Die sogenaamde Economic Freedom Fighters het Ronald Lamola as ‘n “kortsigtige beroepsondersteuner” uitgekryt nadat Lamola Malema gekritiseer het.
“Lamola sal enigiets doen, insluitend diktators smeek vir sy persoonlike vryheid, en dus die saak vir ekonomiese vryheid in ons leeftyd opoffer,” het Floyd Shivambu, voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, in ‘n verklaring namens die EFF gesê.
“Mnr. Lamola moet basies sy mond hou, omdat nie weet waarvan hy praat nie en niemand neem hom in elk geval ernstig op nie.”
Shivambu het reageer op Lamola se uitlatings dat die jeug nie Julius Malema se voorgestelde nuwe politieke party moet ondersteun nie.
In ‘n onderhoud met The Star het Lamola gesê Malema se forum van “radikale militante” is niks minder as militante wat mislei word nie.
Lamola het Malema daarvan beskuldig dat hy die jeugliga se resolusies oor ekonomiese vryheid, wat in 2011 op die nasionale konferensie in Midrand aanvaar is, “gekaap” het.
Shivambu het op sy beurt gesê Lamola het weggedryf van dié resolusies en aangesluit by die koor van “neo-liberale hervormers”.
Hy het ook gewaarsku indien Lamola aanhoudend dié soort uitlatings gaan maak, sal die EFF hom “ontbloot” vir die verskeie “individuele onderhandelings en manewales” in die aanloop tot die ANC se nasionale konferensie in Mangaung verlede jaar.
Die jeugliga se nasionale uitvoerende komitee is vroeër vanjaar deur die ANC ontbind en vervang met ‘n nasionale taakspan.
