Mandela se toestand onveranderd

Nelson Mandela sal na verwagting vir ‘n sesde dag in die hospitaal behandel word vir ‘n herhalende longinfeksie.

Pres. Jacob Zuma het Woensdag aan LP’s gesê Mandela reageer beter op behandeling.

Zuma het tydens ‘n debat in die Nasionale Vergadering gesê hy is “ná ‘n moeilike paar dae baie gelukkig met die vordering wat hy [Mandela] nou maak”.

Die 94-jarige Mandela is Saterdagoggend in ‘n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem. Sy toestand was sedertdien onveranderd.

Mandla Mandela, die voormalige president se kleinseun, het Woensdag gesê die familie waardeer die ondersteuning van Suid-Afrikaners en die wêreldwye gemeenskap.

Mandela se voormalige vrou, Winnie Madikizela-Mandela, het Woensdag kort ná 15:00 by die hospitaal opgedaag. Oomblikke later het Mandela se dogter, Makaziwe, by die hospitaal aangekom.

Vroeër die dag het Mandla, Ndaba, nog ‘n kleinseun, Mandela se vrou, Graca Machel, en sy dogter Zenani hom besoek.

Maak 'n opvolg-bydrae