Die Vrystaatse LUR vir Sport, Kultuur en Ontspanning, Dan Kgothule, verskyn eers vandag in die landdroshof nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy glo teen 235 Km per uur gery het. Hy is dus nog nie skuldig bevind nie, en die omstandighede, soos ‘n moontlike noodgeval, wat tot die voet in die hoek-voorval gelei het is dus nog nie bekend nie.
Dat opposisiepartye vra dat hy na behore gestraf word, is dus geen verrassing nie. Hy is immers ‘n openbare verteenwoordiger en moet as rolmodel optree. Boonop het die owerheid, as deel van sy veldtog om die padslagting oor Kerstyd hok te slaan, onder meer baie klem gelê op die slagspreuk: “Speed kills.”
Teen die agtergrond dat die ANC ‘n skoon administrasie beloof, en dat kader-ontplooiing aanstellings met voldoende meriete moet oplewer, is die vraag egter nie of Kgothule behoorlik gestraf moet word nie, maar of hy volgens internasionale konvensie hoegenaamd in sy pos kan aanbly.
Nie alleen kom dit voor asof ‘n swak voorbeeld gestel is nie, maar dat die LUR die regering en sy eie party se formele standpunt oor padveiligheid in die wind geslaan het.
Gaan Kgothule dus sy goedjies vat en self loop?
Of, indien nie, gaan Premier Ace Magashule nou in die aanloop tot die verkiesing wys dat praatjies oor skoon administrasie inderdaad skoon administrasie beteken?
Net te veel insidente duik op. Tot krediet, tree sommiges soos die ANC-woordvoerder Jackson Mthembu berouvol op. In ‘n ander geval is ‘n polisiehoë met die trekpas beloon omdat hy ‘n ANC-ringkop se vervolging op ‘n aanklag van beweerde dronkbestuur in die wiele gery het.
Die Vrystaat het ook sy kwota omstredenheid. Op die oomblik wag Vrystaters nog op die afloop van ‘n geval waar die burgemeester van Mangaung na bewering middernagtelik in ‘n ongeluk met ‘n ander voertuig betrokke was, maar toe na bewering deur ‘n senior munisipale amptenaar van die ongelukstoneel “gesteel” is, die tyd van die ongeluk aangepas is sodat dit heeltemal van die tyd wat ooggetuies aangegee het en in die ambulanslog ingevul is verskil, en boonop iemand anders as bestuurder aandui. Hierdie voorval sloer nou al gans te lank om opgeklaar te word.
Die Vrystaat is die provinsie waar op Limpopo na die minste wetstoepassing vir dronkbestur plaasvind – slegs 57 per 100 000 per jaar teenoor die landsgemiddeld van 128 per 100 000 en die Wes-Kaap se 292 per 100 000 per jaar. Boonop is die gemiddelde voertuigouderdom in die provinsie onder die hoogstes in die land. Die toestand van Vrystaatse paaie is gereeld in die nuus.
Dan word veel beter van ‘n LUR verwag.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.