“Die nuwe Grondwet is die hoogste reg in die Republiek. Indien die Staat dus enigiets doen buite die voorskrifte daarvan, is dit wat gedoen is nietig in terme van die Grondwet.”
So het prof. Lourens du Plessis in die Wêreldspektrum se 1994 Boek van die jaar geskryf.
Baie mense het bitter baie van die grondwet verwag. Skeptisisme is onder meer afgemaak met verwysings na wigte en teenwigte. Benewens die ingeboude bepalings in die grondwet, is die howe met die grondwethof as finale arbiter waghonde oor die toepassing, terwyl ‘n rits instellings geskep en omskep is om as waghonde oor die grondwet se toepassing te dien. Die ombudsman is in die Openbare Beskermer omskep, terwyl instansies soos die Menseregtekommissie, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, Pansat en later die ook die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe ook tot stand gekom het. Die Ouditeur-generaal is ‘n voortsetting van die vorige bedeling.
Vroeg reeds het Pansat op die dilemma gewys: Dit het die staat self as die grootste oortreder van die grondwetlike taalregte beskryf. En Pansat was tandeloos om iets daaraan te doen.
Die Menseregtekommissie se doen en late word gekenmerk deur bewerings van rasse-bevooroordeeldheid wat moeilik weerlêbaar is. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het vroeg sy ingesteldheid getoon deur op belastingbetalerskoste toe te tree tot die grondwethofsaak wat tot die wettiging van aborsies op aanvraag gelei het. Hoe minder van die Kommissie gesê word wat veronderstel is om na die regte van minderheidsgroepe om te sien, hoe beter.
Die Ouditeur-generaal doen sy werk, en bring jaar vir jaar rillers aan die lig, maar dit inspireer skynbaar nie die owerhede om ernstig beter te presteer nie.
Die uitspraak van Walker versus City Council of Pretoria, waar die owerhede duidelik die grondwet oortree het deur verskillende gemeenskappe op rassegrondslag op verskillende maniere vir munisipale dienste aan te slaan, het dit boonop duidelik gemaak dat dit nie so eenvoudig is om bloot die owerheid se optrede as nietig in terme van die grondwet te aanvaar nie, soos wat ‘n mens uit prof. Du Plessis se stelling sou aflei nie. Die hof moet ongrondwetlike optredes van die staat eers nietig verklaar. En dis duur, en buite die meeste mense se bereik. Magsmisbruik is dus heel moontlik tot iemand met genoeg geld ‘n stokkie daarvoor steek.
Vir die gewone publiek is dit dus van die uiterste belang dat die grondwetlike meganismes goed moet werk, anders is die grondwet nie die papier werd waarop dit gedruk is nie.
Die Openbare Beskermer vind egter dat die owerheid en owerheidsinstellings hulle te veel ignoreer. So word die verontregte burgers wat hulle na die OB wend, in effek ook van hul grondwetlike regte gestroop. Nou word beplan om die OB van sanksie te voorsien om die owerheid te dwing om samewerking te verleen.
Ongelukkig bly die toets van doeltreffendheid steeds wat in die praktyk gaan gebeur. Met sake tot minstens 1996 onafgehandel is daar ongelukkig bedenkinge of die OB werklik in die posisie is om die vinger na ander verbrouers te wys. Boonop is daar binne hierdie waghondliggame ook gans te veel ruimte – in terme van die grondwet self – vir politieke aanstellings wat al uiters nadelig vir die land was.
Binne ‘n heterogene land wat as eenheidstaat funksioneer moet die grondwet self meer waterdig wees, en sy waghondliggame werklik onverbonde wees, soos al hoe meer akademici ook uitwys. Anders word hulle deel van die probleem.
En sal al hoe meer minderheidsgroepe soos vreemdelinge in hul eie land voel.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.