Die taktiek van twee treë voorwaarts en een stap agteruit is duidelik aan die kaak gestel deur eskom se tariefverhogingstrategie. Deur vir ‘n verhoging van 50% te vra en dit dan afwaarts na 30 % aan te pas en uiteindelik te skik vir Nersa se 24,8 % wat oor die volgende twee jaar tot 25,9 % toeneem, probeer hulle die indruk skep dat hulle die verbruikers ‘n guns bewys. In die praktyk is die publiek geen guns bewys nie.
Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het ‘n beroep op die regering gedoen om Nersa te ontbind.
“Dit is duidelik dat Nersa die publiek gefaal het, en Eskom se swak bestuur beloon het,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA).
“Nou is nog teen hoë kostes verhore vir die skyn gehou. Nersa se versekerings dat die verhore nie skyn was nie, oortuig niks teen die agtergrond dat net Eskom se argumente uiteindelik in die praktyk gerealiseer het nie. Daar is geen aanduiding dat deeglik beredeneerde voorleggings oor alternatiewe finansieringsmodelle hoegenaamd verreken is nie.
“Uiteindelik is die armes, die middelklas en die landbou die groot verloorders en Eskom se soustreinryers glimlag van oor tot oor.”

“Die Vryheidsfront Plus is uiters geskok en teleurgesteld met die verhoging wat Nersa aan Eskom toegestaan het. Dit is skandalig dat Nersa, ten spyte van al die voorleggings en sinvolle voorstelle wat gemaak is, steeds besluit het op ‘n verhoging van 24,8% vir 2010 (vanaf April), 25,8% vir 2011 en 25,9% vir 2012,” was adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor energie, se reaksie op die aankondiging.