Lewer bewys van ‘bedenklike’ Libiese bates, eis Gordhan

Mense wat bewyse van Libiese fondse en bates het wat onder “bedenklike omstandighede” na Suid-Afrika gebring is, moet dit aan Libiese owerhede of die Verenigde Nasies oorhandig, het Pravin Gordhan, minister van finansies, Donderdag gesê.

“Niemand wat hierdie bewerings gemaak het, het nog bewys gelewer van die oordrag van hierdie bates en fondse na Suid-Afrika nie,” het Gordhan in ‘n verklaring gesê.

Hy het gepraat oor mediaberigte dat Libiese bates en geld nog in Suid-Afrika is.

“Hierdie berigte verwar feite en bewerings, en hou dit alles as feite voor,” het hy gesê.

Gordhan het bevestig dat daar Libiese aandeelhouding in Suid-Afrikaanse entiteite is, en dat dit op kommersiële basis gedoen is.

Dit sluit in die Michelangelo Towers in Sandton, die Centurion Lake-hotel, die Commodore- en die Portswood-hotel in Kaapstad, en die Krugerpark-lodge in Mpumalanga.

Sunday Times het vroeër berig dat Libiese ondersoekbeamptes bewyse gevind het dat vier Suid-Afrikaanse banke en twee plaaslike sekerheidsmaatskappye meer as $1 miljard (ongeveer R10 miljard) in kontant, goud en diamante uit Libië bewaar.

Gordhan het Donderdag gesê ‘n groep wat na bewering die Libiese regering verteenwoordig, het hom in Mei genader. Hulle het ‘n lys met Libiese bates aan hom voorgelê.

“Hierdie lys was vaag en het nie enige besonderhede verskaf wat die onderskeie instansies kan help om hierdie bates op te spoor nie,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae