Hof besluit vandag oor Pretoria se straatname

Die hooggeregshof in Pretoria sal vandag besluit of die Tshwane metropolisie kan appèlleer teen ‘n hofbevel wat die verwydering van ou straatname verbied.

Die hofbevel is in April aan die burgerregtegroep Afriforum toegestaan.

In die hofbevel het regter Bill Prinsloo gelas dat die verwydering van ou straatname gestaak moet word hangende die uitslag van ‘n hersieningsproses.

Hy het die metroraad ook opdrag gegee om die ou straatname wat reeds verwyder is, terug te plaas.

Die Tshwane munisipaliteit het gister by die hof aansoek gedoen dat die hofbevel ter syde gestel word omdat dit meer as twee miljoen rand gaan kos om die ou name terug te plaas.

Afriforum sê daar kan nie teen ‘n tussentydse hofbevel geappèlleer word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae