Met ‘n Aprilgek-grap gevang?

Op 1 April vanjaar het die regering litigasie vrygespring deur ‘n ooreenkoms met Vrystaat Landbou te onderteken. Aan die hart van hierdie ooreenkoms was ‘n onderneming dat veral die Lesothogrens voldoende beskerm sal word sodat landboubedrywighede in vrede, en veilig voortgesit kan word.

Na ‘n volgehoue stroom vee- en weidingdiefstalle en selfs lewensverlies, is verskeie grensboere al in die media aangehaal dat daar van die regering se ondernemings dadels gekom het.

Dit is blykbaar so endemies dat veld selfs aan die Vrystaatkant aan die brand gesteek word sodat vee uit Lesotho later op die groen uitloopsels kan kom wei.

Een van die verdagtes wat aangekeer is in verband met die verkragting van ‘n dokter in Bloemfontein se Pelenomi-hospitaal is ‘n sestienjarige Lesothoburger wat hom skynbaar moeiteloos in Suid-Afrika kom vestig het. Ook hier het die regering nie te alle tye met die nodige sorg gereageer nie, en die LUR vir Gesondheid is erg gestriem omdat sy nie ‘n krisisvergadering oor veiligheid in die hospitaal bygewoon het nie.

Onder die staatkundige begrippe wat politieke wetenskaplikes gebruik, is dié waar die burgery van ‘n land en die regering ‘n sosiale kontrak sluit. Dié kontrak behels onder meer dat die staat verantwoordelikheid vir die veiligheid van sy burgers waarborg. Kabinetslede lê ook ‘n eed af vir die instandhouding van die grondwet.

Voorts bepaal internasionale demokratiese konvensie dat ‘n regering in algemene belang sal regeer, nie net in belang van die regerende party se ondersteuners nie – of dan in belang van ‘n buurland se burgers se roofsug nie.

Dit sluit ook in dat die staat streng teen korrupsie sal optree omdat, in die woorde van die Wêreldbank, korrupsie ‘n land van sy toekoms beroof.

Selfs al is daar geen kwade bedoelings by die wyse waarop die regering sy ooreenkoms met Vrystaat Landbou eerbiedig nie, kan die regering nie sy verantwoordelikhede ontsnap nie. Doeltreffende regering word bewerkstellig deur kundigheid en ‘n ingesteldheid tot dienslewering.

Word onbekwame kaders egter ontplooi, is die skade net so groot of selfs groter as om skelm kaders te ontplooi. Kort voort lank staan die beste stuurlui deeglik aan wal, en as hul kantlynadvies geïgnoreer word, sal daar noodwendig ‘n mate van foutvindery ontstaan – ‘n doodgewone demokratiese reg en plig, wat nie deur die muilband van die media gesmoor durf word nie. Al hoe meer politieke waarnemers begin koppe tel namate die Zuma-kabinet in ‘n KZN-klub ontwikkel.

Behoorlike demokrasie beteken ook dat die owerheid nie onnodig in die burgerlike lewe inmeng nie – trouens, die staat se hooftaak wat dit betref is juis om ‘n veilige klimaat te skep waarbinne ekonomiese groei kan plaasvind.

Word na Suid-Afrika se posisie op internasionale indekse gekyk, veral die sogenaamde piesangrepublike-indeks, kan die vraag gevra word hoeveel van die sosiale en selfs juridiese kontrakte is by wyse van spreke op 1 April geteken?

no deposit bonusлобановский александр интервью

Maak 'n opvolg-bydrae