Bodem 9: Die enkelgelid

Deel op

vlamtoring2

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 8 en alle vorige episodes.

Die tien voertuie staan in ʼn linie langs mekaar, die snelweg aan hulle rugkant en hulle snoete in ʼn suidwestelike rigting: sewe stasiewaens, twee bakkies en die Unimog met sy hoë toegeboude laairuimte vierde van regs. Dit het opgehou reën en ʼn stywe wind stoot die wolkbank uitmekaar in groot, donker, wollerige wolke wat soos geruislose slagskepe weg van mekaar dryf. ʼn Driekwartvolmaan skiet geelwit strale deur die gaping bo die voortvlugtendes en vee die veld met sagte lig. Voor hulle lê ʼn weiveld vol kniehoogte gras en onkruid. Daar was hierdie seisoen nog nie vee in hierdie kamp nie. Dis ń wye veld wat ʼn kilometer, kilometer-en-‘n-half strek tot wie weet wat daar voor in die nag skuil.

“Alle stasies, alle stasies, Charlie Papa… is alle voertuie hier?” vra Daan-Dirk oor die lug in sy amptelike stem.

“Dis ʼn negatief, Charlie Papa,” sê JP vinnig sodat niemand hom kan voorspring nie. “Die X-Trail sal nie verder saamry nie.”

“Alfa Victor Twee, Charlie Papa, gee sitrap.”

“Die moervelle het hulle van die pad afgery, die donners in die BMW’s.”

“Charlie Papa, en die insittendes?”

“Ons het hulle saamgebring. Hulle is orraait, maar Barry het hulp nodig. Ek dink die dok moet by hom uitkom.”

“Alpha Hotel Twee, Charlie  Papa, Dok, het jy ge-copy. Kan jy hulp verleen?

“Mense, ons moet hier wegkom.

“Dok, as jy net gou kan kyk wat sy toestand is, ek wil dat ons so gou moontlik ten minste anderkant hierdie veld kom.”

“Charlie Papa, Alpha Hotel Twee, Dok sê sy copy.”

Dokter Jana Verhoef, wat soos ʼn veer op die wind die konvooi meegemaak het – met min vertroue maar sonder verset – het in die hoek tussen die agtersitplek en die Patrol se bakwerk in ʼn groot kontinentale kussing versink gesit toe die berig deurkom. Haar instinkte is so akuut dat sy oombliklik regop sit en dadelik haar hand op die vierkantige toeritsseiltas met haar mediese implemente en middels lê. Sekondes later staan sy langs die Ramkat met haar hand op Barry Hackett se skouer.

Sy is ʼn lang vrou in haar vroeë dertigs met lang teruggebinde, glanslose donker hare, eens ʼn skraal meisie met swemmerskouers, lang gespierde bene en borste wat groot genoeg is om ʼn faktor in haar beroep te wees, maar nou meer geset as mollig met dik polse en enkels, en ʼn streng gesig deesdae met bolwange en ʼn skraal neus wat te groot is vir haar om ooit as mooi gereken te word. In die lig van ʼn flits maak sy ʼn vinnige oorsig van Barry se situasie. Sy gesig is ʼn gefrommelde masker van dik rooi bloed en hy hyg vir asem deur ʼn mond wat drie voortande in die bokaak en twee onder makeer, ʼn donker spelonk van bloed en rooigeverfde tande. Jana kry ʼn handvol katoendeppers en pers dit op die snywonde aan sy voorkop, een oogbank en linkerwang.

“Hou dit vir my daar!” beveel sy en Thelma, bewerig maar met die krag wat vroue in nood ontdek, rek haar hande oop en plaas vingers op al die katoenkussinkies.

Jana gaan voort om te druk op potensiële probleemplekke met haar vingerpunte op Barry se bolyf terwyl sy hom uitvra en versoek om op haar tastinge te reageer. Sy staan terug en kry haar stetoskoop uit en heg dit aan haar ore.

“Hy het twee gebreekte ribbes,” lig sy fronsend vir die insittendes van die Ramkat in, “en twee of drie is gekraak. Moontlike inwendige beserings, hoe ernstig kan ek nie sê nie. Sy borsbeen is ten minste gekraak, sy wangbeen het ʼn fraktuur en sy een oogbank ook en sy neus is beslis gebreek. Ons moet hom op ʼn bed kry dat ek hom behoorlik kan ondersoek. En ʼn drup op hom kry.”

“ʼn Bed?” vra Thelma bedremmeld. “Maar waar?”

“Kom!” sê JP en plaas sy halfgerookte Camel-sigaret in die hoek van sy mond en trek sy linkeroog halfmas teen die opkrullende rooklint. Hy leun vorentoe en draai die aansittersleutel. Die dieselenjin rammel aan die gang.

Jana Verhoef vra nie vrae nie, hys haarself bloot op teen die kant van die Ramkat en sit met een boud op die pypraam sodat haar bene buite afhang.

JP ry voor langs die konvooi verby en hou voor die Holtzschuh’e se Unimog stil. Hy wip uit en rek lang treë tot by die bestuurdersvenster wat aan die linkerkant van die voertuig is. Andreas Holtzschuh laat die venster saak.

“Wat gaan aan?” vra hy?

“Ons het ʼn bed nodig. Die zotte het vir Barry gemoer. Hy is… nie lekker nie.”

“Gebruik die agterste deur,” sê Andreas, “dit sal die maklikste wees.”

Die binneruim van die Unimog is karig maar luuks uitgelê met ʼn slaapkompartement dwars bo die bestuurskajuit en twee stapelbedjies net agter die voorste passasiersitplek. Die twee Holtzschuh-sussies, Ellen en Dalene (uitgespreek “Dih-LIEN”) ontruim die onderste bedjie waarop hulle gesit het en klouter op na die hoofslaapkompartement. Jana, met die ietwat bruuske hulp van Jack en JP – smeulende Camel nog steeds in sy mondhoek – installeer ʼn kreunende Barry op die smal bed terwyl ʼn verbouereerde Thelma oor haar skouer loer.

Die twee Hackett-seuntjies probeer inklim wanneer JP die voertuig verlaat en hy keer hulle aan.

“Kom julle bulle,” sê hy, ʼn hand op elkeen van hulle se skouer. “Die dokter en julle ma gaan mooi na Pa kyk. Julle ry saam met my in die Ramkat. Hou julle oë oop vir Apaches!”

“Charlie Papa, wat kan die dokter vir ons sê?”

“Barry is nou in die ‘Mog,” sê JP. “Die dokter reken hy het ribbes gebreek, ʼn wangbeen en oogbank ook en moontlike inwendige beserings. “

“Charlie Papa, Charlie Papa, Alpha Hotel,” val Andreas in. “Die dokter is besig om hom verder te ondersoek. Sal berig sodra ons meer inligting het.”

“Charlie Papa, goed. Goed. Maar mense, ons moet ry. Ek wil so ver ek kan van die snelweg afkom. Die situasie lyk of dit uitmekaar kan val.”

“Joubert is nog nie hier nie.”

“Ek is twee mikes van julle af!” skuur Joubert se gejaagde stem oor die radio tussen die windsteuringe deur en met die gerammel van die XT duidelik hoorbaar. “En ja, kry afstand tussen julle en die pad. Ry! Ry! Ek is nou daar.”

“Alpha Hotel, die dokter sê sy het nog tyd nodig.”

“Alpha Hotel, Charlie Papa, sê sy moet haar bes doen terwyl ons ry. Ons kan nie wag nie, ons ry!”

“Charlie Papa, ons ry!”

Die Möllers se Land Cruiser, heel links in die linie, begin dreun en orals word enjins in gehoor oorgeswaai.

“Daan-Dirk!” sê JP, “laat ek voor ry!”

“Charlie Papa, negatief, ek herhaal negatief. Ek het dit.”

“Wag! Laat ek dit doen. As daar ʼn gat of ʼn donga of ʼn stomp is, die Ramkat kan dit vat. As jy vasval, gaan ons al ons dae hê!”

Stilte wat rek.

“Alpha Hotel Twee, Alpha Hotel Twee, Charlie Papa berig oor!”

“Praat met my, Daan-Dirk.”

“Charlie Papa, nou goed. Jy is touleier. Hou ʼn goeie spoed maar moenie jaag nie. Alle ander roepseine, val in, enkellinie. Bly in die spore van die voertuig voor jou. Ons  wil nie aandag trek nie, so parkeerligte, net parkeerligte.”

JP bring die Ramkat voor die konvooi verby en regoor Daan-Dirk se Land Cruiser swenk hy regs en pyl oor die veld op die kortste roete na die oorkant weg van die snelweg af. Hy skakel sy hoofligte aan en die twee strale slaan wit bane oor die veld.

“Parkeerligte het die man gesê,” maan Jack terwyl hy homself in posisie probeer stut met sy linkerhand teen die skommelstang teen die voorste paneel en sy regterhand wat die onderkant van sy sitplek vasgryp.

“Laat hy my eers vertel hoe om in die donker te sien, dan friekin’ ry ek sonder enige ligte!” skree JP oor die tromgeraas van die oop enjin.

Op die agterste sitplek, tussen die twee seuntjies, sprei Jeanelle haar arms en kry ʼn rolstaaf met elke hand beet.

“Hou vas!” gil sy vir hulle en die twee Hackett-tjies klou aan haar soos blouapies aan ʼn vlagpaal in stormweer.

Daan-Dirk vertrek agter die Ramkat aan en een na die ander val die voertuie agter hom in die linie in.

In die helderverligte binneruim van die Unimog kyk dokter Jana Verhoef besorg na Barry wat wip en skommel op die smal bed terwyl sy vernielde gesig vertrek elke keer as die voertuig wip of skud en hy punktueer dit met kreune en soms selfs ʼn half-gedempte gil. Sy buig oor hom en kry die oorkant van die bed beet en probeer hom met haar lyf verhoed om af te val. Agter haar wieg en steier Thelma, haar arms kante toe gehou om haarself teen die wande van die voertuig te steun.

Uiteindelik hoor hulle die Unimog in ʼn cadenza van enjinritmes terugwissel na laer ratte. Nog ʼn paar tellings en die groot wa wieg tot stilstand. Buite hoor hulle die enjinrammelings van ander voertuie wat aan hulle regterkant parkeer.

Jana sit orent, vroetel in haar mediese tas en kry ʼn plastiekbotteltjie met haar sterkste pynkapsules uit. Sy stoot die doppie met haar duim oop en skud twee van die silindertjies in haar handpalm uit.

“Drink dit,” sê sy vir Barry. “Ek kry vir jou water. Ek dink jy gaan dit nog nodig kry. Ons is nog nie daar nie.”

Die voertuie staan weer in ʼn uitgespreide linie. Daan-Dirk het uitgeklim en staan by die doringdraadheining voor hulle. Hy skyn met ʼn groot batterylamp oor die toneel. Aan die ander kant van die heining is ʼn smal strook rowwe veld en dan ʼn grondpad wat voor hulle van links na regs lê. Oorkant die pad is ʼn baie groot graanland, vol deinings nat grond en ʼn woesteny van opskietmielies en onkruid.

JP en Jack val weerskante van hom in.

“Geweet ek moes met my Massey Ferguson gery het,” sê Jack. “Selfs die Ramkat sal sukkel daardeur. Dis ʼn see van modder.”

“Ramkat sal dit doen,” sê JP.

“En ʼn ML Benz?”

In die veld slaan ʼn bekende klapper-in-ʼn-koekblikgeluid op en die drie draai in gelid om.

Joubert kom gebukkend staande op die Yamaha in die maanlig aangery.

JP suig diep aan sy Camel-stompie, haal dit met voorvinger en duim uit sy mond, skiet dit teen die grond vas en boor sy skoenpuntsool daarop. Hy stap in die rigting van die motorfiets en Joubert glybriek tot by hom. Hy staan regop met die motorfiets luierend tussen sy bene.

“Jy vat maar jou tyd, pel,” sê JP en slinger ʼn arm om sy seun se skouers.

Daan-Dirk en Jack kom staan by hulle.

“Ons moet besluit wat om te doen,” sê die konvooileier en sy groot kop draai onrustig. “Gaan ons padlangs of gaan ons deur die land.”

“Err.. die pad?” sê Jack onseker.

“Die land,” sê JP ferm.

“Hoekom sê jy so?” vra Daan-Dirk.

“Ons karre. Op die pad kan hulle met ons doen wat hulle wil. Ons kan nie vir ʼn Hilux wegkom nie, wat nog daai BMW’s of enige ander kar. Maar sonder die X-Trail is ons baas in die veld.”

“Die land is sag,” stry Jack. “Dis nag. Jy weet wat is die reël oor om in die nag te vier-by-vier.”

“Ek dink,” sê JP en sug, “die reëls is nie meer vir hier of nou nie. Daan-Dirk?”

Daan-Dirk Möller gooi sy kop agteroor en kyk asof daar antwoorde in die sterre is. Hulle kan nie nou ʼn flater maak nie en padlangs of deur die land, ʼn potensiële katastrofe is een besluit – sy besluit – ver.

Hy laat sak sy kop en laat die asem uit hom lek.

“Die land,” sê hy. “Ons ry deur die land.”

“Oom!” sê Joubert wat omgekyk het na die snelweg se rigting hard. “Die land is reg, Oom, maar ons moet dit nou doen, nou! Kyk!”

ʼn Anderhalfkilometer van hulle, eers een paar, dan nog een en nog en dan oor ʼn wye front, swaai motors se hoofligte oor die veld en steek soos stywe vingers deur die donker. Dan hoor hulle dit: Die gekastanjet van outomatiese geweervuur in die nag. En die motors, bakkies, vragmotors, nutsvoertuie kom en hulle ligte flits nou op en af, heen en weer, soos opstelstokkies wat deur die lug trek.

“Here, Here Jesus,” prewel Daan-Dirk, “hier gebeur dit nou…”

En dan: “Kom!” gil hy, draai om en begin waggelend in die rigting van sy Land Cruiser hardloop. “Ons ry, ons ry, ons ry!”

(Lees vervolgens Bodem 10.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.