Julius belowe nasionalisering

Die huidige ANC-leierskorps is “skattebolle”, hetJulius Malema, ANC-jeugleier, gister in ’n toespraak gesê waarin hy Nelson Mandela se woorde gebruik het om sy strewe na ’n beleid van die nasionalisering van myne te regverdig.

“Ons gee nie om wie sê wat nie, nasionalisering sal die ANC se beleid word,” het hy by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg gesê in ’n toespraak ter herdenking van Mandela se vrylating uit die tronk 20 jaar gelede.

“Ons wil nie Zuma of (Fikile) Mbalula (adjunkminister van polisie) se steun hê nie … Ons wil die steun van die massa hê.

As die massa sê jy is reg, dan sal ons voortgaan.”

Dinsdag het pres. Jacob Zuma in sy repliek op sy staatsrede gesê die nasionalisering van myne is nie regeringsbeleid nie.

Malema is egter vasberade om ANC-takke te beïnvloed om nasionalisering partybeleid te maak, wat dan na die regering sal deursyfer.

Sy toespraak in ’n stampvol saal is met dawerende applous en dreunsang en dansery begroet. Voordat hy gepraat het, het die gehoor na ’n uittreksel uit ’n video van ’n onderhoud met Mandela kort voor sy vrylating gekyk.

In die onderhoud het Mandela gesê nasionalisering is deel van die land se geskiedenis en hy begryp nie hoe privatisering geregverdig word nie.

Mandela het gesê wittes het besluit die enigste manier om beheer oor die land se swartes uit te oefen, is om te privatiseer.

Met verwysing na die huidige ANC-leierskorps het Malema gesê: “Vandag wil hulle ons vertel hulle is die beste denkers en hulle kan die Vryheidsmanifes beter as Nelson Mandela vertolk.

“Ons moet vandag hier sê … ons eis ekonomiese vryheid in ons leeftyd.”

Winnie Madikizela-Mandela, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, was saam met Malema op die verhoog.

“Jy is baie slim, my kleinseun Julius,” het sy gesê. “Jy het argiefmateriaal oor die nasionalisering gaan versamel. Ek wonder waar jy dit gekry het.”

In reaksie op koerantberigte oor haar afwesigheid by die Drakenstein-gevangenis verlede week by die herdenking van haar gewese man se vrylating, het sy gesê: “Ek en my familie is nie genooi nie.”

Vroeër het Malema na Madikizela-Mandela as “populisties” verwys.

Sy het in antwoord gesê ’n populis is iemand wat die onkundiges “uitbuit” om “aan die mag vas te klou” asook “’n luukse leefstyl en wat ons nou ‘bling’ noem” te handhaaf.

“Ek wil niks daarvan hê nie.”

Madikizela-Mandela het gesê dit is belangrik om al die fasette van Mandela te onthou en watter soort man hy is.

slots online no deposit bonusлобановский александр игоревич

Maak 'n opvolg-bydrae