Die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Sentraal Afrikaanse Republiek (SAR) sedert 2009, het Suid-Afrika R166,2 miljoen gekos. Dit blyk uit die antwoord van die minister van Verdediging en Militêre Veterane, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, aan Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus in die parlement.
“Die werklikheid is dat die belastingbetalers se geld in die SAR gemors was, aangesien die SANW daaruit moes onttrek en nie die bi-laterale ooreenkoms kon nakom nie. Die minister het verklaar dat slegs sowat 25 lede van die SANW in die SAR teenwoordig was tot in 2012. Dit beteken R6,648 miljoen per lid was spandeer. Hierdie geld kon eerder spandeer gewees het aan die aankoop van nuwe toerusting en opleiding van soldate binne Suid-Afrika,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Verdediging van die Vryheidsfront Plus.
Volgens die minister het Suid-Afrika vier bi-laterale ooreenkomste op militêre gebied in Afrika gesluit wat gesamentlik sedert 2009 Suid-Afrika R471,8 miljoen gekos het. Die verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in 2011 en 2012 het die SANW R117 miljoen (R116 998 778) gekos, waarvan R100 miljoen terug ontvang is. Die patrollering van die Mosambiekse kanaal teen seerowery beloop tot einde 2012 R150,85 miljoen.
“Behalwe operasie Senoko in die RDK-verkiesing, moet die verdedigingsbegroting die volle koste dra vir die bi-laterale ooreenkomste. Hierdie is bi-laterale ooreenkomste en nie verpligtinge in terme van die Afrika-Unie of Verenigde Nasies nie. Dit veroorsaak dat die toerusting en opleiding van die SANW binnelands nie sy verpligtinge behoorlik kan nakom nie. Van hierdie gelde sou beter aangewend kon word vir byvoorbeeld grensbeheer in Suid-Afrika,” het Groenewald gesê.
