Bodem 10: Die geskarrel

vlamtoring2

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 9 en alle vorige episodes.

Waarskuwing: Skokkende en eksplisiete leesstof.

By voorbaat vra ek om verskoning vir my lesers. Dit was nooit my begeerte om so ʼn scenario te beskryf nie, net soos wat dit my innigste wens is dat so iets nooit mag, nooit sál, gebeur nie. Maar die moontlikheid van so ʼn gebeurtenis is tragies goed. Om die waarheid te sê, op ʼn klein skaal gebeur dit reeds, elke dag in ons land. Laat ons nie vra of ons dit durf om daaroor te praat nie. Laat ons eerder vra: Durf ons stilbly? – GV

Die trok is deur NAVO aangedui as ʼn “Mine-Resistant High Utility Transport,” maar dit het gou allerweë bemind geword as die ”Mutt” – die basterbrak – onder die Kanadese, Europese en Amerikaanse troepe wat dit in Irak en Afghanistan gebruik het. Dit is vervaardig in Port Elizabeth deur Defence Logistics en meer as ʼn duisend is uitgevoer. Orals waar dit gebruik is, is dit gewild. Dit is net so ʼn gewillige voertuig, groter en meer robuus as die Amerikaanse Humvee en kleiner en makliker om te gebruik en te onderhou as hulle MRAP. Dit is ʼn hoë, gepantserde, vyftonvragmotor wat bakbeen staan op groot wiele, met ʼn koeëlvaste kompartement wat ontwerp is vir agt swaargewapende soldate en ʼn masjiengeweerinstallasie op die dak.

Hierdie een was spierwit gewerf met die letters “UN” in groot blou letters op die deure, tot onlangs deel van ʼn oorspronklike besending wat  vir Verenigde Nasies-vredesoperasies in Sentraal-Afrika bedoel was. Dit het onverwags oor die hoogtetjie van Villiers se kant af verskyn, begelei deur twee Land Cruiser-bakkies en vier van die alombekende Hilux’e. Al die voertuie het gewemel van jillende swart milisie.

Die Mutt se 7,62 mm-tweelingmasjiengewere is bo, voorop die voertuig gemonteer en kan met afstandbeheer vanuit die kajuit gevuur word. In hierdie geval is dié beheer ontkoppel en die wapens is beman deur ʼn gesette, jong swartman met ʼn wit bofbalkeps agterstevoor op sy kop en sonder ʼn hemp. Hy staan halflyf uit die luik en hurk agter die masjiengeweerstellasie. Twee skroeiende kolligte is weerskante gemonteer en beweeg in gelid met die wapens.

Die voertuie het hulle hoofligte af gehou en eers aangeskakel toe hulle oor die kruin van die hoogtetjie gejaag kom. Die Mutt se kolligte het oombliklik in die donker ingesteek en toe begin die geskietery. Die koeëls van die eerste lang sarsie het 11 motors getref, deur sagte bakwerk metaal gefluit, stukke uit enjinblokke geruk, vensters verkrummel en tonnels geslaan deur stoffering, bagasie, klerasie en menslike organe en skelette. Agter die skut op die Mutt het sy kamerade gejubel en geskreeu en gefluit en sterspronge gedoen om sy werk goed te keur en hom aan te moedig.

Binne oomblikke het die motoriste gereageer soos hoenders as daar ʼn string klappers in hulle hok val. Voertuie het links en regs uit die rye geswaai; dié in die regterkantste baan meestal na regs in die rigting van Vereeniging en dié in die linkerbaan na Balfour se koers. ʼn Benoude asemhaling later en daar was reeds dosyne ongelukke in die chaotiese geskarrel. Motors het mekaar uit die pad gestamp. Ander was te laag om oor die middelmannetjie of deur die afvoerslote te kom en het vasgeval. Meeste van die insittendes het deure oopgegooi en uitgetuimel en begin hardloop; meeste van húlle is deur die dosyne milisie op die bakkies afgemaai voordat hulle enkele treë kon vorder.

ʼn Geel-en-wit Fiat Panda het reg voor die Mutt ingejaag en die dikvelvragmotor is sonder vertraging eenvoudig bo-oor sodat die breë swaar wiele diep dongas oor die karretjie gedruk het, soos wat koekrollerhoue met ʼn sagte sjokoladekoek sou doen. Vyf mense daarin is vergruis. Een tienerseun het minute gevat om in sy eie longbloed te verstik.

Vyftig meter verder het die Mutt eers die Hyundai-bussie wat Daan-Dirk uit die pad gestoot het en toe die BMW X5 getref en kante toe gekaats in ʼn boogreën van glasbrokkies en verskeurde voertuigstaal. Die Indiër wat vir Daan-Dirk ʼn stywe middelvinger gewys het, het gesterf met ʼn voorarmbreedte stuk metaal wat hom onder die ken getref en teen die kopleuning van die sitplek vasgesteek het.

Nagenoeg ʼn kilometer verder het die Mutt sonder meer kortom regs geswaai, ʼn Golf en ʼn Bantam-bakkie uit die pad geskouer en dwars agter die rye voertuie gaan staan en enige ontsnapping na daardie koers geblokkeer.

Nog twee Mutts het intussen verskyn en die pad in die rigting van Villiers geblokkeer. Tussen die voorste en die agterste versperrings is meer as 300 motors vasgekeer. Van dié wat regs geswaai het, het 34 die veld gehaal.

Heel voor, amper komieklik, was ʼn klein sportbuksie, ʼn Daihatsu Terios, wat oor die veld geskoert en gebokspring het soos ʼn vlakhaas voor ʼn pak windhonde uit. Die ander voertuie het in waaierformasie agter die Terios aan oor die veld geskarrel. Die sedanmotors het eerste vasgeval, toe ʼn Chrysler Voyager-bussie en ʼn Volkswagen Amarok. ʼn Chevrolet Captiva het skerp regs geswaai en die Nissan Murano langs hom het ewe heftig links gedraai en die twee voertuie het met groot vaart en met ooppoffende lugsakke teen mekaar gebots.

Drie van die Hilux’e en twee van die Land Cruisers het tussen die motors ingejaag en die bloedkoorsige milisie daar agter op het onbeheersd op alles en almal begin skiet, meestal met R4- en R5-stormgewere. Onder die wapens was ten minste vier 40-millimeter-enkelskootgranaatwerpers en die eerste ontploffings het diep en gedemp in die nag geknal.

Die eerste busse het nou opgedaag, ʼn streep van sewe passasiersdraers, die kleinste een gelisensieer om 64 sittendes te vervoer, almal van hulle met meer as ʼn honderd rasende, gierende mense aan boord. So gretig was hulle om uit te klim dat hulle by die deure uitgestroom het terwyl die busse nog in aantog na die toneel was en net twee busse het nie enige passasiers wat voor om gestorm het, doodgetrap nie. 11 mense is so dood, skreeuend, singend, sissend en selfs laggend onder die swaar wiele.

Die busse het in ʼn linie met lang gapings tussen hulle stilgehou en die passasiers is uit in ʼn woedende, krioelende, verterende stroom mense, mans en vrouens en heelwat kinders en in hulle swaaiende, kappende, flitsende hande was daar Lasher-kapmesse, pikke, skoffelpikke, byle, hamers en messe, selfs kaal stokke of ysterstawe vir dié wat niks anders kon kry nie.

Die nag se slagwerk het begin.

Hulle het begin met die voertuie wat op die snelweg vasgekeer is. Insittendes het, natuurlik, die deure gesluit. Maar dit het nie gehelp nie. Vensters is eenvoudig met sarsies hamer- of bylhoue in losbarstings van glas verpletter. Mans, vrouens, kinders en hier en daar troeteldiere, is uitgesleep aan arms, nekke, gesigsvelle wat vasgegryp is,  en hare. Die slagoffers is op die grond geslinger en tierende aanvallers het kringetjies om elkeen, of twee-twee, gevorm, soos bakterieë om ontblote weefsel, en die byle, hamers, stokke en ysterstawe het gerys en gedaal, gerys en gedaal, gerys…

Motors is omgekeer en aan die brand gesteek, soms met soebattende passasiers nog daarin.

Sporadies en in kolle het van die motoriste hulleself probeer verweer. Vuurwapens is getrek en skote gevuur. Aanvallers is getref en het geval. Maar die bloedlus was te oorweldigend en die weerstand te onsamehangend en die milisie het met hulle outomatiese gewere dit maklik en brutaal uitgedoof.

Daar was meer as vyftig motors wat wel links van die pad af kon kom, maar hulle roete is versper deur die rantjies waarop Daan-Dirk en Brian so ʼn  kort tydjie vroeër geklim het. Die massas het agter hulle aangestroom en die onheilige werk het voortgegaan.

In die oorkantste veld, toe hulle motors en bakkies vasval, het die meestegeknal insittendes te voet probeer vlug. ʼn Halfdosyn 4 x 4’s het die veld getem, maar is van agter af voos geskiet deur die milisie op die Toyota-bakkies. Een van die busse het roekeloos genoeg oor die pad gedraai en is holderstebolder die veld in waar dit skaars 200 meter verder vasgeval het. Maar dit was ver genoeg. Die moorddadige saamryers is uit en het oor die veld versprei en die voortvlugtendes maklik ingehaal en oorrompel of het dié wat in hulle motors gebly het, omsingel en die ruite gebreek of die rygoed omgegooi en aan die brand gesteek.

Net een voertuig het aanhou ry: Die verstommende Terios. ʼn Gemonteerde masjiengeweer op ʼn Land Cruiser het ʼn volle ammunisieband op hom leeggeskiet. Dit was duidelik hy is getref, want hy het in reaksie geswenk. Maar nie opgehou ry nie.

Agter die Terios, in die veld, het die bloedorgie voortgegaan.

Een man, middeljarig met teruggekamde grys hare, het self uitgeklim en al ses skote uit sy Taurus .357 Magnum op ʼn aanstormende bende leeggeskiet. Meeste van die kragtige koeëls is deur die lywe wat hy getref het sodat hy vier doodgeskiet en vier gewond voor die rewolwer leeg was. En daar was nog baie, so baie, wat na hom genael gekom het.

Hy het weggestaan en met sy linkerhand die sakke van sy reënbaadjie en sy langbroek geklop op soek na nog ammunisie toe hulle sy vrou, sy twee hoërskoolseuns en laerskooldogter uit die Audi gesleep het. Naderhand het hy sy rewolwer laat val en bloot die kante van sy kop vasgegryp terwyl hulle met sy seuns besig was en die klere van sy vrou en dogter op die grond geskeur is voordat hy amper terloops van agter met ʼn tuinvurk doodgesteek is.

Dit was uit die hel, ʼn bladsy uit ʼn gids van Oemghoenghoendloewoe, ʼn illustrasie van die Inferno. Hoë vure het by wrakke gebrand en in die gloed is daar gekap en gesteek en gedans, sulke hoogopskopdanse met knieë en elmboë. Daar is gesing en geskaterlag en gejou en dreigend gebulder. En daar is gegil, gesmeek, belowe, vervloek…

Hulle is verbrysel en vermoor; dikwels verbrysel, verkrag en vermoor. Man, vrou, kind, troeteldier. Jonk en oud. Blank, swart, kleurling en Indiër. Maar verreweg meestal blank.

Oorkant die veld het die Terios die dwarsgrondpad oorgesteek en die graanland bereik. Voor hom was daar tien voertuie in desperate vlug.

(Lees vervolgens Bodem 11)

Bodem 9: Die enkelgelid

vlamtoring2

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 8 en alle vorige episodes.

Die tien voertuie staan in ʼn linie langs mekaar, die snelweg aan hulle rugkant en hulle snoete in ʼn suidwestelike rigting: sewe stasiewaens, twee bakkies en die Unimog met sy hoë toegeboude laairuimte vierde van regs. Dit het opgehou reën en ʼn stywe wind stoot die wolkbank uitmekaar in groot, donker, wollerige wolke wat soos geruislose slagskepe weg van mekaar dryf. ʼn Driekwartvolmaan skiet geelwit strale deur die gaping bo die voortvlugtendes en vee die veld met sagte lig. Voor hulle lê ʼn weiveld vol kniehoogte gras en onkruid. Daar was hierdie seisoen nog nie vee in hierdie kamp nie. Dis ń wye veld wat ʼn kilometer, kilometer-en-‘n-half strek tot wie weet wat daar voor in die nag skuil.

“Alle stasies, alle stasies, Charlie Papa… is alle voertuie hier?” vra Daan-Dirk oor die lug in sy amptelike stem.

“Dis ʼn negatief, Charlie Papa,” sê JP vinnig sodat niemand hom kan voorspring nie. “Die X-Trail sal nie verder saamry nie.”

“Alfa Victor Twee, Charlie Papa, gee sitrap.”

“Die moervelle het hulle van die pad afgery, die donners in die BMW’s.”

“Charlie Papa, en die insittendes?”

“Ons het hulle saamgebring. Hulle is orraait, maar Barry het hulp nodig. Ek dink die dok moet by hom uitkom.”

“Alpha Hotel Twee, Charlie  Papa, Dok, het jy ge-copy. Kan jy hulp verleen?

“Mense, ons moet hier wegkom.

“Dok, as jy net gou kan kyk wat sy toestand is, ek wil dat ons so gou moontlik ten minste anderkant hierdie veld kom.”

“Charlie Papa, Alpha Hotel Twee, Dok sê sy copy.”

Dokter Jana Verhoef, wat soos ʼn veer op die wind die konvooi meegemaak het – met min vertroue maar sonder verset – het in die hoek tussen die agtersitplek en die Patrol se bakwerk in ʼn groot kontinentale kussing versink gesit toe die berig deurkom. Haar instinkte is so akuut dat sy oombliklik regop sit en dadelik haar hand op die vierkantige toeritsseiltas met haar mediese implemente en middels lê. Sekondes later staan sy langs die Ramkat met haar hand op Barry Hackett se skouer.

Sy is ʼn lang vrou in haar vroeë dertigs met lang teruggebinde, glanslose donker hare, eens ʼn skraal meisie met swemmerskouers, lang gespierde bene en borste wat groot genoeg is om ʼn faktor in haar beroep te wees, maar nou meer geset as mollig met dik polse en enkels, en ʼn streng gesig deesdae met bolwange en ʼn skraal neus wat te groot is vir haar om ooit as mooi gereken te word. In die lig van ʼn flits maak sy ʼn vinnige oorsig van Barry se situasie. Sy gesig is ʼn gefrommelde masker van dik rooi bloed en hy hyg vir asem deur ʼn mond wat drie voortande in die bokaak en twee onder makeer, ʼn donker spelonk van bloed en rooigeverfde tande. Jana kry ʼn handvol katoendeppers en pers dit op die snywonde aan sy voorkop, een oogbank en linkerwang.

“Hou dit vir my daar!” beveel sy en Thelma, bewerig maar met die krag wat vroue in nood ontdek, rek haar hande oop en plaas vingers op al die katoenkussinkies.

Jana gaan voort om te druk op potensiële probleemplekke met haar vingerpunte op Barry se bolyf terwyl sy hom uitvra en versoek om op haar tastinge te reageer. Sy staan terug en kry haar stetoskoop uit en heg dit aan haar ore.

“Hy het twee gebreekte ribbes,” lig sy fronsend vir die insittendes van die Ramkat in, “en twee of drie is gekraak. Moontlike inwendige beserings, hoe ernstig kan ek nie sê nie. Sy borsbeen is ten minste gekraak, sy wangbeen het ʼn fraktuur en sy een oogbank ook en sy neus is beslis gebreek. Ons moet hom op ʼn bed kry dat ek hom behoorlik kan ondersoek. En ʼn drup op hom kry.”

“ʼn Bed?” vra Thelma bedremmeld. “Maar waar?”

“Kom!” sê JP en plaas sy halfgerookte Camel-sigaret in die hoek van sy mond en trek sy linkeroog halfmas teen die opkrullende rooklint. Hy leun vorentoe en draai die aansittersleutel. Die dieselenjin rammel aan die gang.

Jana Verhoef vra nie vrae nie, hys haarself bloot op teen die kant van die Ramkat en sit met een boud op die pypraam sodat haar bene buite afhang.

JP ry voor langs die konvooi verby en hou voor die Holtzschuh’e se Unimog stil. Hy wip uit en rek lang treë tot by die bestuurdersvenster wat aan die linkerkant van die voertuig is. Andreas Holtzschuh laat die venster saak.

“Wat gaan aan?” vra hy?

“Ons het ʼn bed nodig. Die zotte het vir Barry gemoer. Hy is… nie lekker nie.”

“Gebruik die agterste deur,” sê Andreas, “dit sal die maklikste wees.”

Die binneruim van die Unimog is karig maar luuks uitgelê met ʼn slaapkompartement dwars bo die bestuurskajuit en twee stapelbedjies net agter die voorste passasiersitplek. Die twee Holtzschuh-sussies, Ellen en Dalene (uitgespreek “Dih-LIEN”) ontruim die onderste bedjie waarop hulle gesit het en klouter op na die hoofslaapkompartement. Jana, met die ietwat bruuske hulp van Jack en JP – smeulende Camel nog steeds in sy mondhoek – installeer ʼn kreunende Barry op die smal bed terwyl ʼn verbouereerde Thelma oor haar skouer loer.

Die twee Hackett-seuntjies probeer inklim wanneer JP die voertuig verlaat en hy keer hulle aan.

“Kom julle bulle,” sê hy, ʼn hand op elkeen van hulle se skouer. “Die dokter en julle ma gaan mooi na Pa kyk. Julle ry saam met my in die Ramkat. Hou julle oë oop vir Apaches!”

“Charlie Papa, wat kan die dokter vir ons sê?”

“Barry is nou in die ‘Mog,” sê JP. “Die dokter reken hy het ribbes gebreek, ʼn wangbeen en oogbank ook en moontlike inwendige beserings. “

“Charlie Papa, Charlie Papa, Alpha Hotel,” val Andreas in. “Die dokter is besig om hom verder te ondersoek. Sal berig sodra ons meer inligting het.”

“Charlie Papa, goed. Goed. Maar mense, ons moet ry. Ek wil so ver ek kan van die snelweg afkom. Die situasie lyk of dit uitmekaar kan val.”

“Joubert is nog nie hier nie.”

“Ek is twee mikes van julle af!” skuur Joubert se gejaagde stem oor die radio tussen die windsteuringe deur en met die gerammel van die XT duidelik hoorbaar. “En ja, kry afstand tussen julle en die pad. Ry! Ry! Ek is nou daar.”

“Alpha Hotel, die dokter sê sy het nog tyd nodig.”

“Alpha Hotel, Charlie Papa, sê sy moet haar bes doen terwyl ons ry. Ons kan nie wag nie, ons ry!”

“Charlie Papa, ons ry!”

Die Möllers se Land Cruiser, heel links in die linie, begin dreun en orals word enjins in gehoor oorgeswaai.

“Daan-Dirk!” sê JP, “laat ek voor ry!”

“Charlie Papa, negatief, ek herhaal negatief. Ek het dit.”

“Wag! Laat ek dit doen. As daar ʼn gat of ʼn donga of ʼn stomp is, die Ramkat kan dit vat. As jy vasval, gaan ons al ons dae hê!”

Stilte wat rek.

“Alpha Hotel Twee, Alpha Hotel Twee, Charlie Papa berig oor!”

“Praat met my, Daan-Dirk.”

“Charlie Papa, nou goed. Jy is touleier. Hou ʼn goeie spoed maar moenie jaag nie. Alle ander roepseine, val in, enkellinie. Bly in die spore van die voertuig voor jou. Ons  wil nie aandag trek nie, so parkeerligte, net parkeerligte.”

JP bring die Ramkat voor die konvooi verby en regoor Daan-Dirk se Land Cruiser swenk hy regs en pyl oor die veld op die kortste roete na die oorkant weg van die snelweg af. Hy skakel sy hoofligte aan en die twee strale slaan wit bane oor die veld.

“Parkeerligte het die man gesê,” maan Jack terwyl hy homself in posisie probeer stut met sy linkerhand teen die skommelstang teen die voorste paneel en sy regterhand wat die onderkant van sy sitplek vasgryp.

“Laat hy my eers vertel hoe om in die donker te sien, dan friekin’ ry ek sonder enige ligte!” skree JP oor die tromgeraas van die oop enjin.

Op die agterste sitplek, tussen die twee seuntjies, sprei Jeanelle haar arms en kry ʼn rolstaaf met elke hand beet.

“Hou vas!” gil sy vir hulle en die twee Hackett-tjies klou aan haar soos blouapies aan ʼn vlagpaal in stormweer.

Daan-Dirk vertrek agter die Ramkat aan en een na die ander val die voertuie agter hom in die linie in.

In die helderverligte binneruim van die Unimog kyk dokter Jana Verhoef besorg na Barry wat wip en skommel op die smal bed terwyl sy vernielde gesig vertrek elke keer as die voertuig wip of skud en hy punktueer dit met kreune en soms selfs ʼn half-gedempte gil. Sy buig oor hom en kry die oorkant van die bed beet en probeer hom met haar lyf verhoed om af te val. Agter haar wieg en steier Thelma, haar arms kante toe gehou om haarself teen die wande van die voertuig te steun.

Uiteindelik hoor hulle die Unimog in ʼn cadenza van enjinritmes terugwissel na laer ratte. Nog ʼn paar tellings en die groot wa wieg tot stilstand. Buite hoor hulle die enjinrammelings van ander voertuie wat aan hulle regterkant parkeer.

Jana sit orent, vroetel in haar mediese tas en kry ʼn plastiekbotteltjie met haar sterkste pynkapsules uit. Sy stoot die doppie met haar duim oop en skud twee van die silindertjies in haar handpalm uit.

“Drink dit,” sê sy vir Barry. “Ek kry vir jou water. Ek dink jy gaan dit nog nodig kry. Ons is nog nie daar nie.”

Die voertuie staan weer in ʼn uitgespreide linie. Daan-Dirk het uitgeklim en staan by die doringdraadheining voor hulle. Hy skyn met ʼn groot batterylamp oor die toneel. Aan die ander kant van die heining is ʼn smal strook rowwe veld en dan ʼn grondpad wat voor hulle van links na regs lê. Oorkant die pad is ʼn baie groot graanland, vol deinings nat grond en ʼn woesteny van opskietmielies en onkruid.

JP en Jack val weerskante van hom in.

“Geweet ek moes met my Massey Ferguson gery het,” sê Jack. “Selfs die Ramkat sal sukkel daardeur. Dis ʼn see van modder.”

“Ramkat sal dit doen,” sê JP.

“En ʼn ML Benz?”

In die veld slaan ʼn bekende klapper-in-ʼn-koekblikgeluid op en die drie draai in gelid om.

Joubert kom gebukkend staande op die Yamaha in die maanlig aangery.

JP suig diep aan sy Camel-stompie, haal dit met voorvinger en duim uit sy mond, skiet dit teen die grond vas en boor sy skoenpuntsool daarop. Hy stap in die rigting van die motorfiets en Joubert glybriek tot by hom. Hy staan regop met die motorfiets luierend tussen sy bene.

“Jy vat maar jou tyd, pel,” sê JP en slinger ʼn arm om sy seun se skouers.

Daan-Dirk en Jack kom staan by hulle.

“Ons moet besluit wat om te doen,” sê die konvooileier en sy groot kop draai onrustig. “Gaan ons padlangs of gaan ons deur die land.”

“Err.. die pad?” sê Jack onseker.

“Die land,” sê JP ferm.

“Hoekom sê jy so?” vra Daan-Dirk.

“Ons karre. Op die pad kan hulle met ons doen wat hulle wil. Ons kan nie vir ʼn Hilux wegkom nie, wat nog daai BMW’s of enige ander kar. Maar sonder die X-Trail is ons baas in die veld.”

“Die land is sag,” stry Jack. “Dis nag. Jy weet wat is die reël oor om in die nag te vier-by-vier.”

“Ek dink,” sê JP en sug, “die reëls is nie meer vir hier of nou nie. Daan-Dirk?”

Daan-Dirk Möller gooi sy kop agteroor en kyk asof daar antwoorde in die sterre is. Hulle kan nie nou ʼn flater maak nie en padlangs of deur die land, ʼn potensiële katastrofe is een besluit – sy besluit – ver.

Hy laat sak sy kop en laat die asem uit hom lek.

“Die land,” sê hy. “Ons ry deur die land.”

“Oom!” sê Joubert wat omgekyk het na die snelweg se rigting hard. “Die land is reg, Oom, maar ons moet dit nou doen, nou! Kyk!”

ʼn Anderhalfkilometer van hulle, eers een paar, dan nog een en nog en dan oor ʼn wye front, swaai motors se hoofligte oor die veld en steek soos stywe vingers deur die donker. Dan hoor hulle dit: Die gekastanjet van outomatiese geweervuur in die nag. En die motors, bakkies, vragmotors, nutsvoertuie kom en hulle ligte flits nou op en af, heen en weer, soos opstelstokkies wat deur die lug trek.

“Here, Here Jesus,” prewel Daan-Dirk, “hier gebeur dit nou…”

En dan: “Kom!” gil hy, draai om en begin waggelend in die rigting van sy Land Cruiser hardloop. “Ons ry, ons ry, ons ry!”

(Lees vervolgens Bodem 10.)

Bodem 8: Stormloop

vlamtoring2‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 7 en alle vorige episodes.

Die drie Hilux-bakkies, groot en vol moderne kontoere, kom oor die kruin van die bult met die snelweg af aangesnel. Die dieselenjins snou en dis asof die laaibakke  uit woelende arms bestaan. Elke bakkie het ten minste tien swart manne agter op en is asof gehul in newels van testosteroon en uitbundige woede.

“Pahhhpie!” skreeu Jack, “hier gaan die broeke skeur,” terwyl hy sy nek heen en weer wring om die afstand tussen hulle en die bakkies en hulle en die aanstrompelende Hacketts te peil.

“Jy moet kole gooi, pel, jy moet kole gooi!” beveel hy aan.

“Ek gooi! Ek gooi!” kners JP tussen geknersde tande deur terwyl hy vooroor na die stuurwiel buig en met elke verwisseling die rathefboom in rat inkap.

Die pypkar is koning van die veldheg- en-steg, maar dit is nie mededingend op die teerpad nie. Die 2C Turbo-kragpak lewer ʼn onaansienlike 54 kilowatt wat dit geleidelik laat versnel tot ʼn minderwaardige topsnelheid. Die moderne Hilux-bakkies suig die afstand na die veteraan-Hilux-pypkar toe weg soos lint in ʼn stofsuier in.

Voor die Ramkat duik Thelma Hackett en haar twee laerskoolseuns op.

“Spring in! Spring in!” gil Jack en hy kom orent en hou homself regop met een arm oor die windskermraam gebuig.

JP stop nie behoorlik vir hulle nie, maar skuur regs van hulle verby. Jack hou sy arm uit, slaan dit om Thelma en pluk haar oor sy skoot in die voertuig in en die twee seuntjies duik halsoorkop in die pypkar in. ʼn Goeie dertig meter verder met die pad af kom Barry aangeslinger op ʼn mank draffie, vooroorgebuig, linkervoorarm oor sy maag geklem asof hy sy ingewande probeer verhinder om uit te val. JP stoot die versneller tot teenaan die vloermetaal met sy regtervoet in.

“JP… JP!” waarsku Jack. “JP, moer van die pad af!”

“Ons sal dit maak, bliksems,” sê JP ongejaag terwyl hy die aanstormende bakkies in die buitetruspieël dophou. “Hulle moere!”

“Nie hulle moere, nie JP! Ons moere!”

Jack is teen hierdie tyd redelik seker dat hulle agtervolgers in hulle gaan vas jaag in wat belowe om ʼn skouspelagtige botsing te wees.

“Jeanelle,” skree JP met sy kop skuinsgedraai na haar toe, “ons stop nie. Kry hom!”

Barry Hackett, deurtrek met kerfpyne regdeur sy borskas, sy gehyg reeds verhewig tot ʼn geroggel, kyk op na die pypkar wat in sy rigting snork met die helder agterbeligting van die aankomende Hilux’e.

“Kom! Kom!” kreun hy en waai sy los arm in ʼn wye windskermveërbeweging van links na regs, van links na regs.

Die pypkar kom reguit na hom toe en dan, twintig meter van hom af, pypkan dit effens na sy regterkant op ʼn koers teenaan hom verby. Hy meet die korterwordende afstand en dan, volgens die beste van sy oordeel werp hy homself eenvoudig teen die kant van die Ramkat vas en sou hy sekerlik daarvan afgeskram het as die jong Jeanelle hom nie op een of ander manier aan sy arm en aan die bokant van sy reënbaadjie beetgekry het nie. Vir vier, vyf treë klap sy skoensole teen die teer vas en dan kan sy bene nie meer bybly nie en word hy geheel en al langs die kar gesleep.

Jack het teen die tyd homself tussen die twee voorste sitplekke, bo-oor die verskrikte en gillende seuntjies langs Jeanelle gewerp en hy slaan sy twee werktuigkundige hande aan die desperate man se baadjie en met ʼn kreet sleep hy die man bo-oor die pypraam van die kar tot bo-op die agtersitplek, ʼn maneuver wat vir Hackett laat bulder van pyn.

ʼn Oomblik later doem die eerste Hilux reg agter hulle op en die hoofligte is skel en dreigend en dit verlig die hele pypkar en al die verskrikte passasiers en vasberade drywer daarin. Die D-4-D-enjin van die bakkie rammel soos ʼn oorlogtamboer en die pypkarenjin se turbo skel skril in ʼn verskrikte samesang. Swart lywe hang vooroor oor die bakkie se kajuit en vuiste word in die nag geskud en ʼn bloeddors word die nag in geskree.

“Hou vas!” beveel JP, trek die sidderende Ramkat net effens regs en as die bestuurder van die bakkie die wending met ʼn tikkie meer heftigheid naboots, klits JP die rempedaal van die pypkar met sy linkervoet in, net een vinnige skerp pomp, en wanneer die tollende wiele vir ʼn oomblik gryp en gly, ruk hy die stuurwiel skerp na links en gaan volspoed oor die skouer van die snelweg trompop deur die betonafvoersloot.

Die bestuurder van die bakkie, ten volle verbind om die pypkar te jaag, wring sy voertuig se stuurwiel ook links maar die Hilux, in stede daarvan om die afvoersloot loodreg te nader, tref dit skuins, baie vinnig en heeltemal te hard meters van waar die Hacketts se X-Trail ontspoor is, en die wand van die afvoersloot ruk die bakkie se wiele onder hom uit. Die groot bakkie tref die veld teen ʼn metaalverterende momentum en skuur op sy sy deur die heining waarvan die doringdrade soos garing verdeel en laat graspolle, suile modder en klippe in die naglug invlieg. Die Hilux se vrag stroom in ʼn rondomtaliewarrel van arms en bene oor die grond.

Die ander twee bakkies, sonder om ʼn meter-per-uur se snelheid in te boet, jaag by die toneel verby met blêrende toeters en ʼn Babelse uitjouery van die bendes agterop. Die Hilux wat nou voor is nader die stilstaande BMW’s op volspoed. Een van die sedans se passasiers is te laat om terug te klim in die BMW en hy is te na aan die middel van die snelweg. Die Hilux se voorste modderskermhoek tref hom in sy midderif en slinger hom in ʼn wapperende wawielbeweging van arms en bene wat omtol en klere wat losruk in die veld in. Die bakkie hou nie stil nie en die BMW se insittendes klap die deur sonder enige verdere ondersoek toe en die motor vertrek met loeiende agterbande.

Die Ramkat se eie momentum laat dit oor die ongelyke grond bons en bars en die passasiers en toerusting word ʼn keer of wat skrikwekkend in die lug geslinger om in ʼn warboel in nuwe rangskikkings terug in die voertuig te val.

Vir klein Lyall en Roger is dit ʼn oomblik van allesoorweldigende skok en vrees terwyl Thelma vasslaan in ʼn semi-katatoniese toestand en Barry hardop neul van pyn en Jeanelle desperaat probeer om alles en almal binne die voertuig te hou.

Wat Jack en JP egter beleef, is ʼn ou bekende vrylating van adrenalien en dopamien. Alle beskawingsvernis skilfer weg en hulle gil soos willewragtags, skerp, skril, uitgerekte krete, die aankondiging van die manlike van die spesie dat hy die vyand gesien, ontmoet en omseil het.

“Julle moere!, julle moere!, julle MOEHHHHHREEEE!” gil JP.

“Ek het jou gesê!, ek het jou gesê!, ek het jou gesê ons sal dit maak!” jubel Jack.

JP se gil maak ʼn fuga na ʼn skaterlag en hy stamp die toeter in ʼn oorwinningstaccato.

Dan kyk hy na Jack in die doflig van die instrumentepaneelliggies.

“Ja, jou ou moervel,” sê hy naderhand sag en uitasem. “Jy het my gesê.”

Hy verminder spoed en ry versigtig tot waar hulle die spore van die konvooi kry.

Hulle volg dit deur die gaping in die heining en sluit by hulle mense aan.

(Lees vervolgens Bodem 9.)