Munisipaliteite in 4 provinsies skuld meer as miljard

Die munisipaliteite in net vier provinsies, Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, skuld Eskom gesamentlik R1,1 miljard. Die totale uitstaande skulde van staatsdepartemente vir dienste aan dieselfde munisipaliteite beloop egter R1,2 miljard. Hierdie syfers is verskaf deur die minister van samewerkende regering en tradisionele Sake, mnr. Richard Baloyi, in antwoord op ‘n vraag van Pieter Groenewald, LP van die Vryheidsfront Plus in die parlement.

“Eskom dreig van hierdie munisipaliteite dat hulle die kragtoevoer gaan afsny weens nie-betaling van Eskom se rekening en destabiliseer daardeur die plaaslike ekonomie. Indien die staat egter sy verpligting nakom en sy diensterekening aan die munisipaliteite betaal, kan Eskom se rekening ten volle vereffen word. Die staat is die enigste aandeelhouer van Eskom en dit is ironies dat die staat eintlik homself dreig. Die staat is ‘n wanbetaler van dienstegelde en getroue betalers van dienstegelde subsidieer nou die staat as wanbetaler. Hulle betaal reeds belasting aan die staat en dit is niks anders as dubbele belasting nie,” sê mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake.

Volgens die antwoord van die minister skuld Oos-Kaap R18,803 miljoen, Vrystaat R436,851 miljoen, Mpumalanga R463,588 miljoen en Noordwes R182,345 miljoen aan Eskom. Staatsdepartemente skuld munisipaliteite in Oos-Kaap R134,1 miljoen, Vrystaat R135,1 miljoen, Mpumalanga R551,9 miljoen en Noordwes R415,9 miljoen vir agterstallige dienstegelde.

“Die minister het in sy begrotingsdebat in die parlement vertel hoe ‘wonderlik’ dit gaan op plaaslike regeringsvlak. Hierdie syfers is bewys van die krisis in plaaslike regering en bewys dat Baloyi die publiek mislei. Ek sal beslis die minister vra wanneer die staatsdepartemente hulle skuld gaan betaal, aangesien dit onregverdig is teenoor die belastingbetalers wat getrou hulle diensterekeninge betaal,” sê Groenewald.

Maak 'n opvolg-bydrae