Dr. Dan Roodt, skrywer en uitgewer van praag.co.za, sal vanmiddag om 3.30 op die SABC 2 se TV-program “Point Blank” verskyn. Die onderwerp is “Rassisme in Suid-Afrika”. Die program word direk uitgesaai en duur ‘n halfuur.
Sowat sewe mense het Donderdag gedurende ’n betoging gesterf nadat gerugte die ronde gedoen het oor gesondheidswerkers wat glo cholera versprei, het ‘n Mosambiekse radiostasie berig.
‘n Gemeenskapsleier was onder dié wat gesterf het nadat mense in Gurue in sentraal-Mosambiek met spiese en ander skerp voorwerpe betoog het.
Francisco Itai Meque, die provinsiale goewerneur van Zambezia het gesê mense wat nie weet dat cholera weens onhigiëniese toestande veroorsaak word nie, het geglo daar is mense wat dié siekte versprei hom die land arm te hou.
Byna 700 mense is reeds met cholera in Gurue gediagnoseer. Negentien slagoffers het al gesterf.
Nog ‘n persoon het verlede week onder dieselfde omstandighede gesterf. Sowat 300 gewelddadige betogers het ‘n mediese diensstasie heeltemal verwoes.
Die burgemeester van die Tshwane-metroraad, Dr Gwen Ramokgopa, kan op 20 Februarie ‘n plakkerstent voor haar ampswoning in Pretoria te wagte wees.
Mnr Philip van Staden, die VF Plus se verteenwoordiger in die Wes-Moot, gaan voor die ampswoning plak in ‘n poging om die burgermeester te oorreed om petisie dokumente in ontvangs te neem.
Die dokumente is deur 6 633 beswaarde inwoners van Wes-Moot onderteken teen die verskuiwing van 17 344 plakkers vanaf Atteridgeville na Andeon-plotte.
Mnr. Van Staden probeer sedert Maandag om ‘n afspraak by die burgermeester te bekom, maar sonder sukses.
In ‘n desperate poging het Van Staden gister ‘n dringende brief aan die burgermeester gestuur waarin hy haar versoek om voor 12:00 vandag op sy versoek te reageer. Geen reaksie is ontvang nie.
Van Staden sê dit is belangrik dat burgemeester Ramokgopa ingelig word oor die inwoners van Wes-Moot se gevoel rondom die hervestiging van plakkers op hul voorstoep.
“Die inwoners het ‘n reg om met haar te praat en hul griewe te lug. Saam kan ons oplossings vind, maar ons kan dit nie alleen doen nie mits sy tegemoedkomend is.”
Ondersteuners uitgenooi om mnr. Van Staden by sy tent voor die ampswoning te besoek.
Die dorpie Eshowe in Kwazulu-Natal is verlede naweek geskud toe swart hoëlui met ‘n Ferrari en Lamborghini in mekaar vasgery het.
Toe ‘n blanke, mnr. Tony Simpson, ‘n foto van die beskadigde voertuie wou neem, is hy uitgeskel met die woorde: “Wat soek jy hier, witman, jy kan nie ‘n kar soos dié bekostig nie!”
‘n Huwelikseremonie van wat as ‘n “ANC-familie” beskryf word, het by die sportsentrum op Eshowe plaasgevind waar die grasperk met gebreekte bottels en glase verniel is. Ná afloop daarvan het Romeo Mbambo, die eienaar van die Lamborghini Murcielago LP640, en die bestuurder van ‘n Ferrari F430 in Kangellastraat teen mekaar resies gejaag.
Mbambo is ‘n vorige sluipmoordenaar van die IVP wat by die Waarheids- en versoeningskommissie amnestie ontvang het. Hy en ses ander was destyds betrokke by 56 geweldsvoorvalle waartydens 100 mense gesterf het. Deesdae verskaf hy beskermingsdienste aan BBP’s in Durban.
Die skade aan die twee Italiaanse sportmotors word op R1 miljoen beraam, volgens ‘n woordvoerder van Lamborghini Suid-Afrika.
Die uitspattige troue op Eshowe, wat deur ANC-politici bygewoon is, het die allure van ‘n luuksemotorskou aangeneem met Mercedes-koepees, Porsches, asook ‘n splinternuwe Ferrari met ‘n tydelike registrasiesertifikaat, wat uitgestal is.
Blykbaar was Mbambo en sy mede-“renjaer” op pad na die dam om foto’s van die bruid en bruidegom te gaan neem toe hul bestuursvernuf tekort geskiet het. Die bestuurders van die twee sportmotors – wat saam R4,7 miljoen werd is – was ongedeerd, maar ‘n lamppaal is erg beskadig, wat natuurlik deur belastingbetalers herstel sal moet word.
Van die blanke omstanders wat foto’s met hul selfone wou neem, is geklap en geslaan terwyl polisie op die toneel bloot toegekyk het.
Die polisie het ook geen amptelike rekord van die ongeluk nie, aangesien Mbambo gesê het dat hy “self die kwessie sal hanteer”.
Harrisburg, die hoofstad van Pennsilvanië, is die jongste Amerikaanse stad wat oorweeg om homself bankrot te laat verklaar. Maar, berig die Christian Science Monitor, dit sal dalk nie al stad, of selfs deelstaat, wees wat hierdie opsie volg om ‘n blaaskans by krediteure te verkry nie.
Verskeie deelstate en stede trek noustrop danksy die hoë werkloosheidskoers, met gevolglik minder inkomstebelasting, en ook minder koopkrag wat uit hierdie bron inkomste kan bied. Boonop skaal die sentrale fiskus ook sy bydraes af.
Sou Harrisburg hierdie opsie volg, sal dit die eerste hoofstad van ‘n deelstaat wes wat sedert die Tweede Wêreldoorlog bankrot verklaar word. Orange County in Kalifornië is die grootste plaaslike owerheid wat nog bankrot verklaar is toe dié roete in 1994 gevolg is. Verskeie kleineres het dit al tevore gedoen, en een selfs al twee keer.
Al word hierdie soort bankrotskappe, die sg Chapter 9-bankrotskappe, soms as uitweg gevolg, word dit nie aanbeveel nie. So ‘n bankrotskap benadeel ‘n stad of deelstaat se kredietwaardigheid, en dan word gesukkel om geld vir kapitaalprojekte soos watersuiweringswerke geleen te kry.
Verwerk uit die Christian Science Monitor
Saterdagoggend 20 Maart 2010 word Nederlanders wakker sonder ‘n regering.
Middernagtelike gesprekke tussen die koalisievennote waar die kerse tot stompies gebrand het, het uiteindelik dadels opgelewer. Verskille oor die oorlog in Afghanistan is op die spits gedryf.
Dit beteken die einde van die premier, Jan-Peter Balkenende se vierde kabinet kort voor dié kabinet sy derde verjaarsdag sou vier.
Beide Balkenende se Christen-Demokratiese Appèl en die kleiner ChristenUnie van visepremier André Rouvoet is teleurgesteld dat die haakplek met die Partij van de Arbeid (PvdA) nie uitgepluis kon word nie. Die CU het bykans dadelik ‘n spesiale nuusbrief uitgestuur om sy “verdrietigheid en beskaamdheid” uit te spreek.
‘n Rukkie later, met koerante wat straat toe gaan, was die moue reeds opgerol. Rouvoet het reeds aangedui dat sy party gereedmaak vir ‘n verkiesing – en dit is met groot entoesiasme deur Geert Wilders, die Nederlanders se wildeman van die politiek verwelkom. Sy party doen in peilings besonder goed, en het selfs al ‘n slag as tweede gewildste party uit ‘n peiling getree.
Balkenende, lui die berigte bloot, is onderweg na die Koningin.
Wat gewoonlik gebeur is dat die vorstin ‘n “rapporteur” aanwys wat met verskillende partye beraadslaag om ‘n koalisie te probeer vorm. Wanneer dit blyk dat potensiële koalisievennote gevind is, begin samesprekings wat Kodesa na ‘n teeparty laat lyk, met lywige beleidsdokumente wat die koalisie moet rig. In die proses kan die kiesers ten opsigte van sekere beleidsrigtings weinig sien van dit waarvoor hulle gestem het. Terwyl beide die CDA maar veral die CU erg gekant is teen aborsie op aanvraag, het dit nie deel van die koalisiebeleidsokumentasie uitgemaak nie omdat almal by voorbaat geweet het die PvdA sou hierteen vasskop.
Die Nederlandse koerante gaan egter baie yl om met bespiegelings van wat nou voor die deur lê. Dit is ‘n vroeë waarskuwing aan buitelanders om nie te probeer bespiegel nie, omdat, soos die Nederlandse pers dit stel, die Nederlandse politiek vir buitestanders hopeloos te skisofrenies voorkom om intelligente raaiskote te kan waag.
Dit sal vir buitestanders byvoorbeeld moeilik wees om te verstaan hoe dit moontlik kan wees dat die ChristenUnie en die PvdA voor hulle in die regerende koalisie opgeneem is, dikwels nouer onderling saamgewerk het, as wat die CU byvoorbeeld met die CDA saamgewerk het. ‘n Goeie voorbeeld was ‘n projek om Walletjies “op te ruim.” (Dit behels die opspoor van die prostitute en vasstel wie in effek ontvoer is, opleiding tot alternatiewe te bied, en repatriasie vir diegene wat na hul lande van herkoms wou terugkeer).
Wat handelsondae betref, sal die CU en die CDA egter weer dikwels in ‘n populariteitskompetisie betrokke wees om te kyk hoe min hiervan gewettig sal word.
Van buite geoordeel, lyk dit tog of die CDA en die CU se drie jaar saamtrek in ‘n koalisie nouer bande opgelewer het. Die sterk werksetiek van die CU is stellig ‘n bate, maar dit is ook so dat die CDA figure soos Marja van Bijsterveldt oplewer wat in aanslag en houding baie nader aan die CU lê as haar eie party. Dit is egter ook so dat sekere verwikkelinge die afgelope aantal jare Balkennde van ‘n effektiewe swye oor godsdienssake, veel meer verbaal hieroor laat word het – aanvanklik by jeugsaamtrekke, maar later ook elders, tot hy as hoofspreker by die amptelike Calvyn-500 herdekingsbyeenkoms as vurige Calvinis ontpop het wat van kindsbeen af aan die inhoud van talle Calvyn-boeke in sy ouerhuis blootgestel is.
Boonop het nog konserwatiewer Christen- / Gereformeerde partytjies onlangs ook langlippie teenoor die CU begin trek, wat die hande losser maak om nouer met die CDA saam te werk.
Op die oog af, maar op die gevaar af om die Nederlandse politiek se “skisofrenie” gruwelik mis te tas, lyk dit of ‘n nuwe Kabinet – met of sonder ‘n verkiesing – steeds die CDA en die CU sal insluit. Hoe die res daaruit sal sien, sal waarskynlik afhang of daar ‘n verkiesing gaan wees of nie. Na ‘n verkiesing kan die onwaarskynlike moontlik onvermydelik wees – Geert Wilders in die kabinet, en heel waarskynlik as ‘n visepremier.
Vir lande soos Turkye en Marokko sal dit wees soos Duitsland se verkiesing van Hitler deur die Jode ervaar is. Maar dalk – dalk het Wilders soos sy land se politiek genoeg dualisme in hom om as regeerder ook ‘n makker sy te openbaar.
Dalk, net dalk, meen die PvdA dat hy saam met die Sosialiste en ander linkse partye – party vreemder as die werklikheid – genoeg steun bymekaar kan hark om ‘n linkse regering te vorm.
Maar dan sal Nederland erg uit pas met sy bure wees.
‘n Man van Texas het Donderdag sy huis aan die brand gesteek, toe ‘n klein vliegtuig gesteel en met dit in ‘n gebou van die inkomstediens vasgevlieg.
Volgens een van die beamptes was dit ‘n doelbewuste daad.
Die vliegtuig het die tweede verdieping, van die vierverdieping gebou omstreeks 16:00 getref. ‘n Massiewe ontploffing het gevolg, met honderde mense wat na veiligheid gevlug het.
Geen verbintenis met terreur word tot dusver vermoed nie.
Twee mense is gehospitaliseer, met een persoon wat steeds vermis word. Maar brandweerbeamptes vermoed almal is na veiligheid geneem en die gebou ontruim.
“Die gebou het begin skud, amper soos ‘n aardbewing,” het een van die ooggetuies vertel.
Tolgeld op tolpaaie gaan in Maart landwyd met sowat 8% verhoog word, het die nasionale padagentskap, Sanral, Vrydag aangekondig.
Nazir Ali, Sanral se uitvoerende hoof, sê die verhoging is deur Sibusiso Ndebele, die minister van vervoer, goedgekeur.
“Die tarief is aangepas om met die verbruikersprysindeks die afgelope twaalf maande tred te hou,” het Sanral se woordvoerder, Alice Matthews, gesê.
Die verbruikersprysindeks waarop die verhoging gegrond is, is die een tussen November 2009 en November 2009, naamlik 7,91%.
Dit is dié persentasie wat Sanral vir sy verhogings gebruik. Hy sal die prys egter tot die naaste rand afrond.
Oor die beplande tolgelde wat in Gauteng op oop paaie gehef gaan word, het Matthews gesê dit sal na verwagting in April 2011 in werking tree op die N1, N3, N12 en dele van die N17.
Tolgeld sal elektronies gehef word en motors sal nie by hekke hoef te stop nie.
Niger se nuwe militêre leiers het tenks en bakkies wat met masjiengewere belaai is, buite die ontvoerde president Mamadou Tandja se paleis parkeer.
Volgens AFP het militêre voertuie met outomatiese masjiengewere ook buite die kantore van die eerste minister en die buitelandse ministerie gestaan.
Die junta het nog nie bekend gemaak waar hulle die 71-jarige president aanhou nie.
Volgens Tandja se regering word hy by ‘n militêre basis op die buitewyke van die hoofstad Niamey aangehou.
Daar was geen teken van nuwe geweld ná Donderdag se gevegte buite die paleis waar drie soldate doodgemaak is en Tandja ontvoer is nie.
Gewapende rebelle is reeds die afgelope twee jaar in skermutselinge met die regering betrokke om ‘n deel van die uraanrykdom te bekom. Niger sal teen 2012 die wêreld se grootste uraanmyn bedryf.
Frankryk se Areva-maatskappy is die grootste aandeelhouer in die myn en die EU-land is afhanklik van die uraan vir hulle kernenergieprogram.
Danksy Areva is Frankryk die vierde grootste uraanprodusent ter wêreld en die leier in kernenergie. Bykans 80% van Franse krag word deur kernenergie opgewek.
Niger is in 2007 geskud deur anti-Areva betogings toe duisende inwoners teen die Franse maatskappy wat al 40 jaar in die land teenwoordig is, in opstand gekom het. Areva is uitgesonder vir kritiek aangesien die maatskappy slegs 0,5% van hulle jaarlikse wins aan Niger afstaan.
Niger is steeds een van die armste lande ter wêreld. Volgens ‘n ooreenkoms tussen Frankryk en Niger wat in 2007 gesluit is, mag Niger ook ooreenkomste met China en Indië aangaan wat hulle voorheen nie beskore was nie.
Volgens ingeligte bronne het China militêre steun aan Niger verleen in ruil vir uraanregte.
Die huidige ANC-leierskorps is “skattebolle”, hetJulius Malema, ANC-jeugleier, gister in ’n toespraak gesê waarin hy Nelson Mandela se woorde gebruik het om sy strewe na ’n beleid van die nasionalisering van myne te regverdig.
“Ons gee nie om wie sê wat nie, nasionalisering sal die ANC se beleid word,” het hy by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg gesê in ’n toespraak ter herdenking van Mandela se vrylating uit die tronk 20 jaar gelede.
“Ons wil nie Zuma of (Fikile) Mbalula (adjunkminister van polisie) se steun hê nie … Ons wil die steun van die massa hê.
As die massa sê jy is reg, dan sal ons voortgaan.”
Dinsdag het pres. Jacob Zuma in sy repliek op sy staatsrede gesê die nasionalisering van myne is nie regeringsbeleid nie.
Malema is egter vasberade om ANC-takke te beïnvloed om nasionalisering partybeleid te maak, wat dan na die regering sal deursyfer.
Sy toespraak in ’n stampvol saal is met dawerende applous en dreunsang en dansery begroet. Voordat hy gepraat het, het die gehoor na ’n uittreksel uit ’n video van ’n onderhoud met Mandela kort voor sy vrylating gekyk.
In die onderhoud het Mandela gesê nasionalisering is deel van die land se geskiedenis en hy begryp nie hoe privatisering geregverdig word nie.
Mandela het gesê wittes het besluit die enigste manier om beheer oor die land se swartes uit te oefen, is om te privatiseer.
Met verwysing na die huidige ANC-leierskorps het Malema gesê: “Vandag wil hulle ons vertel hulle is die beste denkers en hulle kan die Vryheidsmanifes beter as Nelson Mandela vertolk.
“Ons moet vandag hier sê … ons eis ekonomiese vryheid in ons leeftyd.”
Winnie Madikizela-Mandela, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, was saam met Malema op die verhoog.
“Jy is baie slim, my kleinseun Julius,” het sy gesê. “Jy het argiefmateriaal oor die nasionalisering gaan versamel. Ek wonder waar jy dit gekry het.”
In reaksie op koerantberigte oor haar afwesigheid by die Drakenstein-gevangenis verlede week by die herdenking van haar gewese man se vrylating, het sy gesê: “Ek en my familie is nie genooi nie.”
Vroeër het Malema na Madikizela-Mandela as “populisties” verwys.
Sy het in antwoord gesê ’n populis is iemand wat die onkundiges “uitbuit” om “aan die mag vas te klou” asook “’n luukse leefstyl en wat ons nou ‘bling’ noem” te handhaaf.
“Ek wil niks daarvan hê nie.”
Madikizela-Mandela het gesê dit is belangrik om al die fasette van Mandela te onthou en watter soort man hy is.