Regering verwerp Agang se onderwyskritiek

Die regering het die stigter van Agang, Mamphela Ramphele, se bewerings dat die jeug in die steek gelaat is weens wanbestuur in die onderwysstelsel, verwerp.

“Die verklaring wat deur… Ramphele gemaak is oor onderwys, soos in die media berig, is nie net ongegrond nie, maar van alle waarheid ontbloot, het die departement van basiese onderwys Donderdag gesê.

“Haar ongegronde uitlatings bewys net weer die totale gebrek aan begrip en gebrek aan waardering vir die onderwyssektor deur iemand wat na bewering vooraanstaande is in akademiese kringe.”

Ramphele het vroeër gesê politieke wil is nodig om probleme in die Suid-Afrikaanse onderwysdepartement op te los. Sy het gesê dié wil ontbreek by die regering.

Ramphele het gesê die regering het R230 miljard op onderwys spandeer, maar dat die land nie waarde vir die geld kry nie.

Sy het ook gesê die verskoning dat apartheid vir die probleme blameer moet word, is nie geldig nie.

“Twintig jaar is te lank vir enigiemand om te sê die nalatenskap van ‘n ander stelsel hou hom terug,” het Ramphele gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae