Terwyl dit gons oor die rekord-getal renosters wat vanjaar wilddiewe ten prooi val, word die land ook op ‘n ander terrein gestroop.
Die regering het onlangs ‘n verskerpte veldtog teen korrupsie aangekondig, en dit is gister deur die minister van Justisie bekend gestel. Dit geskied teen die agtergrond dat swendelaars skynbaar oor tyd R80 miljoen uit die Meester se voogdyfonds gesteel het. Die mees blootgesteldes van die gemeenskap is gewetenloos geteiken.
Al hoe meer kommentators meen korrupsie het in Suid-Afrika endemies geword. Volgens die South African Victim Survey is omkoopgeld al na raming van 5 % van die Suid-Afrikaanse bevolking geëis, maar meer kommerwekkend, altesaam 13 % van die bevolking word jaarliks regstreeks aan korrupsie blootgestel.
Teen dié agtergrond klink die regering se doelwit om teen 2014 jaarliks ‘n 100 skuldigbevindings teen korrupsie te behaal, en dat die Batebeslagleggingseenheid jaarliks R5 miljoen vir die staatskas moet herwin, na slegs ‘n kwart druppel aan die emmer. Hopeloos te min hopeloos te laat.
Kommentators is bowendien openlik uiters skepties of die politieke wil werklik aanwesig is om veral kaders met hul vingers in die heuningpot vas te trap. Die vraag bly eerder wie het iemand kwaad gemaak, as wat dit is wat hy verkeerd gedoen het.
Die gedagte om die name van bedrieërs, soos pedofiele, op ‘n lys te plaas is egter ‘n stap in die regte rigting. Ook hier gaan die regering voor ‘n groot toets kom – of sulke mense melaats gaan wees soos die bedoeling is, of omarm gaan word soos met Tony Yengeni en ander gebeur het.
Boonop het regstellende optrede by ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings die skuld gekry vir die swak vlakke van dienslewering. Dit was nie ‘n groep bitterbek blanke mans wat die beskuldigings gemaak het nie, maar mense soos prof. Adam Habib en prof. Steven Friedman. Besonder skerp taal is gebruik.
Ook wat dit betref, sal ‘n gesindheidsingesteldheid gevestig moet word. Op die oomblik word die land kort-kort geskud deur ‘n kader wat op een plek uitgevang is of so erg vasgebrand het dat hy verwyder moet word, net om te vind hy het is weer elders in net so ‘n sagte gekussingde stoel beland. Boonop word die taakspan van die minister wat dié munisipale herontplooiings hanteer, gelei deur ‘n voormalige munisipale bestuurder wat eers by Bronkhorspruit, en toe Plettenbergbaai, vasgebrand het.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.