Openbare verantwoordelikheid

Die Vrystaatse LUR vir Sport, Kultuur en Ontspanning, Dan Kgothule, verskyn eers vandag in die landdroshof nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy glo teen 235 Km per uur gery het. Hy is dus nog nie skuldig bevind nie, en die omstandighede, soos ‘n moontlike noodgeval, wat tot die voet in die hoek-voorval gelei het is dus nog nie bekend nie.

Dat opposisiepartye vra dat hy na behore gestraf word, is dus geen verrassing nie. Hy is immers ‘n openbare verteenwoordiger en moet as rolmodel optree. Boonop het die owerheid, as deel van sy veldtog om die padslagting oor Kerstyd hok te slaan, onder meer baie klem gelê op die slagspreuk: “Speed kills.”

Teen die agtergrond dat die ANC ‘n skoon administrasie beloof, en dat kader-ontplooiing aanstellings met voldoende meriete moet oplewer, is die vraag egter nie of Kgothule behoorlik gestraf moet word nie, maar of hy volgens internasionale konvensie hoegenaamd in sy pos kan aanbly.

Nie alleen kom dit voor asof ‘n swak voorbeeld gestel is nie, maar dat die LUR die regering en sy eie party se formele standpunt oor padveiligheid in die wind geslaan het.

Gaan Kgothule dus sy goedjies vat en self loop?

Of, indien nie, gaan Premier Ace Magashule nou in die aanloop tot die verkiesing wys dat praatjies oor skoon administrasie inderdaad skoon administrasie beteken?

Net te veel insidente duik op. Tot krediet, tree sommiges soos die ANC-woordvoerder Jackson Mthembu berouvol op. In ‘n ander geval is ‘n polisiehoë met die trekpas beloon omdat hy ‘n ANC-ringkop se vervolging op ‘n aanklag van beweerde dronkbestuur in die wiele gery het.

Die Vrystaat het ook sy kwota omstredenheid. Op die oomblik wag Vrystaters nog op die afloop van ‘n geval waar die burgemeester van Mangaung na bewering middernagtelik in ‘n ongeluk met ‘n ander voertuig betrokke was, maar toe na bewering deur ‘n senior munisipale amptenaar van die ongelukstoneel “gesteel” is, die tyd van die ongeluk aangepas is sodat dit heeltemal van die tyd wat ooggetuies aangegee het en in die ambulanslog ingevul is verskil, en boonop iemand anders as bestuurder aandui. Hierdie voorval sloer nou al gans te lank om opgeklaar te word.

Die Vrystaat is die provinsie waar op Limpopo na die minste wetstoepassing vir dronkbestur plaasvind – slegs 57 per 100 000 per jaar teenoor die landsgemiddeld van 128 per 100 000 en die Wes-Kaap se 292 per 100 000 per jaar. Boonop is die gemiddelde voertuigouderdom in die provinsie onder die hoogstes in die land. Die toestand van Vrystaatse paaie is gereeld in die nuus.

Dan word veel beter van ‘n LUR verwag.

что такое справка 086Фільчаков прокурор

2011: ‘n Tree na vryheid

Op die vooraand van 2011, ‘n jaartal wat ook ‘n wiskundige priemgetal is, heers groot opgewondenheid onder vele Afrikaners. Die algemene gevoel is dat die huidige stelsel van meerderheidstirannie, korrupsie, geweld en diskriminasie homself as onhoudbaar bewys het en dat verandering dus net om die draai lê.

Praag wil al ons lesers bedank vir hul getrouheid gedurende 2010, toe praag.co.za trouens ook sy tiende bestaansjaar gevier het. In die Dawid-en-Goliat-stryd wat ons voer om teen die groot mediagroepe om gehoor te word, is dit altyd goed om te weet dat daar nog nugterdenkende mense is wat nuus en kommentaar sonder ideologiese oogklappe waardeer.

Die keiser van die NSA is inderdaad kaal en ons kan nie langer gebluf word nie. Die hele bestel is verrot: grondwet, afskuwelike vlag, landswapen en al. Vanjaar vind daar ‘n munisipale verkiesing plaas, maar die logika van die rassesensus sal sorg dat die ANC weer met groot meerderhede herverkies word, wat korrupsie, wanbesteding en wanbestuur net nog verder sal bestendig.

Daar is slegs twee keuses: emigrasie of die vryheidstryd wat oor die afgelope weke en maande nuwe momentum verkry het. Verskeie internasionale voorbeelde soos Kosowo of die huidige onafhanklikheidsreferendum in Suid-Soedan toon dat ‘n volk wat oor die wil om vry te wees beskik, nie vir altyd oorheers kan word nie.

Onlangs het ‘n groep Praag-afgevaardigdes Orania besoek om dié gemeenskap wat reesds ‘n hoë mate van plaaslike outonomie en selfstandigheid geniet van naderby te leer ken. Hoewel Orania te ver van die huidige markte, infrastruktuur en ekonomiese aktiwiteit geleë is om snel te kon ontwikkel, het die dorp se moedige vooruitgang tog getoon dat Afrikaners deur selfwerksaamheid en veral saamstaan uit feitlik niks voorspoed en welvaart kan skep. Op die duur kan groot gebiede van Suid-Afrika só herwin en bevry word sodat ons sonder geweld of diefstal in vrede kan voortleef. Tydens die braaivleis langs die Oranjerivier op die vooraand van ons vertrek, het ons spontaan Afrikaanse volksliedere begin sing. Sarie Marais, Bobbejaan klim die berg, maar ook:

Die Hoogland is ons woning,
die land van son en veld,
waar woeste vryheidswinde waai
oor graf van meenge held.
Die ruimtes het ons siel gevoed,
ons kan g’n slawe wees,
want vryer as die arendsvlug,
die vlugte van ons gees.

[REFREIN]
Dis die tyd, dis die dag,
om te handhaaf en te bou.
Hoog die hart, hoog die vlag,
hoog Oranje-blanje-blou!
Ons gaan saam die donker toekoms in
om as een te sneuwel of oorwin,
met ons oog gerig op jou,
ons Oranje-blanje-blou!

online casino noтопкарго отзыв

2010 staan einde se kant toe

Baie kulture met hul wortels in die Christelike geloof het ‘n sinnetjie met variasies ontwikkel: “Geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwejaar.”

Baie is al geskryf oor die ontaarding van veral Kersfees, en nou word ook baie geskryf oor die herkoms van die Kerstyd.

Dit is ook ‘n besige tyd vir politieke ontleders. Wat is die belangrike punte wat die jaar sou kenmerk? ‘n Beskeie, nietige kommentator staan immers die kans om in die anale opgeteken te staan as die een wat ‘n nuwe verwikkeling raakgesien, en effektief genoeg “wolf – wolf!” geskree het dat daarvan kennis geneem word.

Wat gaan op politieke kommentators se “spyskaart” wees?

Politieke korrektheid sal stellig maak dat plaasmoorde nie die prominensie kry wat dit verdien nie, selfs nie in die jaar waarin dit groot internasionale aandag getrek het nie. Die moord op Eugene Terre’Blanche het dit immers internasionaal in rooi onderstreep. ‘n Belgiese burger, en daarna ‘n Kanadees burger, is in plaasmoorde vermoor, en het iets tot die internasionale karakter bygedra. ‘n Filantroop is vermoor en die mite dat dit weerwraak oor swak behandeling van plaaswerkers is, die nek ingeslaan. Toe is die tweejarige Willemientjie Potgieter saam met haar ouers vermoor. Sedertdien het nog minstens drie mense in plaasmoorde gesterf, en dit is nog ‘n hele skof voor die einde van die jaar.

Dit is ook die jaar waarin die liedjie, “Maak dood die Boere,” opslae gemaak het en die ANC appèl aanteken teen ‘n hofbesluit waarvolgens dit tot haatspraak verklaar is. Onlangse peilings bevestig dat tussengroepverhoudings in die land nie waffers is nie. Verskeie kunstenaars het onder skoot gekom oor hulle – moontlik lomp – die kwessie by die naam begin noem het.

Die uiteinde van die groot sokker is dat die land nou weet dat ‘n politieke wil misdaad kan temper, maar dat die kopseer van peperduur stadions al is wat oorgebly het omdat toegelaat is dat ‘n euforie in ‘n reuse babelas te verander.

Dit bly politiek inkorrek – in Suid-Afrika in elk geval – om na gebreke in die grondwet te verwys. Dit het wel breë gebruik geword om die praktiese neerslag van grondwetlike gebreke by die naam te noem, en die laaste paar maande was die voorste voorpraters van die goeie grondwet-mite aan die stillerige kant.

Die ANC se mediaplanne was die jaar ook groot nuus, en die persvryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense, het die ANC uiteindelik hard aangespreek, en toe die regering nie luister nie, die land vyf plekke op die internasionale persvryheidsindeks laat tuimel. Vroeër die jaar het Freedom House Suid-Afrika van persvrye land tot gedeeltelik persvrye land geherklassifiseer.

Ook van belang, is dat al hoe meer stemme opgaan oor die inkomstegaping in die land. Onder die meetbare lande is Suid-Afrika al ‘n paar jaar lank die land met die grootste inkomstegaping, maar waarnemers wat hierop en die implikasies gewys het, is tevore min of meer doodverswyg.

Dit is miskien te vroeg om te bepaal of die afstof van oorlede apartheid om huidige mislukkings te verklaar, ‘n nuwe histeriese dimensie gekry het. Wat egter duidelik is, is dat dit tot die polarisasie bydra – sommige meningsvormers wat weier om nog bagasie hieroor saam te dra, en ander wat woedend reageer hieroor – mense wat nog baie stamina het om hierdie dooie perd te gesel en te verwag ander moet meedoen.

Baie sake gaan ook soos die stokkies van aflosresiese na 2011 oorgegee word. Cope se warboel is een, verskeie sake teen Julius Malema, baie munisipaliteite wat meer aan sirkusse herinner, suur mynwater, en vele meer se afloop is nie in sig nie.

Mugabe se beergreep op die ANC lyk nog onaantasbaar.

Effens nuut is die planne met kommissies wat ingestel gaan word om oor nasionalisering en oor die toekoms van die provinsies te besin.

Wat die Afrikaner betref – daar gaan volop advies wees oor hoe om saam te staan. Hoe om die vloeibaarheid in die werklikheidstoneel ten beste te benut, waar om kruisies te trek.

игра для девочэклобановский александр игоревич класс

Plaasmoorde: Pleistertjie vir die eina

“Seblief, pleistertjie vir die eina.”

So het die tweejarige Anri van Rooyen gevra na sy deur dieselfde koeël wat haar pa verlam het, in die maag getref is. Haar ouers het eers besef sy is ook gewond toe sy die pleistertjie vra. Enkele dae later het Anri gesterf.

Nie ver van Heilbron waar Anri geskiet is nie, is die driejarige Willemien Potgieter, soos haar ma, van agter in die kop geskiet, na Willemien se pa met ‘n panga doodgeslaan, en vermoedelik met ‘n tuinvurk gesteek is.

Op die oomblik wag die ANC op die uitspraak van sy aansoek om te mag appelleer teen ‘n vroeëre hofbeslissing wat die ANC se liedjie, Maak dood die Boere, as haatspraak verbied het.

Volgens die jongste polisiestatistiek staan Suid-Afrika se amptelike moordkoers nou op 34,1 per 100 000 per jaar. nadat dit enkele jare gelede nog bo die 40 was. Die Mediese Navorsingsraad is al jare lank met die polisie haaks, en beweer dit is hoër.

Normaalweg word die moordkoers onder bruin mans in die Wes-Kaap van meer as 90 per 100 000 per jaar as die hoogste moordkoers onder ‘n identifiseerbare groep ter wêreld beskou. Volgens onlangse Interpol-gegewens is die moordkoers onder Suid-Afrikaanse kommersiële boere meer as drie keer hoër.

Sjinese steenkoolwerkers se werk word as die gevaarlikste werk ter wêreld beskou, met ‘n sterftesyfer van sowat 130 per 100 000 per jaar. Volgens sommige berekenings beloop die moordkoers op kommersiële boere en hul gesinslede ook in die orde van 130 per 100 000 per jaar, en moet werksverwante ongevalle nog bygereken word. Dit is dus heel moontlik dat kommersiële boere in Suid-Afrika minstens periodiek die gevaarlikste werk ter wêreld verrig.

‘n Syferspel kan egter nie naastenby die trauma weerspieël wat plaasaanvalle, soms met die mees ondenkbare wreedheid gepleeg is, op ’n betreklike klein, gehegte boeregemeenskap het nie. Die trauma word verdiep deur die besef van betreklike weerloosheid en isolasie.

Teen hierdie agtergrond sou verwag word dat minstens die ministeries van Landbou en van Polisie soos klokslag die boodskap helder sal tuisbring dat plaasaanvalle nie maar net in die breër statistieke kan verdrink nie. En allermins op gesanksioneerde doodslag neerkom. Die appèlaansoek, teen die agtergrond dat die ANC die skeiding tussen party en regering deur onder meer sy kaderontplooiingsbeleid verskraal hou die wesenlike gevaar in dat aanvalle op boere en hul gesinslede as nie ernstig verkeerd beskou kan word nie.

Die land se hemelhoë moordkoers hou dikwels met drank- en dwelmmisbruik verband, en baie dikwels het die slagoffers die moordenaars geken. Hierteenoor is plaasaanvalle feitlik uitsluitlik die werk van mense buite die vriendekring.

Pleistertjies teen die eina, soos om plaasaanvalle selektief voor sekere gehore by kongresse te veroordeel, gaan nie help nie. Die boodskap moet duidelik en konsekwent tuisgebring word.

play live casinoлобановский александр компромат

Tande vir die Openbare Beskermer

“Die nuwe Grondwet is die hoogste reg in die Republiek. Indien die Staat dus enigiets doen buite die voorskrifte daarvan, is dit wat gedoen is nietig in terme van die Grondwet.”

So het prof. Lourens du Plessis in die Wêreldspektrum se 1994 Boek van die jaar geskryf.

Baie mense het bitter baie van die grondwet verwag. Skeptisisme is onder meer afgemaak met verwysings na wigte en teenwigte. Benewens die ingeboude bepalings in die grondwet, is die howe met die grondwethof as finale arbiter waghonde oor die toepassing, terwyl ‘n rits instellings geskep en omskep is om as waghonde oor die grondwet se toepassing te dien. Die ombudsman is in die Openbare Beskermer omskep, terwyl instansies soos die Menseregtekommissie, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, Pansat en later die ook die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe ook tot stand gekom het. Die Ouditeur-generaal is ‘n voortsetting van die vorige bedeling.

Vroeg reeds het Pansat op die dilemma gewys: Dit het die staat self as die grootste oortreder van die grondwetlike taalregte beskryf. En Pansat was tandeloos om iets daaraan te doen.

Die Menseregtekommissie se doen en late word gekenmerk deur bewerings van rasse-bevooroordeeldheid wat moeilik weerlêbaar is. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het vroeg sy ingesteldheid getoon deur op belastingbetalerskoste toe te tree tot die grondwethofsaak wat tot die wettiging van aborsies op aanvraag gelei het. Hoe minder van die Kommissie gesê word wat veronderstel is om na die regte van minderheidsgroepe om te sien, hoe beter.

Die Ouditeur-generaal doen sy werk, en bring jaar vir jaar rillers aan die lig, maar dit inspireer skynbaar nie die owerhede om ernstig beter te presteer nie.

Die uitspraak van Walker versus City Council of Pretoria, waar die owerhede duidelik die grondwet oortree het deur verskillende gemeenskappe op rassegrondslag op verskillende maniere vir munisipale dienste aan te slaan, het dit boonop duidelik gemaak dat dit nie so eenvoudig is om bloot die owerheid se optrede as nietig in terme van die grondwet te aanvaar nie, soos wat ‘n mens uit prof. Du Plessis se stelling sou aflei nie. Die hof moet ongrondwetlike optredes van die staat eers nietig verklaar. En dis duur, en buite die meeste mense se bereik. Magsmisbruik is dus heel moontlik tot iemand met genoeg geld ‘n stokkie daarvoor steek.

Vir die gewone publiek is dit dus van die uiterste belang dat die grondwetlike meganismes goed moet werk, anders is die grondwet nie die papier werd waarop dit gedruk is nie.

Die Openbare Beskermer vind egter dat die owerheid en owerheidsinstellings hulle te veel ignoreer. So word die verontregte burgers wat hulle na die OB wend, in effek ook van hul grondwetlike regte gestroop. Nou word beplan om die OB van sanksie te voorsien om die owerheid te dwing om samewerking te verleen.

Ongelukkig bly die toets van doeltreffendheid steeds wat in die praktyk gaan gebeur. Met sake tot minstens 1996 onafgehandel is daar ongelukkig bedenkinge of die OB werklik in die posisie is om die vinger na ander verbrouers te wys. Boonop is daar binne hierdie waghondliggame ook gans te veel ruimte – in terme van die grondwet self – vir politieke aanstellings wat al uiters nadelig vir die land was.

Binne ‘n heterogene land wat as eenheidstaat funksioneer moet die grondwet self meer waterdig wees, en sy waghondliggame werklik onverbonde wees, soos al hoe meer akademici ook uitwys. Anders word hulle deel van die probleem.

En sal al hoe meer minderheidsgroepe soos vreemdelinge in hul eie land voel.

free 5 pound bet no depositДанильченко

Die soeke na en belang van die waarheid

Die mens reageer op sy persepsie van die werklikheid eerder as die werklikheid self. Boonop leer die bemarkingswetenskap dat baie potensiële kliënte hulle sal verset as hulle agterkom iemand probeer hulle beïnvloed.

Die gevolg is dat die metodes waarop instansies en politieke partye hul boodskap aan die publiek oordra, dikwels tot ‘n fyn kuns ontwikkel is.

Teen hierdie agtergrond maak die verslag van die Community Law Centre (CLC) van die UWK oor die impak die weerhouding van munisipale belasting deur belastingbetalkersverenigings interessante leesstof uit.

Uit die beriggewing klink dit meer of die CLC bekommerd is oor die impak op nasiebou, as die grondliggende oorsake dat mense hulle in desperaatheid tot hierdie stappe wend.

Die redes word wel aan die bod gestel, asook die probleem van swak kommunikasie. Dat persepsies oor die werklikheid egter ook ‘n belangrike rol speel, is duidelik.

Minder as ‘n week tevore het die Vrystaatse premier voor pres Jacob Zuma stoom afgegaan oor alles waarvoor apartheid geblameer kan, en moet word. Kaderontplooiing, waar ongekwalifiseerde mense in poste beland, is volens hom nie ‘n bydraende faktor tot die agteruitgang in dienslewering nie, omdat, volgens hom, daar in die vorige bedeling ook blankes sonder die toepaslike kwalifikasies in poste beland het.

Onder die stellings wat hy gemaak het, is dat die vorige bedeling swart mense verbied het om wetenskap en wiskunde te studeer. Ironies het die breedsprakige Julius Malema onlangs, in sy pleidooi vir die behoud van Medunsa, gesê het nie alles wat apartheid geskep het, is boos nie. Die vraag kan nou wel gevra word waar Medunsa swart mediese studente vandaan sou kon kry as swart mense nie toegelaat is om wiskunde en wetenskap te studeer nie.

Tog, enkele dae later, staan hierdie stelling van Magashule steeds onbetwis. Hy is wel oor ander aspekte van sy toespraak gestriem, soos dat blankes iets bloot kritiseer omdat dit swart is.

Die voorbeeld wat jaarliks in die media opduik, is dat die Soweto-skole-opstande uitgebreek het omdat swart skoliere verplig sou wees om hul skoolonderrig in Afrikaans te ontvang. Dit word jaarliks deur mense wat destyds by die swart onderwys betrokke was ontken, maar die persepsie oor die waarheid is besig om van so ‘n onbenulligheid soos feite en die waarheid maalvleis te maak.

Die CLC waarsku nou in sy verslag oor dienslewering dat die tweestryd tussen verengings en munisipaliteite die, soos dit gestel word, historiese rasse- en klasseverdeeldheid in die land kan vererger, tot nadeel van nasiebou.

Reeds in die tagtigerjare het die destydse president van die RGN, dr.Tsjaart van der Walt, gesê selfs die beste grondwet ter wêreld sal doodeenvoudig nie werk as die mense mekaar nie verstaan en begryp nie.

Die eenvoudige waarheid is dat as van die kliniese korrekte feite weggestap word, ongeag die motief, bied dit vastrapplek vir uiteenlopende persepsies. Dit kan uiters gevaarlik wees, soos die voorbeeld wat gereeld opduik oor motiverings vir pleknameveranderings, waar werklike feite soms gruwelik verongeluk word. Onlangs nog het die minister van Landbou in Rapport geskryf wit boere het histories 87 persent van landbougrond besit, en swart, bruin en Indiër saam 13 persent. Die werklikheid was dat die honderde duisende hektare bruin en Indiërgrond by die 87 persent getel is, en nie die 13 persent nie, soos ook staatsgronde, wildparke soos die Krugerwildtuin en vele meer.

Die aanvanklike vredesluiting tussen Unita en die MPLA het in duie gestort toe die MPLA die wedersydse vrede as ‘n MPLA-oorwinning hanteer het, en windmakerig oor hul sogenaamde oorwinning voor Unita-ondersteuners gespog het.

Wat Suid-Afrika betref, selfs die invoer van een persepsie in skoolleerplanne voorkom nie dat baie leerders toegang het tot ander persepsies en selfs die lastige feite nie – danksy betrokke ouers en inligtingsbronne soos die internet en boeke wat by baie woonhuise boekrakke vol staan. Geen grondwet gaan daardie gaping oorbrug nie.

игры для дивчатокФильчаков прокурор отзывы

ANC-adel

Die wye magte wat ‘n regeringshoof het om sy kabinet saam te stel, stel hom of haar in staat om die beste mense vir hierdie hoë ampte aan te stel. Dit gebeur egter nie altyd nie, omdat alliansies, vertrouensposisies, koalisiereëlings en vele meer ook ’n rol speel in die finale samestelling van ‘n land se hoof-uitvoerende liggaam.

Die staatkunde is dus gesaai van voorbeelde van onbekwame ministers wat skynbaar onaantasbaar was – wat reputasies vir verbreekte beloftes gehad het en selfs vir regerings ‘n liederlike klip in die maag geword het, maar skynbaar net mooi niks kon doen om die trekpas te kry nie.

Die kollig het pas weer op hierdie beginsel geval toe pres. Jacob Zuma ter wille van opgeskerpte dienslewering, soos hy dit gestel het, sy kabinet taamlik drasties aangepas het. Van die grootste loodswaaiers of duidelik onbekwames het die trekpas gekry, maar dat dit duidelik nie al norm was nie, blyk daaruit dat ook betreklik bekwames die deur gewys is, en ander wat bekend is vir onbekwaamheid, blykbaar onaantasbaar is.

Pres. Zuma het nogtans ‘n tradisie verbreek van waar uiters konserwatief met kabinetskommelings omgegaan is, en verleentheidwekkende ministers en dooie hout lang tye die land se ontwikkeling rysmier.

Dié tradisie het in 1994 met oud-pres. Nelson Mandela se kabinet beslag gekry. Van die insluitings in die kabinet was opsigtelike balanseertoertjies. In die eerste plek moes ruimte gemaak word vir die insluiting van persone uit die vorige bedeling wat in die regering van nasionale eenheid moes dien. Tweedens is mense ook uit ‘n ander, destyds, belangrike magsblok, die IVP ingesluit.

Daar was dadelik ‘n prys te betaal. Die departement van Binnelandse Sake sukkel steeds om die gevolge van sy eerste minister af te skud, terwyl nog ‘n IVP-portefeulje, Kuns en Kultuur, gou agtergekom het hoe die wind sou waai. Sommer met die eerste hersamestelling van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument se raad, het bekende kundiges nie die paal gehaal nie en is deur haas onbekende Zoeloes vervang.

Dit verg egter bietjie meer antropologiese kennis om nog ‘n aspek van ‘n post-1994-kabinetsamestelling te begryp. Bitter min is hieroor op skrif omdat die woord “tribalism” vir alle praktiese doeleindes vir die ANC ‘n vloekwoord is. Die impak hiervan is dus nie so opsigtelik nie.

Tog bly die impak daar, naamlik om ook so ver moontlik ministers aan te stel om die verskillende stamme in te bind. Hierdie mense kom dikwels uit die adelstand wat met die tradisionele huise verband hou. By die Zoeloes is daar danksy Tsjaka en Dingaan in effek net een koningshuis, maar by die Xhosas en Tswanas veel meer. Trouens, die skatryk Tswana-stam, die Bafokeng, lewer heelwat bruide op vir die koninklike families in ander, dikwels onverwante stamme. So word alliansies ingebind.

Baie van die Xhosa-sprekende elite kom uit dié adelstand, waaronder beide Mandela en sy vorige vrou, Winnie. Danksy staatstoelaes aan tradisionele huise het hierdie adel ook dikwels meer opvoedkundige geleenthede as ander gekry.

Met Zuma se verkiesing tot president het hierdie balanseertoertjie weens verskeie faktore onder druk gekom. Zuma het homself as a “100 % Zulu boy” beskryf, en spoedig was daar ‘n groot instroming van Zoeloes in hoë poste en ampte. Dit bly nie net by die hoogste politieke aanstellings nie, maar kolk dieper soos met die huidige bewerings oor aanstellings deur die nasionale polisiekommissaris.

Daar is egter ‘n perk en van die ou tradisionele Xhosa-greep op die ANC in die parlement is nog min oor.  Die ANC sal nie graag ‘n grootskaalse etniese drostery wil sien nie, en daarom sal die Sisulu’s as belangrike inbindfaktor onaantasbaar bly. Met die vorige verkiesing het die ANC inderdaad landswyd steun verloor, maar oorhoofs bestendig gebly weens ‘n 30 persent toename in steun uit die Zoeloe-wêreld, waar die IVP erg geknou is.

Of hierdie soort bestendigheid bekostig kan word, is ‘n goeie vraag. Suid-Afrika se onderwysstelsel spook steeds om die Bengu-spook af te skud, en is nou al by verskeie van sy bure agter.

лестницу вОлександр Васильович Фільчаков

Stropersmentaliteit

Terwyl dit gons oor die rekord-getal renosters wat vanjaar wilddiewe ten prooi val, word die land ook op ‘n ander terrein gestroop.

Die regering het onlangs ‘n verskerpte veldtog teen korrupsie aangekondig, en dit is gister deur die minister van Justisie bekend gestel. Dit geskied teen die agtergrond dat swendelaars skynbaar oor tyd R80 miljoen uit die Meester se voogdyfonds gesteel het. Die mees blootgesteldes van die gemeenskap is gewetenloos geteiken.

Al hoe meer kommentators meen korrupsie het in Suid-Afrika endemies geword. Volgens die South African Victim Survey is omkoopgeld al na raming van 5 % van die Suid-Afrikaanse bevolking geëis, maar meer kommerwekkend, altesaam 13 % van die bevolking word jaarliks regstreeks aan korrupsie blootgestel.

Teen dié agtergrond klink die regering se doelwit om teen 2014 jaarliks ‘n 100 skuldigbevindings teen korrupsie te behaal, en dat die Batebeslagleggingseenheid jaarliks R5 miljoen vir die staatskas moet herwin, na slegs ‘n kwart druppel aan die emmer. Hopeloos te min hopeloos te laat.

Kommentators is bowendien openlik uiters skepties of die politieke wil werklik aanwesig is om veral kaders met hul vingers in die heuningpot vas te trap. Die vraag bly eerder wie het iemand kwaad gemaak, as wat dit is wat hy verkeerd gedoen het.

Die gedagte om die name van bedrieërs, soos pedofiele, op ‘n lys te plaas is egter ‘n stap in die regte rigting. Ook hier gaan die regering voor ‘n groot toets kom – of sulke mense melaats gaan wees soos die bedoeling is, of omarm gaan word soos met Tony Yengeni en ander gebeur het.

Boonop het regstellende optrede by ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings die skuld gekry vir die swak vlakke van dienslewering. Dit was nie ‘n groep bitterbek blanke mans wat die beskuldigings gemaak het nie, maar mense soos prof. Adam Habib en prof. Steven Friedman. Besonder skerp taal is gebruik.

Ook wat dit betref, sal ‘n gesindheidsingesteldheid gevestig moet word. Op die oomblik word die land kort-kort geskud deur ‘n kader wat op een plek uitgevang is of so erg vasgebrand het dat hy verwyder moet word, net om te vind hy het is weer elders in net so ‘n sagte gekussingde stoel beland. Boonop word die taakspan van die minister wat dié munisipale herontplooiings hanteer, gelei deur ‘n voormalige munisipale bestuurder wat eers by Bronkhorspruit, en toe Plettenbergbaai, vasgebrand het.

online casinoФильчаков прокурор харьков

Die regbank

Dit lyk nie goed nie as ervare joernaliste op ‘n nasionale radioprogram hardop die vraag vra oor wat die Noord-Kaapse LUR, John Block, verkeerd gedoen het om vir bedrog aangekla te word.

Wat hy na bewering verkeerd gedoen het, is uit die klagstaat bekend, maar hier handel dit nie oor die meriete van die aanklagte nie. Dit handel oor die politieke wil om hom aan te kla. Op diéselfde radioprogram is immers nog name, onder meer van ‘n premier, genoem wat glo by net soveel of meer korrupsie betrokke is.

Iewers, so word gemeen, het Block, wat immers al lank vir die ANC ‘n blok aan die been is, iemand kwaad gemaak of op iemand se tone getrap.

Die onheilspul word verdiep deur die feit van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Menzi Simelane, se persoonlike betrokkenheid by dié verhoor.

Simelane is self omstrede, en die DA beplan nou om verlof tot appèl teen ‘n hooggeregshofbevinding waarin nie beslis kon word dat Simelane se aanstelling ongrondwetlik was nie. In die Hooggeregshof het die regter onder meer bevind dat dit sou blyk dat relatief oppervlakkige oorwegings vir sy aanstelling oorweeg is. Dit is algemene kennis dat Simelane instrumenteel was daarin dat die aanklagte teen pres. Jacob Zuma self laat vaar is.

Die juridiese is duidelik nie al terrein waarop die Block-vervolging hom afspeel nie. Die ANC-jeugliga het met ‘n siedende verbale aanval op Simelane losgetrek, en is deur die ANC aangespreek hieroor. Vir die jeugliga is Block se onskuld of nie skynbaar van geen belang nie, wat ewe onheilspellend is.

Boonop kom Block se teenspoed teen die agtergrond van waar die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi, eers teenspoed gekry het toe die koppe van sy politieke beskermlinge gerol het.

Een van die hoekstene van ‘n gevorderde demokrasie is die onafhanklikheid van die regbank. Hiervoor is die howe baie afhanklik van ‘n onafhanklike vervolgingsgesag. Trouens, dit is nie onderhandelbaar nie. Om die regbank, al is dit op ’n selektiewe skaal, te gebruik om van opponente ontslae te raak tas nie net die wese van ‘n regbank geskoei op die beginsels van regverdigheid, gelykheid voor die gereg en natuurlike geregtigheid aan nie, dit is magsmisbruik, al is dit baie gesofistikeerde magsmisbruik.

Dit kom boonop teen die agtergrond van ‘n minder gesofistikeerde aanslag teen mediavryheid, nog ‘n hoeksteen van demokrasie. Die jongste planne van die ANC in dié verband het SA met vyf plekke op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks, terwyl Freedom House Suid-Afrika reeds vroeër tot land wat net gedeeltelik persvry is, verklaar het.

ценаОлександр Фільчаков прокурор

Polarisasie

Suid-Afrikaners sal onthou hoe minister Lulu Xinwana, destyds minister van Landbou, op Kerkplein in ‘n toespraak losgetrek het teen wit boere wat hul werkers so mishandel. Uiteindelik het dit geblyk dat sy ‘n enkele voorval in die Wes-Kaap gaan veralgemeen het. Boonop het dit nog later geblyk dat die voorval deur die Onafhanklike Klagtedirektoraat ondersoek was, en die bewerings as vals bevind het. Dié verslag was toe lank reeds aan die regering bekend, en tot die minister se beskikking.

Pres. Jacob Zuma het skaars sy nuwe kabinet aangekondig, of die boere- en Boere-bashing word ongesteurd voortgesit. En weereens word persepsies wat in sekere kringe gevoed word, as feite opgedis.

Aan die spits staan die adjunk-minister van Justisie, Maggie Sotyo. Onder haar tirade deur het sy stellings gemaak dat die regbank nog meestal blank is, en bevooroordeeld teenoor swart Suid-Afrikaners is. In werklikheid is blankes op die regbank volgens amptelike syfers in die minderheid. Die saak wat sy as voorbeeld oprakel dat blankes ligter as swart mense gestraf word, het nog nie ‘n vonnis opgelewer nie.

Sy is uit verskeie oorde, soos TLU SA, gestriem, terwyl die lysie van partye en instansies wat dawerend swyg, ook onheilspellend lank is.

Nog ‘n minister wat tender om polarisasie aan te blaas is mnr. Fikile Mbalula van Sport. Kort op die stekelrige bohaai oor ABSA en transformasie in rugby, bestyg hy dieselfde perd, deur rugby uit te sonder. Hy meld wel dat kwotas nie werk nie, en dat transformasie – teen die agtergrond van die ABSA-debakel – laat vaar en tot ras vereenvoudig is. Die kwessie van velkleur op die veld staan egter steeds.

Soos gebruiklik sal sportondersteuners daarop wys dat sokker dan ook nie getransformeer is nie weens die bykans volledige afwesigheid van wit en Indiërspelers op nasionale vlak, Trouens, selfs op ander senior vlakke is wit spelers so skaars soos hoendertande. Met veldlope, padwedlope en die langer afstande op die atletiekbaan speel min of meer dieselfde scenario hom af, en ‘n gebrek aan geleenthede vir nie-swart deelnemers kan kwalik die skuld hiervoor kry.

Verskillende mense het verskillende talente. Om ter wille van politieke inmenging hieraan te torring is in niemand se belang nie.

Mbalula is wel op die regte spoor oor die kwessie van ontwikkeling van geriewe en geleenthede.

www slots gamesФильчаков

Kultuurimperialisme en die jeug

Afriforum Jeug se reaksie op die ANC-jeugliga se aandrang dat pres. Paul Kruger se standbeeld van Kerkplein verwyder word, en deur een van Chris Hani, omring van MK—lede vervang word, fokus op die kwessie van waar die vlakke van polarisasie in die land, en in besonder, die jeug staan.

Op dieselfde dag as waarop Afriforum Jeug op die Kerkplein-debakel reageer, het dié organisasie ook ‘n klag van haatspraak teen Sasco gaan lê oor ‘n plakkaat met bedenklike inhoud. (Teks hieronder).

Voeg daarby dat die ANC-Jeugliga in dieselfde asem die kwessie van Pretoria se naam op die spits wil dryf.

Dit beklemtoon dat gesindhede in ‘n heterogene samelewing nie deur wetgewing en selfs die grondwet gewaarborg kan word nie. Die talle klagtes van haatspraak wat al gelê is, te midde van ‘n stroom aansprake van nog veel meer wat nie bereg word nie, versterk dié opvatting.

Daar word graag gespog oor hoe die nuwe generasie – die post apartheid-generasie – ‘n voorbeeld vir die ouer generasie stel van hoe tussengroep-verhoudings moet werk. Word egter na sake soos hierdie gekyk, lyk die prentjie taamlik anders. Dit lyk eerder of die polarisasie op minstens sekere terreine onder die jeug aan die verdiep is.

Om ‘n alternatiewe geskiedenis as die werklikheid op te dis los nie probleme op nie. Dit verskuif gewoon die grense waarlangs die loopgrawe gegraaf word. Dit word gevoed deur die persepsies wat ongehinderd toegelaat word om te ontwikkel, en wat al te dikwels met feite niks te make het nie. Persepsies slaan selfs in wetgewing neer, soos regstellende aksie (wat in Suid-Afrika die karakter van affirmative action aangeneem het waarvoor die grondwet nie voorsiening maak nie) en transformasie. Onlangse gebeure onderstreep hoe hartlik siek die transformasieslagoffers en ander mense met selfrespek vir dié gogga is. Die boodskap uit senior regeringskringe is egter dat affirmative action en transformasie nog lank – selfs onbepaald – met ons gaan wees, wat in die praktyk beteken dat voortgesette diskriminasie sekere mense se voorland gaan bly.

Dit word verdiep wanneer die proses in kultuurimperialisme oorloop. Dié kultuurimperialisme is boonop nie deur ‘n werklike kultuur onderlê nie, maar ‘n kultuurkarikatuur van die kulture waaruit dit ontwikkel het. Baie onstabiliteit en uitrafeling, kom gewoonlik voor wanneer kultuur in transito is. Onder die newe-produkte, in baie lande, is die ontstaan van ‘n sogenaamde subkultuur van bandeloosheid wat weer ‘n subkultuur van geweld voed. Juis hierdie aspek is pas in die parlement bespreek, en is hard probeer om ter wille van politieke korrektheid die probleem te ontken.

Die vraag is egter: Presies waar op die kultuur-barometer kan enigeen die plakkaat se inhoud hieronder plaas? Daar kan nie maar aangevoer word dat dit aan ‘n paar heethoofdige snotkoppe toegeskryf moet word nie – Sasco as organisasie het botweg geweier om hom hiervan te distansieer en die ANC self swyg dawerend hieroor.

Intussen gaan al hoe meer stemme vir ‘n volkstaat of die behoorlike beskerming van minderheidsregte op. Durf iemand regtig verbaas te wees?

“A vote for SASCO is a vote for ANC and

a vote for anc [sic] is a vote for Julius

MALEMA

“One Boer one bullet”

Viva Julius malema [sic] viva!!!

Students please vote for SASCO 100%

BLACKS ONLY ORGANISATION

(STRICTLY SOUTH AFRICANS)

Amandla!!” (Siek)

игрушка лунтиклобановский александр жена

Fisiologie van misdaad

Dit is dié week internasionaal bedrogweek. ‘n Internasionale instansie van gesertifiseerde bedrogondersoekers meen tot 5 % van ondernemings wêreldwyd se omset word deur bedrog gesteel. Met ‘n bekende politieke kommentator wat dié week hardop gemeen het korrupsie in Suid-Afrika het endemies geword, sou dit glad nie onvanpas wees dat Suid-Afrika bietjie hierop fokus nie. Trouens, volgens die jongste polisiestatistiek het bedrog in Suid-Afrika vinnig toegeneem te midde van ‘n afname in baie misdaadkategorieë.

In Suid-Afrika val die fokus dié week egter elders – die gewelddadige aard van misdaad hier te lande, en ‘n walgooiery uit regeringsgeledere hieroor.

Die grondslag vir hierdie fokus is ‘n verslag van die Sentrum van Geweld en Versoening wat 18 maande na dit voltooi is, in die parlement bespreek word.

Van die kant van die polisiesekretariaat word aangevoer dat die vlakke van geweld in misdaad in Suid-Afrika nie uitsonderlik is nie. Suid-Afrika vergelyk goed met lande soos Jamaika, Meksiko en Columbia.

Die Sentrum voer weer aan dat ‘n moordsyfer van 16 000 per jaar die boodskap onomwonde stel.

Om Meksiko en Columbia as voorbeelde te gebruik, is kwalik gerusstellend. Hierdie lande het te kampe met magtige dwelmkartelle waar menselewens nie ‘n halwe tiekie werd is nie. Veral Meksiko kom gereeld in Verslaggewers sonder Grense se verslae aan die bod weens die skrikbewind wat dwelmbase teen joernaliste voer wat durf waag om in hul bedrywighede te krap.

Boonop is moord nie die enigste vorm van geweldsmisdaad nie. Suid-Afrika is die verkragting-hoofsetel (capital) van die wêreld. Volgens die polisiestatistieke is die amptelike verkragtingskoers in Suid-Afrika 138 per 100 000 per jaar. Welsynsinstansies meen die amptelike syfer moet met tussen tien en 30 maal vermenigvuldig word om die werklike verkragtingskoers te bepaal. Voeg hierby dat Suid-Afrika se hemelhoë MIV-Vigs-besmettingsyfer maklik vir iemand wat nie betyds anti-retrovirale behandeling kry nie, ‘n doodsvonnis kan beteken en die erns raak duidelik. Dat die meeste verkragtings binne gesinsverband plaasvind en dat die herhaalde verkragting van dieselfde slagoffer die syfer opjaag is niks minder ontstellend nie.

Voeg nog hierby die gevalle van aanranding met die opset om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede, huisrooftogte, poging tot moord, strafbare manslag en kindermishandeling en sake lyk sleg.

Die Sentrum se doodsonde was skynbaar om na ‘n kultuur of subkultuur van geweld te verwys, en dit onder meer na aspekte soos bendebedrywighede te herlei. In die proses het die Sentrum kwalik die gravitasieteorie ontrafel, dit word gewoon in provinsiale moordsyfers en verkragtingsyfers weerspieël soos in die Wes-Kaap en Noord-Kaap.

Die polisiesektretariaat skram weg van ‘n verpolitisering van misdaad, en die koppeling daarvan aan spesifieke bevolkingsgroepe. Terwyl die statistieke waarskynlik ou bekende faktore reflekteer soos dat die moordsyfer onder bruin mans in die Wes-Kaap as die hoogste onder ‘n identifiseerbare groep ter wêreld gereken word, naamlik meer as 90 per 1000 000 per jaar teenoor die land se gemiddeld van ongeveer 30 per 100 000 per jaar – juis weens die bendebedrywighede, is die regering se fokus waarskynlik meer gerig op die statistieke vir plaasmoorde. Volgens Interpol is die moordsyfer onder boere tot 300 per 100 000 per jaar, en dit kan nie aan ‘n moordery onder mekaar, of dronknes-bakleiery toegeskryf word nie.

‘n Walgooiery oor syfers wat stereotipes en polarisering tot gevolg het kan moontlik verstaan word, maar dan maak dit nie sin dat vanuit dieselfde geledere dawerend geswyg word wanneer Sasco rassistiese plakkate met haatspraak vertoon nie. Dan maak dit nie sin dat die ANC appèl aanteken teen ‘n hofbeslissing wat die liedjie, “Skiet dood die Boere” tot haatspraak verklaar het nie.

‘n Belangrike oorweging is of ‘n probleem by die wortels aangespreek kan word as die simptome so verpolitiseer word dat die fisiologie daarvan verdoesel word.

влагостойкие светильники для ваннойФільчаков Олександр Васильович

Met ‘n Aprilgek-grap gevang?

Op 1 April vanjaar het die regering litigasie vrygespring deur ‘n ooreenkoms met Vrystaat Landbou te onderteken. Aan die hart van hierdie ooreenkoms was ‘n onderneming dat veral die Lesothogrens voldoende beskerm sal word sodat landboubedrywighede in vrede, en veilig voortgesit kan word.

Na ‘n volgehoue stroom vee- en weidingdiefstalle en selfs lewensverlies, is verskeie grensboere al in die media aangehaal dat daar van die regering se ondernemings dadels gekom het.

Dit is blykbaar so endemies dat veld selfs aan die Vrystaatkant aan die brand gesteek word sodat vee uit Lesotho later op die groen uitloopsels kan kom wei.

Een van die verdagtes wat aangekeer is in verband met die verkragting van ‘n dokter in Bloemfontein se Pelenomi-hospitaal is ‘n sestienjarige Lesothoburger wat hom skynbaar moeiteloos in Suid-Afrika kom vestig het. Ook hier het die regering nie te alle tye met die nodige sorg gereageer nie, en die LUR vir Gesondheid is erg gestriem omdat sy nie ‘n krisisvergadering oor veiligheid in die hospitaal bygewoon het nie.

Onder die staatkundige begrippe wat politieke wetenskaplikes gebruik, is dié waar die burgery van ‘n land en die regering ‘n sosiale kontrak sluit. Dié kontrak behels onder meer dat die staat verantwoordelikheid vir die veiligheid van sy burgers waarborg. Kabinetslede lê ook ‘n eed af vir die instandhouding van die grondwet.

Voorts bepaal internasionale demokratiese konvensie dat ‘n regering in algemene belang sal regeer, nie net in belang van die regerende party se ondersteuners nie – of dan in belang van ‘n buurland se burgers se roofsug nie.

Dit sluit ook in dat die staat streng teen korrupsie sal optree omdat, in die woorde van die Wêreldbank, korrupsie ‘n land van sy toekoms beroof.

Selfs al is daar geen kwade bedoelings by die wyse waarop die regering sy ooreenkoms met Vrystaat Landbou eerbiedig nie, kan die regering nie sy verantwoordelikhede ontsnap nie. Doeltreffende regering word bewerkstellig deur kundigheid en ‘n ingesteldheid tot dienslewering.

Word onbekwame kaders egter ontplooi, is die skade net so groot of selfs groter as om skelm kaders te ontplooi. Kort voort lank staan die beste stuurlui deeglik aan wal, en as hul kantlynadvies geïgnoreer word, sal daar noodwendig ‘n mate van foutvindery ontstaan – ‘n doodgewone demokratiese reg en plig, wat nie deur die muilband van die media gesmoor durf word nie. Al hoe meer politieke waarnemers begin koppe tel namate die Zuma-kabinet in ‘n KZN-klub ontwikkel.

Behoorlike demokrasie beteken ook dat die owerheid nie onnodig in die burgerlike lewe inmeng nie – trouens, die staat se hooftaak wat dit betref is juis om ‘n veilige klimaat te skep waarbinne ekonomiese groei kan plaasvind.

Word na Suid-Afrika se posisie op internasionale indekse gekyk, veral die sogenaamde piesangrepublike-indeks, kan die vraag gevra word hoeveel van die sosiale en selfs juridiese kontrakte is by wyse van spreke op 1 April geteken?

no deposit bonusлобановский александр интервью

Wanneer korrupsie endemies word

“Suid-Afrika het die punt bereik waar korrupsie endemies geword het.”

Hierdie harde woorde is deur prof. André Duvenhage, bekende politieke kommentator van die Pukke op RSG se program, Kommentaar gebruik.

Dit staan in die konteks van die nuus dat die Britse Accountancy and Actuarial Discipline Board (AADB) weer met ‘n fyn kam na aspekte van die omstrede wapentransaksie kyk, en dat sowat ‘n miljard rand se omkoopgeld aan Suid-Afrikaners betaal is.

Dit volg kort nadat die hoof van die Valke, lt.genl Anwa Dramat aangekondig het die ondersoek na die transaksie is gestaak.

Aan die positiewe kant, tel die Noord-Kaapse LUR, John Block, se arrestasie as verdagte in korrupsie. Block was al lank vir die ANC ‘n Block aan die been met volgehoue bewerings dat sy lei nie skoon is nie. Hy is egter elke keer deur die ANC omarm, en nou ook het die ANC sy volle vertroue in Block herbevestig.

Om ‘n land te tipeer as een waar korrupsie endemies geword het, is nie maar bloot ‘n stelling nie. Dit het ‘n gelaaide betekenis, hoewel verskillende kenners nie dieselfde fynskrif daarby voeg nie. Dit behels meestal ‘n begrip waar ‘n staat nie meer funksioneer sonder dat gunslone, hanteringsfooie, tsjôtsjô, koeldrankgeld of welke eufemisme gebruik word, ‘n rol speel nie. Dit dra in wese die kenmerke van ‘n disfunksionele staat.

Die staat se erns om korte mette te maak met hierdie euwel, wat deur die Wêreldbank as die diefstal van ‘n land se toekoms beskryf word, word ook gebruik om te bepaal of ‘n land disfunksioneel is, of nie. In hierdie opsig stuur Suid-Afrika ongelukkig ‘n gemengde boodskap uit. Dikwels word die indruk geskep dat verkeerdheid van die daad eerder afhang van die politieke kamp waarin iemand verkeer as die omvang van die korrupsie waarby iemand betrek word.

Korrupsie en morele verval is ten nouste verweef, en teen dié agtergrond is dit onrusbarend dat pres. Jacob Zuma reeds aangedui het dat hy ‘n debat oor die herdefiniering van moraliteit voorstaan. As agtergrond het hy gemeld dat een deel van die bevolking gif spoeg oor korrupsie oor sake wat ‘n ander deel nie as verkeerd beskou nie.

Waarskynlik die sterkste wapen teen korrupsie is ‘n knap media in ‘n omgewing van afdoende persvryheid. Ook hier begin die spoke loop.

Skoor het intussen ook aangedui dat die Valke op die rooi tapyt is oor sy besluit om die wapenondersoek in die doofpot te plaas.

As daar dan gemengde seine moet wees, moet die land duime vashou dat die regte boodskap die botoon gaan voer.

Volgens aanduidings gaan die Britse ondersoek nou name oplewer. Dit sal al ‘n belangrike stap wees. Die regering se reaksie op hierdie onthullings word afgewag.

справка освобождениелобановский супермаркет класс