“Suid-Afrika het die punt bereik waar korrupsie endemies geword het.”
Hierdie harde woorde is deur prof. André Duvenhage, bekende politieke kommentator van die Pukke op RSG se program, Kommentaar gebruik.
Dit staan in die konteks van die nuus dat die Britse Accountancy and Actuarial Discipline Board (AADB) weer met ‘n fyn kam na aspekte van die omstrede wapentransaksie kyk, en dat sowat ‘n miljard rand se omkoopgeld aan Suid-Afrikaners betaal is.
Dit volg kort nadat die hoof van die Valke, lt.genl Anwa Dramat aangekondig het die ondersoek na die transaksie is gestaak.
Aan die positiewe kant, tel die Noord-Kaapse LUR, John Block, se arrestasie as verdagte in korrupsie. Block was al lank vir die ANC ‘n Block aan die been met volgehoue bewerings dat sy lei nie skoon is nie. Hy is egter elke keer deur die ANC omarm, en nou ook het die ANC sy volle vertroue in Block herbevestig.
Om ‘n land te tipeer as een waar korrupsie endemies geword het, is nie maar bloot ‘n stelling nie. Dit het ‘n gelaaide betekenis, hoewel verskillende kenners nie dieselfde fynskrif daarby voeg nie. Dit behels meestal ‘n begrip waar ‘n staat nie meer funksioneer sonder dat gunslone, hanteringsfooie, tsjôtsjô, koeldrankgeld of welke eufemisme gebruik word, ‘n rol speel nie. Dit dra in wese die kenmerke van ‘n disfunksionele staat.
Die staat se erns om korte mette te maak met hierdie euwel, wat deur die Wêreldbank as die diefstal van ‘n land se toekoms beskryf word, word ook gebruik om te bepaal of ‘n land disfunksioneel is, of nie. In hierdie opsig stuur Suid-Afrika ongelukkig ‘n gemengde boodskap uit. Dikwels word die indruk geskep dat verkeerdheid van die daad eerder afhang van die politieke kamp waarin iemand verkeer as die omvang van die korrupsie waarby iemand betrek word.
Korrupsie en morele verval is ten nouste verweef, en teen dié agtergrond is dit onrusbarend dat pres. Jacob Zuma reeds aangedui het dat hy ‘n debat oor die herdefiniering van moraliteit voorstaan. As agtergrond het hy gemeld dat een deel van die bevolking gif spoeg oor korrupsie oor sake wat ‘n ander deel nie as verkeerd beskou nie.
Waarskynlik die sterkste wapen teen korrupsie is ‘n knap media in ‘n omgewing van afdoende persvryheid. Ook hier begin die spoke loop.
Skoor het intussen ook aangedui dat die Valke op die rooi tapyt is oor sy besluit om die wapenondersoek in die doofpot te plaas.
As daar dan gemengde seine moet wees, moet die land duime vashou dat die regte boodskap die botoon gaan voer.
Volgens aanduidings gaan die Britse ondersoek nou name oplewer. Dit sal al ‘n belangrike stap wees. Die regering se reaksie op hierdie onthullings word afgewag.
