Media, polisie voor hospitaal waar Mandela lê, saamgetrek

Polisie- en mediavoertuie is Maandagoggend by die hospitaal in Pretoria opgemerk waar oudpres. Nelson Mandela in ‘n kritieke toestand is.

Die hospitaal se ingang in Celliersstraat is gesluit, en die polisie beman die ander ingang in Parkstraat.

Nuusspanne het Sondagaand op die hospitaal toegesak ná die presidensie aangekondig het dat die voormalige staatshoof se toestand kritiek is. Die meeste van dié voertuie was teen 03:00 weer weg.

Meer as 20 voertuie het egter steeds in Celliersstraat gestaan, insluitend uitsaaivoertuie van plaaslike en internasionale mediamaatskappye.

‘n Paar verslaggewers het die bittere koue trotseer en naby die hospitaal se ingang in Parkstraat gesels.

Verskeie polisiebeamptes hou op die hospitaal se perseel wag. ‘n Toyota Quantum van die polisie is op die terrein geparkeer, naby die Parkstraat-ingang.

Verskeie polisievoertuie patrolleer ook die gebied.

“Die toestand van oudpres. Nelson Mandela, wat steeds in die hospitaal is in Pretoria, is tans kritiek,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, in ‘n verklaring gesê wat Sondagaand uitgereik is.

Dis uitgereik ná pres. Jacob Zuma en die adjunkpresident van die ANC, Cyril Ramaphosa, Madiba besoek het.

Maak 'n opvolg-bydrae