Apple help polisie met Oscar se foon

Die rekenaarreus Apple, staan die Suid-Afrikaanse polisie by om toegang te kry tot ‘n selfoon wat deur die moordbeskuldigde Oscar Pistorius gebruik is op die aand wat sy vriendin Reeva Steenkamp in sy huis doodgeskiet is.

Pistorius hou vol dat hy nie die pinnommer kan onthou wat nodig is om die foon te ontsluit nie.

Die Britse “Mail on Sunday” het gister berig dat die iPhone 5 op die vloer van die badkamer gekry is waar die model geskiet is.

Aanklaers is van mening dat die foon deurslaggewende inligting bevat. Luitenant-generaal Nineshkumar Moonoo, wat die ondersoek lei, sê Apple het tegnici beskikbaar gestel om te help.

Pistorius moet weer op die 19de Augustus in die hof verskyn.

Media, polisie voor hospitaal waar Mandela lê, saamgetrek

Polisie- en mediavoertuie is Maandagoggend by die hospitaal in Pretoria opgemerk waar oudpres. Nelson Mandela in ‘n kritieke toestand is.

Die hospitaal se ingang in Celliersstraat is gesluit, en die polisie beman die ander ingang in Parkstraat.

Nuusspanne het Sondagaand op die hospitaal toegesak ná die presidensie aangekondig het dat die voormalige staatshoof se toestand kritiek is. Die meeste van dié voertuie was teen 03:00 weer weg.

Meer as 20 voertuie het egter steeds in Celliersstraat gestaan, insluitend uitsaaivoertuie van plaaslike en internasionale mediamaatskappye.

‘n Paar verslaggewers het die bittere koue trotseer en naby die hospitaal se ingang in Parkstraat gesels.

Verskeie polisiebeamptes hou op die hospitaal se perseel wag. ‘n Toyota Quantum van die polisie is op die terrein geparkeer, naby die Parkstraat-ingang.

Verskeie polisievoertuie patrolleer ook die gebied.

“Die toestand van oudpres. Nelson Mandela, wat steeds in die hospitaal is in Pretoria, is tans kritiek,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, in ‘n verklaring gesê wat Sondagaand uitgereik is.

Dis uitgereik ná pres. Jacob Zuma en die adjunkpresident van die ANC, Cyril Ramaphosa, Madiba besoek het.

Munisipaliteite in 4 provinsies skuld meer as miljard

Die munisipaliteite in net vier provinsies, Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, skuld Eskom gesamentlik R1,1 miljard. Die totale uitstaande skulde van staatsdepartemente vir dienste aan dieselfde munisipaliteite beloop egter R1,2 miljard. Hierdie syfers is verskaf deur die minister van samewerkende regering en tradisionele Sake, mnr. Richard Baloyi, in antwoord op ‘n vraag van Pieter Groenewald, LP van die Vryheidsfront Plus in die parlement.

“Eskom dreig van hierdie munisipaliteite dat hulle die kragtoevoer gaan afsny weens nie-betaling van Eskom se rekening en destabiliseer daardeur die plaaslike ekonomie. Indien die staat egter sy verpligting nakom en sy diensterekening aan die munisipaliteite betaal, kan Eskom se rekening ten volle vereffen word. Die staat is die enigste aandeelhouer van Eskom en dit is ironies dat die staat eintlik homself dreig. Die staat is ‘n wanbetaler van dienstegelde en getroue betalers van dienstegelde subsidieer nou die staat as wanbetaler. Hulle betaal reeds belasting aan die staat en dit is niks anders as dubbele belasting nie,” sê mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake.

Volgens die antwoord van die minister skuld Oos-Kaap R18,803 miljoen, Vrystaat R436,851 miljoen, Mpumalanga R463,588 miljoen en Noordwes R182,345 miljoen aan Eskom. Staatsdepartemente skuld munisipaliteite in Oos-Kaap R134,1 miljoen, Vrystaat R135,1 miljoen, Mpumalanga R551,9 miljoen en Noordwes R415,9 miljoen vir agterstallige dienstegelde.

“Die minister het in sy begrotingsdebat in die parlement vertel hoe ‘wonderlik’ dit gaan op plaaslike regeringsvlak. Hierdie syfers is bewys van die krisis in plaaslike regering en bewys dat Baloyi die publiek mislei. Ek sal beslis die minister vra wanneer die staatsdepartemente hulle skuld gaan betaal, aangesien dit onregverdig is teenoor die belastingbetalers wat getrou hulle diensterekeninge betaal,” sê Groenewald.

SA politiek verskuif van links na vêrlinks, met ‘n kappie!

Die Suid-Afrikaanse politiek verskuif al hoe verder na links: van links na vêrlinks, met ‘n kappie! In vandag se Rapport verklaar Zille in wese dat haar party, die DA, vir die ANC se rassewetgewing stem waarmee blankes benadeel en swartes bevoordeel word. Watter “nuanse” is hier ter sprake? Dat die mense wat die groot bedrae geld ontvang van die ANC is en nie van die DA nie? Op Midvaal het ons gesien hoe DA-raadslede te werk gaan om hul sakke te vul en hoe die sogenaamde fluitjieblaser, Kobus Hoffman, deur Zille vervolg is!

Zille en die DA sit op twee stoele: aan die een kant beroep die party hom op die “ou Liberale Party” se beginsels en aan die ander kant steun hy swart bevoordeling. Ook staan hy staatsinmenging in die ekonomie voor.

Terloops, dié Liberale Party “uit die vroeë 1960s” waarvoor Zille soveel bewondering koester, was die einste wat ‘n Olimpiese boikot teen Suid-Afrika bepleit het en ook vir die stasiebom verantwoordelik was. Op sahistory.org.za gestel word daar oor die stasiebomterroris en lid van die Liberale Party, John Haris, gesê: “Cut off by his banning order from normal political activity, he became convinced that the only way left to fight for human dignity and freedom in his country was by more drastic means. He joined the African Resistance Movement (ARM), mostly members of the Liberal Party whose frustration with the lack of success of traditional politics had driven them, like those in the ANC who joined Umkonto we Sizwe, to engage in acts of sabotage.”

Wyle ZB du Toit, wat eens in Rapport geskryf het, het altyd gewaarsku dat indien daar twee groot swart partye in Suid-Afrika ontstaan wat mekaar probeer oorbie of aanhits om blanke bates af te vat of swart ekonomiese bevoordeling toe te pas, sou dit ‘n kwade dag wees.

Met die radikale “liberale” Zille aan die stuur, is dit besig om sienderoé te gebeur: die DA en die ANC wedywer nou om blankes te benadeel. Natuurlik steun die DA insgelyks “grondhervorming”: die etniese suiwering van Afrikanerboere vanaf hul familieplase.

Sedert die ineenstorting van die Berlynse Muur in 1989, het die aard en definisie van linkse politiek verander van ekonomiese marxisme na wat “kulturele marxisme” genoem word. Kulturele marxiste is gewoonlik anti-Westers, wat ook anti-blank beteken en wil die tradisionele gesin afbreek. Die blanke, heteroseksuele man, is vyand nommer een, omdat sommiges dalk nog aan die hoof van sulke gesinne met ‘n vader, moeder en kinders staan.

Ons het gesien hoe die DA, nes die ANC, die gedagte van homoseksuele huwelike en selfs aanneming van kinders deur homoseksuele paartjies ondersteun. Anders as in Frankryk, waar die Sosialistiese Party in die aangesig van hewige konserwatiewe teenkanting homoseksuele huwelike gewettig het, was daar feitlik geen openbare debat daaroor in Suid-Afrika nie. Wat nog te sê teenkanting.

Feit is dat die linkse konsensus in Suid-Afrika so sterk is dat vrae van konserwaties, “regses” en selfs klassieke, nie-marxistiese liberale, nie geduld word nie. Die hoofstroommedia het nog lank voor die politieke partye ‘n hele paar treê na links geneem – sewemyllaarsetreë om presies te wees. Marxistiese feministe soos Christi van der Westhuizen, wat eens die politieke redaktrise van Beeld was, het die vêrlinkse beleidshandboek vir die hoofstroommedia geskryf.

Daarvolgens moet blankes en heteroseksuele mans die skuld gegee word vir alles wat in die land verkeerd loop. Dis nie hoofsaaklik swart of bruin mans wat roof, moor en vroue verkrag nie. Dis “die patriargie” (lees: blanke mans met gesinne).

‘n Mens sou ‘n hele artikel oor die simboliek van die DA se verkiesingsplakkate wat Zille, De Lille en Mazibuko vertoon, kon skryf. Die afwesigheid van die blanke man op die DA se plakkate dra stilswyend die boodskap van kulturele marxisme oor: dat die wêreld gered moet word deur bruin en swart vroue en daardie blanke vroue wat hulle met die anti-blanke, anti-Westerse beweging vereenselwig.

Waarskynlik steun die DA ook SAL of SAA, soos dit deesdae eentalig Engels bekendstaan, se beleid dat geen blanke mans meer as kadetvlieëniers in diens geneem mag word nie. In ‘n rojale toegewing aan politieke korrektheid, word blanke vroue steeds by SAL as vlieëniers geduld.

Vandeesweek is daar deur sowel die ANC as die DA groot gewag van die 1913-Wet op naturellegrond gemaak wat kastig “87% van die land se grond in blanke besit gelaat het”. Dit het geskied as deel van die “honderdjarige herdenking” van die 1913-maatreëls. In werklikheid was daardie wet, wat deur die ou Sap-regering van Louis Botha ingestel is, bedoel om swart stamgrond teen blanke mededinging te beskerm. In 1936 is swart grondbesit verder uitgebrei. Tuislandkonsolidasie het bykomende grond van blanke boere vervreem en aan swartes oorgedra.

Soos dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront vandeesweek in sy parlementêre toespraak duidelik gemaak het, behoort die drie onafhanklike protektorate, Botswana, Lesotho en Swaziland, by die persentasie grond wat swartes in Suid-Afrika besit of beheer, ingereken te word. In 1913 is die Unie van Suid-Afrika as deel van “British South Africa” beskou en daarom is grond in die BLS-lande as swart grond gesien wat die verdeling in Brits-Suid-Afrika billik maak, iets naby aan 50-50.

Dit is nou afgesien van die Karoo. Daardie dorre woestyngebied maak 70% van Suid-Afrika se grondgebied uit. Indien die Karoo buite rekening gelaat word, beheer swartes reeds 50% van Suid-Afrika se landbougrond, selfs afgesien van die LBS-lande.

Vir Suid-Afrika se horde kulturele marxiste aan die universiteite en in die hoofstroommedia, gaan dit egter kwalik om historiese of ekonomiese argumente. Die ANC-regering is reeds besig om eiendomsreg van plaasgrond wesentlik aan te tas, iets wat die land op die sosialistiese, kollektiwistiese weg plaas.

Alle aanduidings is daar dat niks die ANC-bewind gaan stuit om “grondhervorming” na die Zimbabwiese model ook in Suid-Afrika in te voer nie. Op enkele “nuanseverskille” (soos mev. Zille dit noem) na, sal die DA hom hierin steun. Net soos die DA vandeesweek vir die ANC se SEB-wet gestem het.

Die gevolge van Suid-Afrika se verlinksing is rampspoedig. Opgeleide blankes, veral in die vrugbare ouderdomsgroep 20 tot 40, is besig om die land te verlaat. Nie net verloor die land só sy kundigheid nie, maar dit laat die blanke bevolkingsyfer nog verder daal omdat ‘n aansienlike persentasie van ons kinders deesdae in die buiteland gebore word.

SEB, oftewel, swart ekonomiese bemagtiging, was nog altyd ‘n uitnodiging vir korrupsie. Direkteure en uitvoerende beamptes van SEB-maatskappye sorg dat hulle altyd eerste bevoordeel word. Dit is nou nog behalwe die banke en ander finansiële instellings wat aardige fooie inoes om sogenaamde SEB-transaksies te “struktureer”.

Werkloosheid is besig om skerp toe te neem ondat entrepreneurs, waaronder ‘n groot aantal van die verguisde blanke mans, deur al die rassewetgewing aan bande gelê word en selfs deur die banke kapitaal ontsê word.

Die ergste gevolge van sosialisme en kollektiwisme het Suid-Afrika egter nog nie getref nie en sal eers voelbaar raak wanneer radikale grondhervorming binnekort plaasvind. Voedselpryse gaan die hoogte inskiet en omdat ‘n groot deel van ons kos ingevoer sal moet word, gaan die betalingsbalans nog meer onder druk kom as wat hy reeds is. Die rand sal na alle waarskynlikheid tuimel, met ‘n inflasionêre skok soos wat voedsel, maar ook brandstof, vir die gemiddelde inwoner van die land onbetaalbaar raak.

Die ANC se enigste opsie gaan wees om Sasol ook te nasionaliseer om sodoende gesubsidieerde petrol aan swart taxi’s beskikbaar te maak. Trevor Manuel het reeds geluide gemaak dat Sasol “te veel wins maak”. Een van die argumente wat linkses tans oor grond gebruik, is dat boere “tydens apartheid subsidies van die staat ontvang het”. Daarom behoort hul grond “in elk geval aan die staat” en kan maar “gevat” word.

As voedsel en brandstof begin klim, voorspel ek dat dié linkse argument oor plase ook op Sasol van toepassing gemaak gaan word. Omdat ‘n groot aantal Afrikaners steeds Sasol-aandele besit, ná dié staatsonderneming se destydse privatisering, sal hulle deur beide die ANC en die DA as ‘n ‘sagte teiken” gesien word wie se bates sonder vergoeding gekonfiskeer mag word.

Dis waarna u in ‘n toenemend vêrlinkse Sud-Afrika kan uitsien: grondgryp, ‘n randnoot waarop Mandela se gesig meer werd gaan wees as die monetêre waarde daarvan, asook uiteindelike nasionalisering van sekere sleutelsektore van die ekonomie soos Sasol.

Onthou net: u het dit eerste hier gelees.

Zimbabwe is vir ons ‘n voorbeeld. Juis vandeesweek het Mugabe aangekondig dat hy voortaan goedkoper petrol beskikbaar gaan stel. Ook die MPLA in Angola subsidieer petrol met behulp van sy olierykdom.

Groter armoede en selfs meer geweld as tans lê net om die draai.

Die wolk van kulturele marxisme en breinspoeling deur die hoofstroommedia verhoed egter die man op straat om dit raak te sien. Maar selfs al weet mense wat kom, is daar ‘n eienaardige fatalisme onder Afrikaners werksaam wat veroorsaak dat hulle maar gedweë hul lot aanvaar.

Soos kalkoene wat vir Kersfees stem, staan hulle ook tou by die DA-tent van die liberale marxis, Helen Zille.

Volg Dan Roodt op Twitter en “hou van” sy Facebook-blad.

Saoedi-Arabië wil ondersteuners van Sirië deporteer

Saoedi-Arabië se gesant in Libanon het gesê die koninkryk gaan Libanese burgers deporteer wat die militante groep Hezbollah ondersteun.

Die koninkryk het die besluit geneem na die Hezbollah-groep se rol in die Siriese burgeroorlog.

Ali Awad Assiri, Saoedi-Arabië se amabassadeur in Libanon, het Woensdagaand gesê Saoedi-Arabië sal mense deporteer wat die groep finansieel ondersteun.

Hy het nie aangedui wanneer hierdie deportasies sal begin nie.

Saoedi-Arabië, self nie ‘n demokrasie nie, ondersteun glo groepe wat Bashar al-Assad, Sirië se president, as staatshoof wil verwyder.

Swart inwoners in Johannesburg oproerig oor dienste

Inwoners van die Alexandra township, noord van Johannesburg, versper Londonweg met brandende bande in ‘n betoging oor swak dienslewering.

‘n Polisiewoordvoerder, Kim Cloete sê daar was nog geen geweld aangemeld nie. Sy het motoriste gewaarsku om Londonweg te vermy tot die betogers uiteen gejaag is en die pad opgeruim is. Die polisie monitor die situasie.

Die situasie by die Dube-hostel in Soweto is steeds gespanne, alhoewel inwoners sê dat die kragtoevoer na die gebou herstel is.

Dit volg na gewelddadige protesoptrede Donderdagaand. Die polisie het traanrook gebruik om betogers uitmekaar te jaag.

Die inwoners beweer dat hulle vir meer as ‘n week sonder elektrisiteit was. Phathokwakhe Dladla, wat in die hostel bly, sê die situasie is nou kalm omdat die kragtoevoer herstel is.

Hy sê hulle is meer as twee jaar gelede ‘n wettige kragverbinding beloof.

Volgens Dladla gebruik ‘n groot deel van die hostel onwettige kragverbindings wat lei tot gereelde kragonderbrekings.

Regering verwerp Agang se onderwyskritiek

Die regering het die stigter van Agang, Mamphela Ramphele, se bewerings dat die jeug in die steek gelaat is weens wanbestuur in die onderwysstelsel, verwerp.

“Die verklaring wat deur… Ramphele gemaak is oor onderwys, soos in die media berig, is nie net ongegrond nie, maar van alle waarheid ontbloot, het die departement van basiese onderwys Donderdag gesê.

“Haar ongegronde uitlatings bewys net weer die totale gebrek aan begrip en gebrek aan waardering vir die onderwyssektor deur iemand wat na bewering vooraanstaande is in akademiese kringe.”

Ramphele het vroeër gesê politieke wil is nodig om probleme in die Suid-Afrikaanse onderwysdepartement op te los. Sy het gesê dié wil ontbreek by die regering.

Ramphele het gesê die regering het R230 miljard op onderwys spandeer, maar dat die land nie waarde vir die geld kry nie.

Sy het ook gesê die verskoning dat apartheid vir die probleme blameer moet word, is nie geldig nie.

“Twintig jaar is te lank vir enigiemand om te sê die nalatenskap van ‘n ander stelsel hou hom terug,” het Ramphele gesê.

Lewer bewys van ‘bedenklike’ Libiese bates, eis Gordhan

Mense wat bewyse van Libiese fondse en bates het wat onder “bedenklike omstandighede” na Suid-Afrika gebring is, moet dit aan Libiese owerhede of die Verenigde Nasies oorhandig, het Pravin Gordhan, minister van finansies, Donderdag gesê.

“Niemand wat hierdie bewerings gemaak het, het nog bewys gelewer van die oordrag van hierdie bates en fondse na Suid-Afrika nie,” het Gordhan in ‘n verklaring gesê.

Hy het gepraat oor mediaberigte dat Libiese bates en geld nog in Suid-Afrika is.

“Hierdie berigte verwar feite en bewerings, en hou dit alles as feite voor,” het hy gesê.

Gordhan het bevestig dat daar Libiese aandeelhouding in Suid-Afrikaanse entiteite is, en dat dit op kommersiële basis gedoen is.

Dit sluit in die Michelangelo Towers in Sandton, die Centurion Lake-hotel, die Commodore- en die Portswood-hotel in Kaapstad, en die Krugerpark-lodge in Mpumalanga.

Sunday Times het vroeër berig dat Libiese ondersoekbeamptes bewyse gevind het dat vier Suid-Afrikaanse banke en twee plaaslike sekerheidsmaatskappye meer as $1 miljard (ongeveer R10 miljard) in kontant, goud en diamante uit Libië bewaar.

Gordhan het Donderdag gesê ‘n groep wat na bewering die Libiese regering verteenwoordig, het hom in Mei genader. Hulle het ‘n lys met Libiese bates aan hom voorgelê.

“Hierdie lys was vaag en het nie enige besonderhede verskaf wat die onderskeie instansies kan help om hierdie bates op te spoor nie,” het hy gesê.

Stakers moet vasgevat word om kragkrisis te vermy

“Die ANC moet nou sy woord gestand doen en kragdadig optree teen stakende werkers by kragstasies om ‘n dreigende kragkrisis in Suid-Afrika af te weer,” sê mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier.

Mnr. Groenewald het vandag met ledeverklarings in die parlement gesê daar word gereeld in die aand ‘n beroep op die mense van Suid-Afrika gedoen om minder krag te gebruik aangesien daar ‘n krisis is in die voorsiening van elektrisiteit.

Hy sê die huidige krisis is lank reeds voorsien en in 1998 was daar reeds duidelike planne voorgelê aan die destydse adjunk-president Thabo Mbeki, waarin gesê is daar moet vroegtydig beplan word om genoegsame krag vir die land se toekomstige behoeftes te voorsien.

“Thabo Mbeki het dit van die tafel afgevee en nou sit ons met die gevolge van ‘n swak besluit wat geneem is.

“Die minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het in April besoek gebring by Medupe (kragstasie), en het gesê hy wil dit duidelik stel dat streng opgetree sal word teen enige verdere vertragings wat spesifiek enige stakings insluit en dat die koppe sal rol.

“Tans is daar weer stakings by Medupe, en ook by Kusile, want hulle sal ook nie kan hou by die skedule nie. Die vraag is, gaan die minister optree, en gaan die koppe rol, anders gaan Suid-Afrika weer met ‘n groot kragkrisis sit.”

Debat oor swart grond moet protektorate Botswana, Lesotho en Swaziland insluit – Pieter Mulder

Om ‘n sinvolle debat oor grond in Suid-Afrika te voer, en veral oor ‘n onderwerp soos die 1913-Wet op Naturellegrond wat vandag in die parlement bespreek is, moet alle feite belig word en nie net die wat sekere agendas pas nie. Dit kan ook net sin en betekenis hê indien toekomslesse daaruit geneem word.

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het vandag met die debat oor die 1913-wet gesê dit is sy twee voorbehoude wanneer oor die geskiedenis gepraat word.

Hy sê die kernbeswaar teen die 1913-wet is dat dit die grond tussen wit en swart verdeel het en slegs 13% grond aan swart mense gegee het. Dit is ‘geldige kritiek’ oor onregverdighede van die verlede. Maar dit is gegrond op vandag se feite en nie op die feite van 1913 nie.

Al die kaarte van 1913 dui die Unie van Suid-Afrika aan as deel van British South Africa. British South Africa het in 1913 bestaan uit Suid-Afrika en die drie destydse protektorate, vandag Botswana, Lesotho en Swaziland.

In 1913 was daar geen sprake dat hierdie protektorate eendag onafhanklike state sou word nie. Botswana is tot in 1965 nog uit Mahikeng in Suid-Afrika bestuur. Daar is algemeen aanvaar dat die protektorate op die lang termyn by die Unie van Suid-Afrika ingelyf sou word.

Daarom het die Suid-Afrika-Wet van 1909, wat deur die Britse Parlement goedgekeur is, voorsiening gemaak dat die drie gebiede later by die Unie geïnkorporeer kon word.

In die denke van baie is die oppervlak van hierdie gebiede by die 1913 grond getel. Dan kry ‘n mens ‘n 40% – 60% grondverdeling en selfs 50-50 afhangende van hoe dit bereken word. Tot na die 1936-wet was daar nog pogings om hierdie protektorate by Suid-Afrika in te lyf.

“Ek sien dit nie as my verantwoordelikheid om 1913 te probeer verdedig nie. Wat ek wel glo is dat dit net billik is dat ons in ons kritiek al die argumente en die denke van 1913 probeer verstaan,” sê dr. Mulder.

Oor die redes waarom die inlywing nie geslaag het nie, sê hy dit moet in gedagte gehou word dat daar ook ander denke oor die inlywing was.

Die hoofmanne van hierdie protektorate het heftig by die Britte in Londen beswaar gemaak teen inlywing. Uiteindelik het hulle geslaag en in 1966 en -68 het hierdie gebiede onafhanklik geword wat die huidige stel nuwe feite geskep het.

Volgens dr. Mulder is dit nie verkeerd om debatte oor die geskiedenis te hou nie. Maar so ‘n debat is net sinvol indien daar iets uit geleer word vir die toekoms.

“Die verlede kan nie deur baie praat verander of verbeter word nie. Daarom glo die VF Plus nie in ‘n beter verlede nie, maar in ‘n beter toekoms. Hier is min gesê in die debat oor wat ons uit die verlede leer en hoe ons grondhervorming in 2013 kan laat slaag sonder om hongersnood te veroorsaak.

“Niks is gesê oor hoe ons kos aan 52 miljoen Suid-Afrikaanse burgers gaan verskaf waarvan 70% binnekort in die stede gaan woon terwyl ons net 13% goeie landbougrond het nie. Min is gesê oor hoe ons die duisende hektaar kommunale grond beter kan benut.

“Dit is sake vir die toekoms en die debat wat ons nou moet voer as ons Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal wil maak,” sê dr. Mulder.