Valke soek stropers wat witrenoster skiet

Die Valke in die Noord-Kaap ondersoek ‘n voorval waarin ‘n witrenoster by Kimberley doodgeskiet is.

Woordvoerder, Philani Nkwalase, sê die witrenosterkoei is in die regterskouer geskiet. Volgens hom is haar ontbinde karkas verlede Vrydagoggend op ‘n plaas buite die stad gevind. Sy het nog albei haar horings gehad.

Nkwalase sê dit wil voorkom of die renoster ‘n week gelede geskiet is. Die gewonde dier het toe weggehardloop en op die plek op die plaas waar sy verlede Vrydag gevind is, gevrek.

Die ligging van waar haar karkas gevind is, gaan nie bekendgemaak word nie om verdere voorvalle te voorkom, sê Nkwalase.

Die Valke in die Noord-Kaap doen als in hul vermoë om voorvalle waarin renosters doodgeskiet word, te ondersoek.

Nkwalase sê plaaseienaars en werknemers moet meer paraat wees om veral renosters te beskerm teen uitwissing.

Hy doen ‘n beroep op gemeenskappe om enige verdagte mense of voertuie wat by plase in die provinsie opgemerk word, by die polisie aan te meld.

Dit kan ‘n groot bydrae lewer in die stryd teen renosterstropery, sê hy.

Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Neocon Nuland se witbroodjie moet bedank

Die eerste minister van die Oekraïne, Arseniy Yatsenyuk sê hy het besluit om te bedank oor wat hy bestempel het as ‘n kunsmatige politieke krisis in die land.

Yatsenyuk het in Februarie net-net ‘n mosie van wantroue in die land se parlement oorleef, nadat die president, Petro Poroshenko ‘n beroep op hom gedoen het om te bedank.

Sy party se gewildheid het ook skerp gedaal weens bewerings van korrupsie en ‘n gebrek aan optrede.

Yatsenyuk was die keuse van Victoria Nuland, die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake om haar land se belange te verteenwoordige nadat sy in ‘n privaatgesprek wat gelek is, gesê het: “Fok die EU.”

Poroshenko en die nuwe eerste minister sal dus onder groot druk van die Oekraïne se bondgenote in Europa en Amerika wees om werklike hervorming in werking te stel.

“Die samewerkingsooreenkoms [met die EU] sal nie verander word nie,” het die Oekraïnse president Poroshenko Sondag gesê.

Hy het kommentaar gelewer oor die moontlike gevolge van die onlangse referendum in Nederland, waar die meerderheid van die kiesers teen die aanvaarding van die ooreenkoms is.

Die Oekraïense leier het bygevoeg dat hy in die volgende paar dae verwag dat die Europese Kommissie wetgewing sal “inisieer” om die Oekraïne as ‘n visum-vrye gebied te verklaar.

Die voorgestelde samewerkingsooreenkoms tussen die EU en Kiëf is onderteken in 2014, maar vir die verdrag om volle regskrag te hê moet dit deur al die 28 EU-lidlande bekragtig word.

Nederland moet dit nog doen, maar die Nederlandse referendum verlede week het getoon dat die meerderheid kiesers is teen die bekragtiging van die verdrag gekant is.

Beloning uitgereik na treinverwoesting in Kaapstad

Pendelaars in Kaapstad kan vanoggend lang vertragings verwag nadat treinwaens die naweek by die Kaapstad-stasie aan die brand gesteek is.

Die skade beloop miljoene rand.

Volgens Metrorail se woordvoerder in die Wes-Kaap, Riana Scott, word vyf peronne geraak.

Metrorail in die Wes-Kaap het vroeër ‘n beloning van R100 000 aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die vandale.

Die streekbestuurder van Metrorail, Richard Walker sê die doelbewuste vernietiging van treine veroorsaak dat Metrorail nie voldoende dienste aan passasiers kan lewer nie.

Hy waarsku dat pendelaars Maandag gaan sukkel om betyds by hul bestemmings uit te kom.

Vyf stasieperonne is gesluit terwyl herstelwerk gedoen word nadat die waens aan die brand gesteek is.

Vertragings van tot 60 minute kan verwag word, sê Walker.

Walker sê die doelbewuste vernietiging van 37 treine het vervoervermoë in die streek baie nadelig geraak en duisende verontrief.

“Tegniese spanne werk dag en nag om soveel beskadigde infrastruktuur as moontlik ter voorbereiding vir Maandagoggend se piekdiens te herstel,” het hy gesê.

Die Wes-Kaapse streek bedryf 89 trein-stelle van 696 treine elke weeksdag, 360 treine op Saterdae en 225 treine op Sondae.

Gedurende spitstye word alle treine reeds ingespan, wat beteken dat daar nie ekstra weans beskikbaar is in ‘n noodgeval nie.

Iran, Israel betrek by Nagorno-Karabach konflik

Die ministers van buitelandse sake van Rusland en Iran het gister aangesluit by gesprekke om ’n hernude oorlog tussen Azerbaidjan en Armenië oor Nagorno-Karabach te voorkom, terwyl albei kante in die konflik mekaar van skendings van die twee dae oue ­skiet­stilstand beskuldig.

Die Russiese en Iranse buitelandse ministers het gister onderskeidelik met hul Armeense en Azerbaidjanse eweknieë vergader.

Gevegte het oor die naweek uitgebreek waarin minstens 64 mense, insluitende drie burgerlikes, dood is.

Dit is die hewigste uitbreking van geweld sedert ’n ­separatistiese oorlog in 1994 geëindig het en ­Nagorno-Karabach, amptelik deel van Azerbaidjan, onder beheer van plaaslike Armeense magte en die Armeense­ weermag gekom het.

Armeense magte beset ook verskeie gebiede buite die Karabach-streek.

Israel en Azerbaidjan het ‘n strategiese alliansie.

Met sy geografiese nabyheid aan Iran, maak dit die land baie belangrik vir Israel. Azerbaijan is ook een van die belangrikste verskaffers van olie aan Israel.

Videomateriaal wat opgelaai is op Youtube ‘n paar dae gelede toon om ‘n Israeli-hommeltuig, die Harop wat oor die betwiste streek vlieg, het die Washington Post die naweek berig.

Die tuig, wat plofstof dra, vind sy teiken gebaseer op radar of radiogolwe en is bedoel om die teiken te vernietig.

Die Armeense ministerie van verdediging se woordvoerder het gesê een van hierdie tuie het in ‘n bus vol Armeense “vrywilligers” op pad na die geveg sone aangeval, en sewe gedood.

Guptas glo ‘landuit’ vanaf Lanseria-lughawe

Volgens ‘n berig in Rapport, wat op sy beurt uit City Press vertaal is, het die Gupta-familie Suid-Afrika “vir goed verlaat” ná  ‘n week waarin die vier groot banke geweier het om langer die skatryk Indiërs se transaksies te hanteer. Selfs die Gupta-kinders is by hul privaat Engelse skole bespot weens hul ouers se betrokkenheid by Jacob Zuma en die ANC se korrupte transaksies. Die Guptas gaan hulle nou in ‘n rykmansbuurt in Doebaai in die Verenigde Arabiese Emirate vestig.

Rapport, die Afrikaanse weergawe van City Press onder redaksie van die antiblanke redaktrise Ferial Haffajee, gebruik ‘n anglisisme om die Guptas as ‘n “toksiese familie” te tipeer:

Die toksiese Gupta-familie, wat hulle geposisioneer het as pres. Jacob Zuma se boesemvriende, maar hom eendag nog sy pos kan kos, het die land Donderdagnag aan boord van hul private straler verlaat, want hulle kon die hoon van korrupsiesat Suid-Afrikaners en die openlike vyandigheid van sakelui hier net nie meer verdra nie.

Selfs hul kinders is op skool gespot.

Ajay Gupta en sy broer Atul sluit hulle daarom nou in Dubai aan by die derde boet, Tony (Rajesh), wat maande gelede al nes geskop het in Emirates Hills, waar die goedkoopste huis R82 miljoen kos en die duurste villa meer as R700 miljoen.

Na verwagting sal die Guptas egter steeds hul plaaslike sakebelange behou en groot geld uit hul spesiale verhouding met Zuma en sy seun Duduzane maak. Dit is daarom nog lank nie die einde van die Guptas se greep op Suid-Afrika nie. Hul plaaslik genoteerde maatskappy, Oakbay Investments, beskik oor 4000 werknemers. Dié getal sal verdubbel sodra die huidige oorname van Tetega, waarin Duduzane Zuma ‘n aansienlike aandeel hou, voltooi word. Tetega beheer die reuse- Optimum-steenkoolmyn wat hoogs waarskynlik steenkool aan Eskom sal verkoop.

Optimum het voorheen aan die Suid-Afrikaans-gebore Joodse miljardêr, Ivan Glasenberg van Glencore behoort. Hy het egter intussen die myn onder administrasie laat plaas omdat die tariewe wat Eskom hom aanbied, geen ruimte vir wins laat nie. Vermoedelik sal die myn onder bestuur van die Guptas en Zuma jr wel goeie pryse van Eskom ontvang.

Die Guptas se vertrek vanaf Lanseria in die noorde van Johannesburg het laat Donderdagaand onder groot geheimhouding geskied. Die vliegtuig se transpondeerders was glo so gestel dat sy registrasienommer nie op radar sigbaar sou wees nie.

 

Twee red tiener van swart aanvallers

Twee jong Moot-mans het Maandagoggend op hulle voete gedink toe hulle ‘n tiener in Booysens te hulp gesnel ná ‘n noodoproep.

Jaco Green (20) het Maandagoggend by sy vriend Emile Rheeder (20) in Villieria gekuier to Green ‘n oproep van sy 14-jarige broer ontvang het.

“My boetie het my gebel en gesê dat daar swart aanvallers in die huis is,” vertel Green.

Die twee vriende het dadelik in die motor gespring en na Green se huis in Booysens gery.

Rheeder, ‘n lid van van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê alles het teen hul getel.

“My GPF radio se battery was pap, Jaco se lugtyd was op en ons kon nie deurkom na die polisie toe ons 10111 skakel nie,” sê Rheeder.

Die twee het so vining as moontlik gery om by die huis uit te kom nadat hulle ‘n tweede noodoproep van die jonger broer ontvang het.

“Hy het weer gebel en gesê dat hy in ‘n kas geklim het om weg te kruip. Die swart aanvallers was toe al amper in dieselfde kamer waarin hy weggekruip het,” vertel Rheeder.

Op pad na die huis het Rheeder en Green die Wonderboompoort-polisie in Flowersstraat, Capital Park gewaar.

“Die polisie was besig met ‘n arrestasie in Flowersstraat. Ons het net vir hulle geskree Jaco se broer kruip in ‘n kas weg en die aanvallers trek al in die kamer waar hy is,” sê Rheeder.

Die polisie het die twee jong mans na die huis gevolg en intussen ander polisielede in kennis gestel van die inbraak.

“Toe ons daar kom was daar klaar ander polisie op die toneel en selfs ‘n polisie helikopter in die lug. Die swart verdagtes het ongelukkig met ‘n split-sekonde ontsnap,” vertel Rheeder.

Green sê die inbrekers het met ‘n plasma-televisie en ‘n paar stukke juwele weggekom.

“Die inbrekers het van ons ander elektroniese ware reeds by die muur uitgeprop, ek dink hulle was van plan om dit ook te steel.”

Hy sê sy broer is hospitaal toe geneem vir traumaberading.

“My broer is beter, maar is steeds skrikkerig om alleen by die huis te wees. Hy praat nou gelukkig oor wat gebeur het, so dit lyk of dit beter met hom gaan.”

Rheeder sê hulle is dankbaar vir die polisie se hulp.

“As ons nie Sersant Laas en die Wonderboompoort-polisie langs die pad gekry het nie sou dit dalk ‘n ander storie gewees het.”

Die Hercules-polisieskantoor het bevestig dat ‘n saak van huisbraak geopen is.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” sê hy.

Bron: Moot Rekord

Toegangsbeheer by TUT hou oproeriges uit

Daar was dié week bewerings dat die polisie waterkanonne en skokgranate gebruik het om die skare uiteen te jaag, maar oproeriges by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se hek moes omdraai ook weens streng toegangsbeheer.

Dit het duidelik geword toe die universiteit Dinsdag heropen het en groot getalle swartes toegang tot die kampus geweier is, dat talle nie geldige studente is nie.

Hulle is verbied om die kampus te betree weens redes wat wissel van historiese studieskuld tot skorsing.

“Slegs geregistreerde studente wat geldige studentekaarte kon toon is toegelaat op die kampus,” het TUT se woordvoerder Willa de Ruyter gesê.

Vyf SR-lede is geskors na weke van protes, vandalsime, geweld en klasontwrigting tydens die #FeesMustFall veldtog.

Die bestuur het later ‘n klag van aanhitsing van geweld en saakbeskadiging teen hulle aanhangig gemaak.

“Dit is die tyd om eenheid te wys. Ons kan nie toelaat dat die bestuur ons verdeel nie,” het ‘n swarte wat anoniem wou bly, gesê.

“Die bestuur is soek nog steeds diegene wat betrokke was by die oproer,” het ‘n ander swarte aan Rekord Noord gesê.

Nog ander het gesê dat daar ‘n ooreenkoms tussen die TUT en betogers aangegaan is dat studente wat die Universiteit iets verskuldig is, toegelaat sou word om te registreer nadat hulle ‘n erkenning van skuld onderteken het.

Een van die oproermakers het egter gesê: “Maar ek wil dit op rekord hê dat ek nie berou het nie, ek is nie eens jammer vir ‘n enkele een van my aksies nie. Ek sal nie die enigste een wees wat geviktimiseer word deur die stelsel van kapitalistiese TUT-bestuur nie, ” hy het gesê.

Sekuriteit was Dinsdag streng, met die polisie en ‘n private sekuriteitsmaatskappy wat die instelling gemonitor het.

Die TUT se uitvoerende bestuurskomitee het vroeër besluit dat studente aan streng voorwaardes sal moet voldoen voordat die akademiese program hervat kan word.

De Ruyter gesê studente wat teen hul uitsluiting wil appelleer moet ‘n studentenommer verskaf aan sekuriteit by die hek om die toegang tot die kampus te verkry.

Nie een van hulle kon dit glo toon nie.

Ysland se premier bedank oor Panama-onthullings

Ysland se eerste minister, Sigmundur David Gunnlaugsson, het die eerste slagoffer van die miljoene gelekte Panamese dokumente oor buitelandse rekeninge en dopmaatskappye geword.

Hy het Dinsdag onder groot druk die tuig neergelê.

Woede het in Ysland geheers oor die onthulling dat hy ’n dopmaatskappy gebruik het om groot bedrae geld te verskans terwyl Ysland se ekonomie ’n krisis beleef het.

Politici in verskeie lande, onder wie Oekraïne se president, staar vrae in die gesig oor moontlike twyfelagtige aflandige skemas wat gebruik is om belasting te ontduik.

Pres. Petro Poroshenko het volgens die Panamese dokumente sy lekkergoed-onderneming geskuif en sy land sodoende van miljoene dollar aan belasting ontneem.

Die VSA se korporatiewe media het intussen nuus oor die lekkasies asook aantygings van twyfel­agtige optrede van staatslui in hul eie land verswyg.

Vietnam se premier bedank na Kongres swaai

Viëtnam se eerste minister, Nguyen Tan Dung, het Woensdag ná tien jaar in die amp, uitgetree.

Dung se houding teenoor China het hom waarskynlik sy pos gekos in dié eenpartystaat. Hy was besig om te pro-Amerikaans op te tree na die smaak van die Nasionale Kongres.

In ’n formele stemming het lede van die Nasionale Kongre met 430 teenoor 462 stemme gestem dat Nguyen Tan Dung uit sy amp onthef moet word, drie maande voor die verstryking van sy termyn.

Sy vertrek was ’n blote formaliteit nadat hy die leierskapstryd tydens die regerende kommunistiese party se kongres in ­Januarie verloor het en die knie voor Nguyen Phu Trong moes buig.

Die Nasionale Vergadering sal vandag sy adjunk, Nguyen Xuan Phuc, as eerste minister aanstel.

Teen die einde van Desember het Trong, 72, sy voorneme verklaar om aan te bly vir ‘n jaar of langer as die party se sekretaris-generaal, terwyl 65 die sperouderdom vir Politburolede is om nuwe poste te aanvaar.

Die aankondiging van nuwe Viëtnamese strategiese vennootskappe, soos met Indonesië, wat ook oor Chinese oorheersing kla, het die Kongres geswaai.

‘n Aankondiging van ‘n nuwe Viëtnamese strategiese vennootskap met ‘n ander anti-Chinese Asiatiese land soos Indonesië, moet gesien word as ‘n potensiële teken van stygende spanning tussen Beijing en Hanoi.

Enige militêre krisis met betrekking tot China en Vietnam kan egter Amerikaanse belange benadeel.

Die potensiële skade wat spruit uit ‘n China-Viëtnam maritieme krisis vir die VSA sal ook eksponensieel groter ekonomiese ontwrigting veroorsaak.

‘n Insident of twee in die Suid-Chinese See sal, selfs vir ‘n paar dae, die internasionale ekonomie ernstig knou, want die see is so belangrik vir handel en daar is min werklike alternatiewe roetes.

Meer as die helfte van die wêreld se handel in vloeibare aardgas en meer as 33 persent van die handel in ru-olie moet deur die gebied beweeg.

Etniese geweld in Limpopo sal OVK-regsitrasie ontwrig

Twee voertuie insluitende ‘n polisievoertuig is Donderdagaand beskadig toe inwoners van Vuwani in Limpopo paaie probeer versper het.

Die polisie se Openbare Orde-eenheid, met gepantserde voertuie is in die gebied ontplooi en het daarin geslaag om die situasie te ontlont, het RSG berig.

Voorvalle van etniese geweld het die afgelope ruk in Vuwani en omliggende gebiede naby Thohoyandou voorgekom uit ontevredenheid met Vuwani se insluiting by Malamulele om ‘n nuwe munisipaliteit te vorm.

Die OVK beraadslaag intussen met die gemeenskap in aanloop tot die laaste kieserregistrasienaweek wat môre en oormôre plaasvind.

Die vorige registrasienaweek in die gebied is deur onrus gekenmerk.

Inwoners en die pro-Makhado taakspan het reeds gesê hulle gaan die komende naweek weer kiesersregistrasie ontwrig.