Stakers moet vasgevat word om kragkrisis te vermy

“Die ANC moet nou sy woord gestand doen en kragdadig optree teen stakende werkers by kragstasies om ‘n dreigende kragkrisis in Suid-Afrika af te weer,” sê mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier.

Mnr. Groenewald het vandag met ledeverklarings in die parlement gesê daar word gereeld in die aand ‘n beroep op die mense van Suid-Afrika gedoen om minder krag te gebruik aangesien daar ‘n krisis is in die voorsiening van elektrisiteit.

Hy sê die huidige krisis is lank reeds voorsien en in 1998 was daar reeds duidelike planne voorgelê aan die destydse adjunk-president Thabo Mbeki, waarin gesê is daar moet vroegtydig beplan word om genoegsame krag vir die land se toekomstige behoeftes te voorsien.

“Thabo Mbeki het dit van die tafel afgevee en nou sit ons met die gevolge van ‘n swak besluit wat geneem is.

“Die minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het in April besoek gebring by Medupe (kragstasie), en het gesê hy wil dit duidelik stel dat streng opgetree sal word teen enige verdere vertragings wat spesifiek enige stakings insluit en dat die koppe sal rol.

“Tans is daar weer stakings by Medupe, en ook by Kusile, want hulle sal ook nie kan hou by die skedule nie. Die vraag is, gaan die minister optree, en gaan die koppe rol, anders gaan Suid-Afrika weer met ‘n groot kragkrisis sit.”

Maak 'n opvolg-bydrae