Volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens het graanproduksie vanaf 2,5 miljoen ton in 1997, tot 1,8 miljoen verlede jaar gedaal.
Mnr. Nico Hawkins, bestuurder van Graan Suid-Afrika (GSA) se nywerheidsdienste, sê die regering het in die 1990’s begin wegbeweeg van ‘n selfonderhoudende beleid sover dit voedselproduksie betref. Die nuwe voedselbeleid bring kortom mee dat: “solank as wat voedsel goedkoper op die internasionale mark is as die produksiekoste in Suid-Afrika, gaan dit nie lonend wees om dit self te verbou nie”.
GSA doen nou ‘n beroep op die regering om invoertariewe te verhoog. Hawkins verduidelik dat die vryemarkstelselbeleid dit moontlik maak vir die regering om tariewe te gebruik om boere te beskerm ten tye van lae winsgewendheid.
“Ons (die GSA) het die regering al in 2006 gevra om invoertariewe te verhoog, maar hulle het geweier. Dit het tot gevolg gehad dat die plaaslike mark nie beskerm was nie en sommige boere is ontmoedig om verder te boer,” sê Hawkins.
Mnr. Hans van der Merwe, die besturende direkteur van AgriSA, meen weer dat verhoogde invoertariewe nie die antwoord is nie. Ontwikkelende lande kan eenvoudig net nie meeding met die subsidies wat die staat aan reeds onwikkelde lande se boere betaal nie. Deur te probeer om daardie subsidiebedrae te ewenaar, gaan dit in elk geval voedselpryse die hoogte in laat skiet.
Van der Merwe sê: “Dit gaan heeltemal onbekostigbaar word vir arm mense om kos te koop, as die invoertariewe verhoog word. Die belangrikste is egter dat alhoewel subisidies steeds aangewend word in ryker nasies om hul landbousektor te ondersteun, is dit teen die gees en reëls van die Wêreldhandelsorganisasie”.
Volgens mnr. Jannie de Villiers, besturende direkteur van die Meulenaarsvereniging, dra die steeds verslegtende toestand van Suid-Afrika se infrastruktuur ook by tot die groeiende graankrisis. “In 1985 is 85% van Suid-Afrika se graan per spoor vervoer. Vandag is dit net 50% daarvan, ten spyte van die feit dat padvervoer 30% duurder is,” sê De Villiers.
Nóg ‘n bydraende faktor tot die krisis is as gevolg van ‘n tekort aan navorsing op dié gebied. Ferdi Meyer, ‘n senior lektor aan die Universiteit van Pretoria in landbou-ekonomie sê: “Navorsing en ontwikkeling het so te sê heeltemal ineengestort as gevolg van beperkte fondse en swak bestuur die laaste paar jaar. Baie min navorsing word nog gedoen met minimale finansiële ondersteuning van privaat instellings.”

Die ANC mag eerskomende Vrydag by 'n vergadering oor energie vra dat die bonusse van Eskom se bestuur ondersoek word. Aanduidings is dat Eskom se bestuur altesaam R10 miljoen se bonusse aan hulself betaal het terwyl kragonderbrekings landwyd plaasgevind het.
Ten spyte van ’n daling in koerantverkope, die beskikbaarheid van gratis nuusblaaie en die toenemende gewildheid van nuuswebwerwe op die internet, bly koerantredakteurs wêreldwyd steeds optimisties. Die Wêreldredakteursforum, gesteun deur Reuters, het pas die sogenaamde Newsroom Barometer gepubliseer.
Wiskunde en wetenskap is te moeilik en veeleisend, meen Suid-Afrikaanse skoolleerlinge. Meer as 60% van die 7 000 leerlinge wat aan 'n opname deur Mark Shuttleworth se stigting deelgeneem het, meen dit is waarom Suid-Afrika se wiskunde- en wetenskappunte so laag is vergeleke met ander lande.
Volgens ʼn studie wat so pas deur die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria vrygestel is, is Suid-Afrikaners nou meer vreesbevange oor misdaad as ooit tevore. Dít, in weerwil van polisiestatistieke wat sou toon dat misdaad aan die afneem is.
'n Outomatiese tellermasjien van ABSA is op 8 Mei 2008 oopgeskiet in Secunda, uitbreiding 22. Inwoners van die woonbuurt het die ontploffing omstreeks 3-uur die oggend gehoor. Die rowers het met 'n onbekende hoeveelheid geld ontsnap. Ons