Nederland regeringloos. Wat nou?

Die Nederlandse parlement, oftewel die State-Generaal aan die Hofvijver, Den HaagSaterdagoggend 20 Maart 2010 word Nederlanders wakker sonder ‘n regering.

Middernagtelike gesprekke tussen die koalisievennote waar die kerse tot stompies gebrand het, het uiteindelik dadels opgelewer. Verskille oor die oorlog in Afghanistan is op die spits gedryf.

Dit beteken die einde van die premier, Jan-Peter Balkenende se vierde kabinet kort voor dié kabinet sy derde verjaarsdag sou vier.

Beide Balkenende se Christen-Demokratiese Appèl en die kleiner ChristenUnie van visepremier André Rouvoet is teleurgesteld dat die haakplek met die Partij van de Arbeid (PvdA) nie uitgepluis kon word nie. Die CU het bykans dadelik ‘n spesiale nuusbrief uitgestuur om sy “verdrietigheid en beskaamdheid” uit te spreek.

‘n Rukkie later, met koerante wat straat toe gaan, was die moue reeds opgerol. Rouvoet het reeds aangedui dat sy party gereedmaak vir ‘n verkiesing – en dit is met groot entoesiasme deur Geert Wilders, die Nederlanders se wildeman van die politiek verwelkom. Sy party doen in peilings besonder goed, en het selfs al ‘n slag as tweede gewildste party uit ‘n peiling getree.

Balkenende, lui die berigte bloot, is onderweg na die Koningin.

Wat gewoonlik gebeur is dat die vorstin ‘n “rapporteur” aanwys wat met verskillende partye beraadslaag om ‘n koalisie te probeer vorm. Wanneer dit blyk dat potensiële koalisievennote gevind is, begin samesprekings wat Kodesa na ‘n teeparty laat lyk, met lywige beleidsdokumente wat die koalisie moet rig. In die proses kan die kiesers ten opsigte van sekere beleidsrigtings weinig sien van dit waarvoor hulle gestem het. Terwyl beide die CDA maar veral die CU erg gekant is teen aborsie op aanvraag, het dit nie deel van die koalisiebeleidsokumentasie uitgemaak nie omdat almal by voorbaat geweet het die PvdA sou hierteen vasskop.

Die Nederlandse koerante gaan egter baie yl om met bespiegelings van wat nou voor die deur lê. Dit is ‘n vroeë waarskuwing aan buitelanders om nie te probeer bespiegel nie, omdat, soos die Nederlandse pers dit stel, die Nederlandse politiek vir buitestanders hopeloos te skisofrenies voorkom om intelligente raaiskote te kan waag.

Dit sal vir buitestanders byvoorbeeld moeilik wees om te verstaan hoe dit moontlik kan wees dat die ChristenUnie en die PvdA voor hulle in die regerende koalisie opgeneem is, dikwels nouer onderling saamgewerk het, as wat die CU byvoorbeeld met die CDA saamgewerk het. ‘n Goeie voorbeeld was ‘n projek om Walletjies “op te ruim.” (Dit behels die opspoor van die prostitute en vasstel wie in effek ontvoer is, opleiding tot alternatiewe te bied, en repatriasie vir diegene wat na hul lande van herkoms wou terugkeer).

Wat handelsondae betref, sal die CU en die CDA egter weer dikwels in ‘n populariteitskompetisie betrokke wees om te kyk hoe min hiervan gewettig sal word.

Van buite geoordeel, lyk dit tog of die CDA en die CU se drie jaar saamtrek in ‘n koalisie nouer bande opgelewer het. Die sterk werksetiek van die CU is stellig ‘n bate, maar dit is ook so dat die CDA figure soos Marja van Bijsterveldt oplewer wat in aanslag en houding baie nader aan die CU lê as haar eie party. Dit is egter ook so dat sekere verwikkelinge die afgelope aantal jare Balkennde van ‘n effektiewe swye oor godsdienssake, veel meer verbaal hieroor laat word het – aanvanklik by jeugsaamtrekke, maar later ook elders, tot hy as hoofspreker by die amptelike Calvyn-500 herdekingsbyeenkoms as vurige Calvinis ontpop het wat van kindsbeen af aan die inhoud van talle Calvyn-boeke in sy ouerhuis blootgestel is.

Boonop het nog konserwatiewer Christen- / Gereformeerde partytjies onlangs ook langlippie teenoor die CU begin trek, wat die hande losser maak om nouer met die CDA saam te werk.

Op die oog af, maar op die gevaar af om die Nederlandse politiek se “skisofrenie” gruwelik mis te tas, lyk dit of ‘n nuwe Kabinet – met of sonder ‘n verkiesing – steeds die CDA en die CU sal insluit. Hoe die res daaruit sal sien, sal waarskynlik afhang of daar ‘n verkiesing gaan wees of nie. Na ‘n verkiesing kan die onwaarskynlike moontlik onvermydelik wees – Geert Wilders in die kabinet, en heel waarskynlik as ‘n visepremier.

Vir lande soos Turkye en Marokko sal dit wees soos Duitsland se verkiesing van Hitler deur die Jode ervaar is. Maar dalk – dalk het Wilders soos sy land se politiek genoeg dualisme in hom om as regeerder ook ‘n makker sy te openbaar.

Dalk, net dalk, meen die PvdA dat hy saam met die Sosialiste en ander linkse partye – party vreemder as die werklikheid – genoeg steun bymekaar kan hark om ‘n linkse regering te vorm.

Maar dan sal Nederland erg uit pas met sy bure wees.

online slotsАлександр Фильчаков прокурор