Bodem 8: Stormloop

Deel op

vlamtoring2‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 7 en alle vorige episodes.

Die drie Hilux-bakkies, groot en vol moderne kontoere, kom oor die kruin van die bult met die snelweg af aangesnel. Die dieselenjins snou en dis asof die laaibakke  uit woelende arms bestaan. Elke bakkie het ten minste tien swart manne agter op en is asof gehul in newels van testosteroon en uitbundige woede.

“Pahhhpie!” skreeu Jack, “hier gaan die broeke skeur,” terwyl hy sy nek heen en weer wring om die afstand tussen hulle en die bakkies en hulle en die aanstrompelende Hacketts te peil.

“Jy moet kole gooi, pel, jy moet kole gooi!” beveel hy aan.

“Ek gooi! Ek gooi!” kners JP tussen geknersde tande deur terwyl hy vooroor na die stuurwiel buig en met elke verwisseling die rathefboom in rat inkap.

Die pypkar is koning van die veldheg- en-steg, maar dit is nie mededingend op die teerpad nie. Die 2C Turbo-kragpak lewer ʼn onaansienlike 54 kilowatt wat dit geleidelik laat versnel tot ʼn minderwaardige topsnelheid. Die moderne Hilux-bakkies suig die afstand na die veteraan-Hilux-pypkar toe weg soos lint in ʼn stofsuier in.

Voor die Ramkat duik Thelma Hackett en haar twee laerskoolseuns op.

“Spring in! Spring in!” gil Jack en hy kom orent en hou homself regop met een arm oor die windskermraam gebuig.

JP stop nie behoorlik vir hulle nie, maar skuur regs van hulle verby. Jack hou sy arm uit, slaan dit om Thelma en pluk haar oor sy skoot in die voertuig in en die twee seuntjies duik halsoorkop in die pypkar in. ʼn Goeie dertig meter verder met die pad af kom Barry aangeslinger op ʼn mank draffie, vooroorgebuig, linkervoorarm oor sy maag geklem asof hy sy ingewande probeer verhinder om uit te val. JP stoot die versneller tot teenaan die vloermetaal met sy regtervoet in.

“JP… JP!” waarsku Jack. “JP, moer van die pad af!”

“Ons sal dit maak, bliksems,” sê JP ongejaag terwyl hy die aanstormende bakkies in die buitetruspieël dophou. “Hulle moere!”

“Nie hulle moere, nie JP! Ons moere!”

Jack is teen hierdie tyd redelik seker dat hulle agtervolgers in hulle gaan vas jaag in wat belowe om ʼn skouspelagtige botsing te wees.

“Jeanelle,” skree JP met sy kop skuinsgedraai na haar toe, “ons stop nie. Kry hom!”

Barry Hackett, deurtrek met kerfpyne regdeur sy borskas, sy gehyg reeds verhewig tot ʼn geroggel, kyk op na die pypkar wat in sy rigting snork met die helder agterbeligting van die aankomende Hilux’e.

“Kom! Kom!” kreun hy en waai sy los arm in ʼn wye windskermveërbeweging van links na regs, van links na regs.

Die pypkar kom reguit na hom toe en dan, twintig meter van hom af, pypkan dit effens na sy regterkant op ʼn koers teenaan hom verby. Hy meet die korterwordende afstand en dan, volgens die beste van sy oordeel werp hy homself eenvoudig teen die kant van die Ramkat vas en sou hy sekerlik daarvan afgeskram het as die jong Jeanelle hom nie op een of ander manier aan sy arm en aan die bokant van sy reënbaadjie beetgekry het nie. Vir vier, vyf treë klap sy skoensole teen die teer vas en dan kan sy bene nie meer bybly nie en word hy geheel en al langs die kar gesleep.

Jack het teen die tyd homself tussen die twee voorste sitplekke, bo-oor die verskrikte en gillende seuntjies langs Jeanelle gewerp en hy slaan sy twee werktuigkundige hande aan die desperate man se baadjie en met ʼn kreet sleep hy die man bo-oor die pypraam van die kar tot bo-op die agtersitplek, ʼn maneuver wat vir Hackett laat bulder van pyn.

ʼn Oomblik later doem die eerste Hilux reg agter hulle op en die hoofligte is skel en dreigend en dit verlig die hele pypkar en al die verskrikte passasiers en vasberade drywer daarin. Die D-4-D-enjin van die bakkie rammel soos ʼn oorlogtamboer en die pypkarenjin se turbo skel skril in ʼn verskrikte samesang. Swart lywe hang vooroor oor die bakkie se kajuit en vuiste word in die nag geskud en ʼn bloeddors word die nag in geskree.

“Hou vas!” beveel JP, trek die sidderende Ramkat net effens regs en as die bestuurder van die bakkie die wending met ʼn tikkie meer heftigheid naboots, klits JP die rempedaal van die pypkar met sy linkervoet in, net een vinnige skerp pomp, en wanneer die tollende wiele vir ʼn oomblik gryp en gly, ruk hy die stuurwiel skerp na links en gaan volspoed oor die skouer van die snelweg trompop deur die betonafvoersloot.

Die bestuurder van die bakkie, ten volle verbind om die pypkar te jaag, wring sy voertuig se stuurwiel ook links maar die Hilux, in stede daarvan om die afvoersloot loodreg te nader, tref dit skuins, baie vinnig en heeltemal te hard meters van waar die Hacketts se X-Trail ontspoor is, en die wand van die afvoersloot ruk die bakkie se wiele onder hom uit. Die groot bakkie tref die veld teen ʼn metaalverterende momentum en skuur op sy sy deur die heining waarvan die doringdrade soos garing verdeel en laat graspolle, suile modder en klippe in die naglug invlieg. Die Hilux se vrag stroom in ʼn rondomtaliewarrel van arms en bene oor die grond.

Die ander twee bakkies, sonder om ʼn meter-per-uur se snelheid in te boet, jaag by die toneel verby met blêrende toeters en ʼn Babelse uitjouery van die bendes agterop. Die Hilux wat nou voor is nader die stilstaande BMW’s op volspoed. Een van die sedans se passasiers is te laat om terug te klim in die BMW en hy is te na aan die middel van die snelweg. Die Hilux se voorste modderskermhoek tref hom in sy midderif en slinger hom in ʼn wapperende wawielbeweging van arms en bene wat omtol en klere wat losruk in die veld in. Die bakkie hou nie stil nie en die BMW se insittendes klap die deur sonder enige verdere ondersoek toe en die motor vertrek met loeiende agterbande.

Die Ramkat se eie momentum laat dit oor die ongelyke grond bons en bars en die passasiers en toerusting word ʼn keer of wat skrikwekkend in die lug geslinger om in ʼn warboel in nuwe rangskikkings terug in die voertuig te val.

Vir klein Lyall en Roger is dit ʼn oomblik van allesoorweldigende skok en vrees terwyl Thelma vasslaan in ʼn semi-katatoniese toestand en Barry hardop neul van pyn en Jeanelle desperaat probeer om alles en almal binne die voertuig te hou.

Wat Jack en JP egter beleef, is ʼn ou bekende vrylating van adrenalien en dopamien. Alle beskawingsvernis skilfer weg en hulle gil soos willewragtags, skerp, skril, uitgerekte krete, die aankondiging van die manlike van die spesie dat hy die vyand gesien, ontmoet en omseil het.

“Julle moere!, julle moere!, julle MOEHHHHHREEEE!” gil JP.

“Ek het jou gesê!, ek het jou gesê!, ek het jou gesê ons sal dit maak!” jubel Jack.

JP se gil maak ʼn fuga na ʼn skaterlag en hy stamp die toeter in ʼn oorwinningstaccato.

Dan kyk hy na Jack in die doflig van die instrumentepaneelliggies.

“Ja, jou ou moervel,” sê hy naderhand sag en uitasem. “Jy het my gesê.”

Hy verminder spoed en ry versigtig tot waar hulle die spore van die konvooi kry.

Hulle volg dit deur die gaping in die heining en sluit by hulle mense aan.

(Lees vervolgens Bodem 9.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.