Swart inwoners in Johannesburg oproerig oor dienste

Inwoners van die Alexandra township, noord van Johannesburg, versper Londonweg met brandende bande in ‘n betoging oor swak dienslewering.

‘n Polisiewoordvoerder, Kim Cloete sê daar was nog geen geweld aangemeld nie. Sy het motoriste gewaarsku om Londonweg te vermy tot die betogers uiteen gejaag is en die pad opgeruim is. Die polisie monitor die situasie.

Die situasie by die Dube-hostel in Soweto is steeds gespanne, alhoewel inwoners sê dat die kragtoevoer na die gebou herstel is.

Dit volg na gewelddadige protesoptrede Donderdagaand. Die polisie het traanrook gebruik om betogers uitmekaar te jaag.

Die inwoners beweer dat hulle vir meer as ‘n week sonder elektrisiteit was. Phathokwakhe Dladla, wat in die hostel bly, sê die situasie is nou kalm omdat die kragtoevoer herstel is.

Hy sê hulle is meer as twee jaar gelede ‘n wettige kragverbinding beloof.

Volgens Dladla gebruik ‘n groot deel van die hostel onwettige kragverbindings wat lei tot gereelde kragonderbrekings.

Maak 'n opvolg-bydrae