het, het hom vergesel.
Die plaasbestuurder, Siyakudumisa Gabada, het die situasie op die plaas as “baie moeilik” beskryf aangesien sy adellike meesters verkies om op vliegtuie in die eersteklaskajuit rond te kerjakker eerder as om na hul beeste om te sien.
“Daar is nie genoeg gras vir die beeste om te vreet nie,” sê Gabada. “Die beeste het baie maer geword en is in ‘n verskriklike toestand. Een van hulle het reeds weens hongersnood gevrek.”
Hy het egter belowe “dit sal nie weer gebeur nie” nadat die staatsveeartse die diere ondersoek het.
Mandela se kleinseun, kaptein Mandla Mandela, het erken dat die beeste en plaas “nie in ‘n bevredigende toestand is nie”. Volgens hom ondersoek die Mandela-sibbe “moontlike oplossings”.
Mandla Mandela het ook verwys na “uitdagings” (challenges). “Dié tyd van die jaar verloor ons as gemeenskap baie beeste en skape as gevolg van die droogte. Soos u kan sien is daar kwalik enige gras op die plaas oor. Daar is ook ander uitdagings, soos die bestuur van oorbeweiding op die plaas.”
Heilige beeste, soos Opperman sou sê… Maar op die Mandela-plaas sonder voer gelaat
Die LUR vir grondhervorming, Qoboshiyane, het voortgegaan deur te sê: “By nadere ondersoek na die kudde, was daar ‘n mengsel van die goeie en die kommerwekkende. Ek is egter bekommerd dat ons as departement moes terugkom om saam met die plaasbestuurder en die Mandela-familie te werk. Die beskikbare voer en water op dié plaas is tans nogal krities.”
“Madiba” soos Mandela in die Naspers-media bekendstaan, het in sy testament verklaar:
“Dit is my hartewens dat die boerderybedrywighede en grondhervorming op Qunu ná my dood sal voortgaan en dat die Nelson Nelson Rolihlahla Mandela-familietrust sal voortgaan om die bestuurder aan te hou wat tans die bedryf bestuur en om ‘n geskikte plaasvervanger te vind indien hy nie meer vir diens beskikbaar sou wees nie.”
Die bedryfshoof van die Mandelas se agri-onderneming heet Wiseman Qingana. As ‘n Xhosa en iemand wat lank beeswagter was, het Nelson Mandela ‘n groot liefde vir beeste gehad. Volgens Wiseman Qingana het hy en Mandela dikwels vergader om die welsyn van sy kudde te bespreek.
“Madiba het by die kraal of in die veld na ons to gekom en altyd oor dieselfde dinge uitgevra: hoe dit met sy beeste gaan, of hulle gesond is, of hulle gedip is en of ons vir hulle inspuitings gegee het.”
Selfs kort voordat hy in Desember 2013 die tydelike met die ewige verwissel het, het Mandela gevra om sy vee te sien.
Vrydag het die departement die Mandela-beeste gratis ingeënt en van hulle se horings afgesny, asook 30 gekastreer om die kudde se aanwas te beperk. Sestig bale lusern is goedgunstiglik deur die departement aan die Mandelas beskikbaar gestel.
Volgens die departement wou hy ‘n herhaling van die Thandi Modise-episode voorkom, aangesien dit nie bevorderlik vir die Mandela-handelsmerk sou wees indien nog ‘n skandaal oor dieremishandeling op Qunu uitbreek nie.
Mlibo Qoboshiyane sê: “Die Thandi Modise-situasie is vir die regering en ontluikende boere ‘n les… almal met lewende hawe is daartoe geroepe om na hulle om te sien… ons wil ‘n soortgelyke situasie as dié wat ons die afgelope weke gesien het, verhoed.”
Verlede maande het die Dierbeskermingsverenging Thandi Modise se plaas van 488ha naby Potchefstroom besoek nadat inspekteurs ‘n dringende hofbevel teen die ANC se hoë dame verkry het, in ‘n poging om die diere te probeer red.Honger varke op die plaas het reeds die karkasse van hul dooie eweknieë begin vreet.
Die Departement van Korrektiewe Dienste het die beheer van die Mangaung-gevangenis buite Bloemfontein weer aan die veiligheidsmaatskappy, G4S, oorhandig, het RSG berig.
Die departement het in Oktober verlede jaar die beheer van die privaat-beheerde gevangenis oorgeneem. Die kommissaris, Zach Modise, sê die probleme wat tot die beheeroorname gelei het, is opgelos.
Die streekspresident van G4S Africa, Andy Baker, sê die maatskappy het ingestem om die 326 werkers wat afgedank is, weer aan te stel.
`n Maand voor Korrektiewe Dienste die beheer oorgeneem het, het G4S `n groep van 330 lede van die vakbond, Popcru, afgedank omdat hulle na `n staking nie weer begin werk het nie.
Tydens die staking is `n vroulike bewaarder vir 13 uur deur die gevangenes aangehou.
Die voorsitter van die Marikana Kommissie van Ondersoek, regter Ian Farlam, sê die hoof van sekuriteit by Lonmin, Graeme Sinclair, geroskam oor sy onvolledige voorlegging.
Farlam het gesê Sinclair is onder ‘n verpligting om ‘n volledige onthulling van die oorspronklike logboek an die Kommissie te doen.
Volgens die regter is slegs ‘n geredigeerde weergawe aan die kommissie aangebied. Inligting word glo uit die logboek vermis.
Dié weglating het na vore gekom tydens getuienis wat voor die Kommissie gelewer is.
Dit het aan die lig gekom dat die volledige weergawe aan die polisie gegee is, maar dat dié een aan die kommissie weglatings bevat.
Die weglatings hou glo verband met verskeie skietvoorvalle deur die wagte tydens die staking by Marikana in 2012.
Farlam het Sinclair ook gevra waarom die volledige logboek van Lonmin se regspan weerhou is. Sinclair het gesê hy is van mening dat hy alle getuienis wat van hom vereis is, onthul het.
In Suid-Afrika is die werklikheid altyd vreemder as fiksie. In die swart SAUK-sepie Muvhango baklei familielede oor frontmaatskappye en tenders wat hulle vir mekaar gaan toeken.
Nou blyk die “fiksie” eg te wees, want so pas het die ouditeur-generaal bekendgemaak dat meer as R500 miljoen se munisipale tenders aan maatskappye toegeken is waarin munisipale werknemers en raadslede oor aandele beskik. Dit is onwettig vir maatskappye waarin raadslede of werknemers ‘n belang besit om tenders te bekom.
Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, het verder bekendgemaak dat meer as R100 miljoen se tenders aan die naaste familie (eggenote, kinders en ouers) van raadslede en munisipale werknemers toegeken is. In so ‘n geval is dit nie onwettig vir “familie” om tenders te bekom nie, maar hul verwantskap aan die tendertoekenners moet volgens tersaaklike wetgewing verklaar word.
“Die toekenning van tenders aan werknemers en raadslede kwel ons omdat dit verhoed kon word as basiese beheermeganismes van krag was en sulke mense hul belange verklaar het,” het Makwetu gesê.
“By 19 munisipaliteite het werknemers nie hul belange verklaar nie, met R70 miljoen se tenders, terwyl verskaffers by 27 munisipaliteite dit ook nie gedoen het nie.”
Dié aankondiging volg kort op die hakke van die R1,4 miljard-skandaal waarby Brian Hlongwa, hoofsweep van die ANC in Gauteng, betrokke is. Twee maatskappye wat vir kontrakte by die Gesondheidsdepartement getender het, het onder meer ‘n huis van R7,2 miljoen vir Hlongwa in Bryanston, Johannesburg, gekoop.
Wat die Gauteng-provinsie betref, het die ouditeur-generaal nie spesifieke bedrae verwys nie, maar wel genoem dat daar onder die R466 miljoen se onreëlmatige uitgawes tenders was wat aan maatskappye toegeken is waarin raadslede, werknemers en verwante amptenare oor ‘n aandeelhouersbelang beskik.
’n Vrouekoshuis by die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie (MUT) in Durban is vroeg Donderdagoggend in ligte laaie gelaat en 15 studente moes vir rookinaseming behandel word.
Thami Mchunu, studentedekaan, het Donderdag gesê ’n saak van brandstigting word deur die polisie ondersoek.
Die brand is kort ná middernag gestig. Studente en veiligheidspersoneel van die universiteit kon daarin slaag om die brand te blus.
Prof. Mashupye Kgaphola, visekanselier, het gesê die skade beloop ongeveer R90 000.
Die universiteit is die afgelope week deurgeloop onder oproerige studente. ’n Groep studente wat hul die Progressiewe Jeugalliansie noem eis dat alle studente geregistreer moet word, ongeag hoeveel geld hulle die universiteit skuld in terme van uitstaande studiegelde.
Swart inwoners het die sluiting van ‘n museum ter ere van anti-apartheidshelde genoop, en hulle beskuldig nou die owerhede dat hulle ‘n “huis vir dooie mense” gebou het, terwyl hulle in haglike omstandighede moet leef.
Die Red Location Museum in New Brighton Port Elizabeth was nie lank gelede nie, ‘n toeriste-magneet waar honderde “geheuebokse” met die verhale van anti-apartheid-aktiviste, insluitend die voormalige president Nelson Mandela, uitgestal is.
Die moderniteit van die R22 miljoen gebou, wat verskeie internasionale argitektoniese toekennings gewen het, staan in totale teenstelling met die plastiek- en sinkplaatstrukture wat dien as huise vir die omliggende swart gemeenskap.
Hulle het nie ‘n saak met die monument wat vir hulle “bevryding” opgerig is nie en herken niks daarin wat vir hulle van belang is nie.
Die museum is nege maande gelede noodgewonge gesluit na dreigemente deur inwoners om besoekers aan te rand. Pogings om dit te heropen is met gewelddadige oproer begroet.
Die webwerf beweer dit is “gesluit is as gevolg van gemeenskapsprotes”, in een van die oudste lokasies van Port Elizabeth.
Die gebou is nou gestroop deur die mense wat hulself gehelp het aan elektriese bedrading, waterpype, kragproppe, omheining en houttoebehore vir hul plakkershutte.
Sekuriteitswagte is ‘n ruk gelede gehuur om die perseel te patrolleer, maar hulle het hul poste verlaat uit vrees vir hul lewens. Dit is glo voorheen as ‘n “navorsingsfasiliteit” deur geskiedkundiges gebruik.
“Die toestande is erg. Die omheining is in verskeie plekke geknip en daar is geen beligting nie,” sê ‘n wag.
“Selfs die deksels van die dreine buite is gesteel. Dit is gevaarlik, jy weet nie wanneer jy aangeval sal word nie,” het hy gesê.
Chris du Preez, die museum se waarnemende assistent-direkteur, sê dat geen artefakte of dokumente gesteel of beskadig is tydens die plundering nie.
Die museum het die 2006 Lubetkin-prys gekry, toegeken deur die Royal Institute of British Architects as die beste nuwe gebou buite die EU.
Dr. Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het Woensdag gesê Suid-Afrika is op ’n hoë gereedheidsgrondslag en voorsorgmaatreëls word getref om te keer dat die Ebola-virus hierheen versprei.
“Ons bewusmakingsprogramme is uiters effektief,” het Motsoaledi gesê.
Suid-Afrikaners hoef nie paniekbevange te raak dat die Ebola-virus uit Wes-Afrika ‘n gevaar inhou nie.
Sedert die Ebola-epidemie – die grootste tot nog toe in die geskiedenis – het die gesondheidsdepartement in samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes(Nios) kennisgewings aan beamptes by toegangspunte na Suid-Afrika gestuur.
Dit sluit die burgerlugvaartowerheid ook in.
Gesondheidswerkers het ook opdrag gekry om op te let vir reisigers wat onlangs in Wes-Afrika was.
Die virus het reeds tot die dood van meer as 670 gelei.
Metrorail moes inderhaas elf treinstasies tussen Philippi en Nyanga op die Kaapse Vlakte sluit weens oproerige pendelaars.
Intimidasie en geweld deur gefrustreerde reisigers is aangemeld nadat duisende gestrand is omdat vandale sinjaalkabels by ‘n sleutelkruising gesteel het.
Sowat 80 treine in die gebied is erg ontwrig, en die skade word op byna twee miljoen rand geraam.
Busdienste sal Donderdag Kaapse pendelaars na hulle werk vervoer.
Duisende pendelaars sal na verwagting die hele Donderdag vertragings beleef.
Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Donald Grant, het die dade van vandalisme skerp veroordeel.
‘n Woordvoerder van Metrorail, Riana Scott, het bevestig dat die polisie die misdaad ondersoek. Scott sê die kabels wat gesny is, is multilynkabels en tot 37 dunner kabels is binne in een groot kabel saamgevoeg.
Sy sê hulle reken dat dit sowat twee-en-‘n halfmiljoen rand sal kos om dit te vervang.
Die Nasionale Vervolgingsgesag is volgens berigte besig met ‘n interne ondersoek na die vervolging van die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi.
Volgens die koerant The New Age het Selebi se familie en regspan ‘n klag gelê dat die vervolgingsgesag nie al die getuienis in sy besit bekendgemaak het tydens Selebi se hofsaak nie.
Die geskorste hoof van die NVG se eenheid vir integriteitsbestuur, Prince Mokotedi, het aan die koerant bevestig dat die klag ondersoek word.
Mokotedi gaan na verwagting môre sy bedankingsbrief by die NVG indien.
Selebi is in Augustus 2010 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat die hof bevind het dat hy omkoopgeld van die dwelmhandelaar, Glenn Agliotti ontvang het.