Zuma herinner SA aan Mandela se ware nalatenskap

Nelson Mandela was nie net ‘n vriendelike ANC-lid nie, maar ‘n “ware Afrikaan”, het pres. Jacob Zuma Donderdag gesê.

Opposisiepartye moenie Mandela se nalatenskap verdraai nie en moet “eerlik en opreg” wees in hul waardering van hom, het hy gesê.

Mense skep ‘n oppervlakkige beeld van Madiba, het hy gesê.

“Hulle moet lief wees vir Madiba, die hoof-vrywilliger van die versetveldtog, Madiba die bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe, Madiba die revolusionêr, Madiba die lang dienende gevangene,” het Zuma gesê.

“Ons moenie net fokus op Madiba die eerste president van ‘n demokratiese Suid-Afrika wat ANC-beleid van rekonsiliasie en transformasie geïmplementeer het nie.”

Mandela het Donderdag sy sesde dag in ‘n hospitaal in Pretoria deurgebring.

Zuma het Woensdag gesê hy reageer goed op die medikasie wat hy ontvang.

Die kabinet het Donderdag die land verseker dat oudpres. Nelson Mandela die beste mediese behandeling ontvang.

Mandela is Saterdag in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem met ‘n herhalende longinfeksie.

“Die kabinet is bly dat hy goed reageer op behandeling en benadruk die versoek vir die media en publiek om die privaatheid van die voormalige president se familie te respekteer,” lui ‘n verklaring wat ná die kabinet se tweeweeklikse vergadering uitgereik is.

Mandela is al ses keer sedert Januarie 2011 in hospitale in Johannesburg en Pretoria behandel.

SA dra volle koste van bi-laterale ontplooiings

Die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Sentraal Afrikaanse Republiek (SAR) sedert 2009, het Suid-Afrika R166,2 miljoen gekos. Dit blyk uit die antwoord van die minister van Verdediging en Militêre Veterane, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, aan Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus in die parlement.

“Die werklikheid is dat die belastingbetalers se geld in die SAR gemors was, aangesien die SANW daaruit moes onttrek en nie die bi-laterale ooreenkoms kon nakom nie. Die minister het verklaar dat slegs sowat 25 lede van die SANW in die SAR teenwoordig was tot in 2012. Dit beteken R6,648 miljoen per lid was spandeer. Hierdie geld kon eerder spandeer gewees het aan die aankoop van nuwe toerusting en opleiding van soldate binne Suid-Afrika,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Verdediging van die Vryheidsfront Plus.

Volgens die minister het Suid-Afrika vier bi-laterale ooreenkomste op militêre gebied in Afrika gesluit wat gesamentlik sedert 2009 Suid-Afrika R471,8 miljoen gekos het. Die verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in 2011 en 2012 het die SANW R117 miljoen (R116 998 778) gekos, waarvan R100 miljoen terug ontvang is. Die patrollering van die Mosambiekse kanaal teen seerowery beloop tot einde 2012 R150,85 miljoen.

“Behalwe operasie Senoko in die RDK-verkiesing, moet die verdedigingsbegroting die volle koste dra vir die bi-laterale ooreenkomste. Hierdie is bi-laterale ooreenkomste en nie verpligtinge in terme van die Afrika-Unie of Verenigde Nasies nie. Dit veroorsaak dat die toerusting en opleiding van die SANW binnelands nie sy verpligtinge behoorlik kan nakom nie. Van hierdie gelde sou beter aangewend kon word vir byvoorbeeld grensbeheer in Suid-Afrika,” het Groenewald gesê.

Twee Waterkloof-aangeklaagdes moet weer tronk toe!

Beeld berig dat twee lede van “die sogenaamde Waterkloof-vier wat 18 maande gelede onder korrektiewe toesig uit die tronk vrygelaat is”, gister beveel is om op 10 Julie vir voortgesette tronkstraf aan te meld.

Drie regters van die hooggeregshof in Pretoria het tot dié slotsom gekom.

Beeld berig voorts dat “die hof Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk – wat elk net minder as drie en ‘n half jaar tronkstraf uitgedien het – beveel (het) om na die Zonderwater-tronk in Cullinan terug te keer om hul tronkstraf te hervat”.

Dié twee jong mans is elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis omdat hulle 12 jaar gelede in 2001 as skoliere ‘n onbekende swartman in ‘n Pretoriase park doodgeslaan het.

Die vader van Christoff Tiedt, het gister oor die uitspraak gesê: “Ons is stomgeslaan. Ons verstaan dit nie.”

Die Waterkloof-2 se prokureur, me. Jenny Brewis, sal eers die uitspraak bestudeer en sal regsadvies inwin voordat daar besluit word om daarteen te appelleer, al dan nie.

Sowel Tiedt as Van Schalkwyk werk reeds met allerlei verantwoordelikhede. Daarom het regter Hans Fabricius gister gesê dit sou “erg onbillik en onmenslik wees” om te verwag dat hulle dadelik vir tronkstraf moet aanmeld. Daarom word hulle ‘n maand lank gegun om reëlings te tref.

‘n Volle bank van drie regters het in die guns van die minister en die kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD) se aansoek beslis dat streeklanddros Peet Johnson van Pretoria se bevel op 15 Desember 2011 – waardeur die tronkstraf in korrektiewe toesig omgeskep is – tersyde gestel moet word.

Volgens die kommissaris het hy en die minister van korrektiewe dienste nie geweet van die paroolraad se omskeppingsaansoeke voor landdros Johnson nie en het dit daarom nie teengestaan nie. Daar mag slegs vyf jaar voor die einde van ‘n straftermyn aansoek om parool gedoen word, terwyl die twee se termyn tot 20 Februarie 2020 strek.

Die landdros was daarom nie by magte om die omskeppingsaansoeke aan te hoor nie.

Regter Fabricius het wel gemeen dat “die twee geskikte kandidate is vir die omskepping van hul tronkstraf in korrektiewe toesig op ‘n datum wat nie langer as vyf jaar voor hul vrylatingsdatum is nie”.

Hof besluit vandag oor Pretoria se straatname

Die hooggeregshof in Pretoria sal vandag besluit of die Tshwane metropolisie kan appèlleer teen ‘n hofbevel wat die verwydering van ou straatname verbied.

Die hofbevel is in April aan die burgerregtegroep Afriforum toegestaan.

In die hofbevel het regter Bill Prinsloo gelas dat die verwydering van ou straatname gestaak moet word hangende die uitslag van ‘n hersieningsproses.

Hy het die metroraad ook opdrag gegee om die ou straatname wat reeds verwyder is, terug te plaas.

Die Tshwane munisipaliteit het gister by die hof aansoek gedoen dat die hofbevel ter syde gestel word omdat dit meer as twee miljoen rand gaan kos om die ou name terug te plaas.

Afriforum sê daar kan nie teen ‘n tussentydse hofbevel geappèlleer word nie.

Staking by Lonmin dalk afgeweer

n Staking by Lonmin se myne is moontlik afgeweer nadat die mynmaatskappy nié ‘n stakingskennisgewing van die mynvakbond, AMCU ontvang het nie.

Die vise-president van die vakbond, Jeff Mthahmeme was ook onbewus dat so ‘n kennisgewing aan die mynbestuur oorhandig sou word.

Die myn se woordvoerder, Sue Vey het bevestig dat daar nog geen ooreenkoms met AMCU bereik is om dit as die meerderheidsvakbond by sy myne te verklaar nie.

AMCU het ook verskeie ander eise op die tafel geplaas. Vey sê die maatskappy is daartoe verbind om ‘n ooreenkoms te bereik wat in die beste belang van al sy werkers sal wees.

Die geskil is vir arbitrasie verwys en sal later die maand aangehoor word.

Adjunk-president Kgalema Motlanthe vergader môre met die Kamer van Mynwese en vakbonde in die mynbedryf.

ACDP-leier wil bedank, sê Malema kan koalisieregering help

Die leier van die ACDP, Kenneth Meshoe, gaan bedank uit die parlement, het SABC Woensdag berig.

“Dit is waar wat julle gehoor het, ek is van plan om volgende week uit die parlement te bedank,” het die ACDP-president aan die nasionale uitsaaier gesê.

“Die besonderhede sal volgende week Donderdag in ‘n mediakonferensie bekendgemaak word.”

Meshoe het sedert Suid-Afrika se onafhanklikheidswording in 1994 as ‘n lid van die parlement gedien.

Meshoe sê opposisiepartye staan ‘n beter kans om ‘n koalisieregering na die 2014 verkiesing te vorm as die voormalige ANC-Jeugliga-president, Julius Malema ‘n nuwe politieke party stig.

Meshoe het met die SAUK gepraat oor sy uittrede uit die parlement en oor opposisiepolitiek.

Hy sê Malema sal van die steun van die ANC wegneem met sy uitlatings oor ekonomiese bemagtiging en ekonomiese vryheid.

Volgens Meshoe sal Malema veral jong mense lok wat werkloos is.

Mandela se toestand onveranderd

Nelson Mandela sal na verwagting vir ‘n sesde dag in die hospitaal behandel word vir ‘n herhalende longinfeksie.

Pres. Jacob Zuma het Woensdag aan LP’s gesê Mandela reageer beter op behandeling.

Zuma het tydens ‘n debat in die Nasionale Vergadering gesê hy is “ná ‘n moeilike paar dae baie gelukkig met die vordering wat hy [Mandela] nou maak”.

Die 94-jarige Mandela is Saterdagoggend in ‘n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem. Sy toestand was sedertdien onveranderd.

Mandla Mandela, die voormalige president se kleinseun, het Woensdag gesê die familie waardeer die ondersteuning van Suid-Afrikaners en die wêreldwye gemeenskap.

Mandela se voormalige vrou, Winnie Madikizela-Mandela, het Woensdag kort ná 15:00 by die hospitaal opgedaag. Oomblikke later het Mandela se dogter, Makaziwe, by die hospitaal aangekom.

Vroeër die dag het Mandla, Ndaba, nog ‘n kleinseun, Mandela se vrou, Graca Machel, en sy dogter Zenani hom besoek.

Weermag op gereedheidsgrondslag vanweë Mandela

Beeld berig dat die weermag op 24 uur-bystand geplaas is en van die lugmag se vlugbemannings is gewaarsku om hul selfone te alle tye by hulle te hou terwyl die hele land asem ophou oor oudpres. Nelson Mandela.

Soldate is reeds toe Mandela sowat tien dae gelede begin siek word het, gewaarsku dat die weermag se gebeurlikheidsplan van krag is.

Die presiese bepalings van dié plan is egter “uiters geheim” geklassifiseer en word dus nié bekend gemaak nie.

Die geniekorps, wat gemoeid is met die inrig van geriewe en infrastruktuur, het reeds in die Oos-Kaap gehelp om die water- en elektrisiteitstoevoer na van die betrokke gebiede te help verbeter.

Volgens Beeld sal “nagenoeg 1 200 soldate betrokke wees indien Mandela se gesondheid ‘n keerpunt bereik.

Dié betrokkenheid sluit alles in van vlugte tot die ontvangs van BBP’s en seremoniële vertoon.”

1 Militêre Hospitaal het ook ‘n bystandkamer vir Madiba gereed, sou daar om een of ander rede ‘n behoefte ontstaan vir ‘n alternatiewe hospitaal as die Medi Clinic-harthospitaal in Pretoria waar hy tans versorg word.

Die weermag is in die Oos-Kaap besig met Oefening Shared Accord, ‘n oefening saam met die Amerikaanse weermag.

Na wat verneem word, kan die soldate wat dáárby betrokke is ook na Madiba se tuisdorp Qunu verskuif word om hulp te verleen as dáár ‘n behoefte sou ontstaan.

Uitgewers kan vou weens handboekbeleid

Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika het gewaarsku dat van sy lede hulle deure gaan moet sluit indien die departement van basiese onderwys voortgaan met ‘n herstrukturering van die handboek-verkrygingsproses.

Die departement beplan om die getal handboeke waaruit skole kan kies van 800 na agt per vak te verminder.

Die uitgewers sê dit sal ‘n negatiewe impak op maatskappye hê. Sommige skool beheerliggame het ook hulle kommer uitgespreek.

Die vereniging se uitvoerende direkteur, Mpuka Radinku sê hulle vrees ook dat dit volgende jaar kan lei tot vertragings in die aflewering van handboeke.

Malema sal aanstons nuwe politieke party loods

Julius Malema werk aan die loodsing van ‘n nuwe politieke party, volgens ‘n verslag.

The Star berig Malema het sy ondersteuners geraadpleeg met die oog op ‘n beweging wat “die herstel van die waardigheid van swart mense” sal bevorder asook die vermindering van ongelykheid tussen ryk en arm.

In ‘n onderhoud met die koerant, het die geskorsde ANC Jeugliga-leier gesê ‘n “forum” wat veg vir maatskaplike geregtigheid eerder as versoening en weer ‘n “aanslag teen wit manlike monopoliekapitaal” word in die vooruitsig gestel.

Dit sal druk vir die onteiening van grond sonder vergoeding, die nasionalisering van myne, en die begunstigdes van apartheid dwing om berou te toon “en op ‘n wyse te handel wat sê hulle betreur hul optrede”.

Malema het aan die koerant gesê dat korrupsie en die misbruik van openbare fondse is alledaags, terwyl die skuldiges vrygespreek word deur “mikro-bestuurde” ondersoeke.

Hy het besluit om met “radikale militante” in en buite die African National Congress “saam te kom en te praat oor hoe om ‘n alternatiewe platform” te organiseer.

“Ek dink ons ​​moet ‘n manier saam vind en besluit wat om te doen,” het Malema aan die koerant gesê.

“Ons is hier gemolesteer ek weier om terug te sit. Dit kan nie wees nie. En ek dink daar moet ‘n soort van ‘n aankondiging wees,” het hy gesê.

Malema het alle opposisiepartye as irrelevant beskryf en bygevoeg dat sy nuwe forum alternatiewe beleid sal voorsien.