Zuma herinner SA aan Mandela se ware nalatenskap

Nelson Mandela was nie net ‘n vriendelike ANC-lid nie, maar ‘n “ware Afrikaan”, het pres. Jacob Zuma Donderdag gesê.

Opposisiepartye moenie Mandela se nalatenskap verdraai nie en moet “eerlik en opreg” wees in hul waardering van hom, het hy gesê.

Mense skep ‘n oppervlakkige beeld van Madiba, het hy gesê.

“Hulle moet lief wees vir Madiba, die hoof-vrywilliger van die versetveldtog, Madiba die bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe, Madiba die revolusionêr, Madiba die lang dienende gevangene,” het Zuma gesê.

“Ons moenie net fokus op Madiba die eerste president van ‘n demokratiese Suid-Afrika wat ANC-beleid van rekonsiliasie en transformasie geïmplementeer het nie.”

Mandela het Donderdag sy sesde dag in ‘n hospitaal in Pretoria deurgebring.

Zuma het Woensdag gesê hy reageer goed op die medikasie wat hy ontvang.

Die kabinet het Donderdag die land verseker dat oudpres. Nelson Mandela die beste mediese behandeling ontvang.

Mandela is Saterdag in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem met ‘n herhalende longinfeksie.

“Die kabinet is bly dat hy goed reageer op behandeling en benadruk die versoek vir die media en publiek om die privaatheid van die voormalige president se familie te respekteer,” lui ‘n verklaring wat ná die kabinet se tweeweeklikse vergadering uitgereik is.

Mandela is al ses keer sedert Januarie 2011 in hospitale in Johannesburg en Pretoria behandel.

Maak 'n opvolg-bydrae