Die oomblik toe ons egter deur die skoolhek ry nadat ons uit Joubertstraat afgedraai het, besef ek onmiddellik waarom Ermelo in die onderwysdepartement se visier verkeer. Soos ‘n onderwyseres ná die protesvergadering oor die vingerete trots aan my gesê het: “Ons het nie ‘n skoolterrein nie; ons het ‘n kampus.”
Die wonder, maar hoe lank nog?
Van die statige hoofgebou met sy hoë plafonne, gietysterrelings op die trappe en marmerinskripsie wat verklaar: “Die wonder van Afrikaans”, tot by die ouditorium met sy aanskyn van ‘n jong operahuis – die skool voer wel operettes op waarvan stelle op die verhoog te bespeur is – kom mens onder die indruk van die deeglikheid, die liefde, die dissipline, die toewyding wat in hierdie kampus en in hierdie skool gestort moes gewees het om so ‘n resultaat te bereik. Op die skool se webblad verskyn ‘n foto, humoristies getitel, “Die groen massa”, verwysende na die kleur van Hoërskool Ermelo se uniforms. As ons by die hek inry word ons begroet deur die groen massa: een en almal stralende jong Afrikanerkinders wat gekom het om hul steun aan die skool se regsaksie teen die onderwysdepartement te betoon. Die stemming is een van opgewonde erns. In die verbyry neem ek enkele foto’s.
Ermelo is ‘n voortreflike skool; juis daarom wil die sogenaamde onderwysdepartement van Mpumalanga hom “hê”. Die afguns wat hierdie skool by onderwysamptenare en sommige ouers uit ander groepe moet wakker maak, is voor die hand liggend. Vandeesweek skryf Andrew Kenny juis in die Citizen dat die hoofrede waarom daar soveel vyandigheid teenoor Afrikaners bestaan, afguns is. Geslagte Afrikaners het hard gewerk, geld ingesamel en gebou om hierdie skool wat meer as blote skool is, eerder kultuursentrum, bakermat en alma mater, te skep. ‘n Mens wil nie graag dink dat ‘n onderwysdepartement wil afbreek nie, maar ek vermoed dat die onderwysamptenare juis wíl aftakel, wil stroop, wil gelykmaak in die sug na vernietiging wat alle moderne revolusies kenmerk en waarvan Afrika natuurlik die kuns vervolmaak het. Lees maar Paul Theroux se Dark Star Safari en veral die gedeelte oor sy besoek aan die skool in Malawi waar hy eens les gegee het.
Hier is die verloop van sake tot dusver in Ermelo se stryd om ‘n reg wat in byna elke land ter wêreld as vanselfsprekend beskou word, uit te oefen, soos dit in die skool se heel eerste omsendbrief van die jaar, “nr. 1/2007: Taalkwessie”, uiteengesit word:
Op 9 Januarie 2007 gee die Departement vir die Hoof opdrag om Engelstalige leerders tot die skool toe te laat en hulle moet in Engels onderrig word. Die E H S se taalbeleid soos deur die Beheerliggaam goedgekeur, is dat die E H S se onderrigtaal Afrikaans is. Die Hoof word met dissiplinêre aksie gedreig.
Op 10 Januarie 2007 daag ‘n klompie leerders en hul ouers op om in Engels onderrig te word. Ons verduidelik die situasie en met 8 ouers en leerders word onderhoude gevoer. Die Departement beweer daar is 113 leerders wat plek soek. Hul lyste het slegs 69 name op en daar is name wat gedupliseer is. Hulle vertrek en ons hoor niks verder van leerders of die Departement nie.
Op 25 Januarie 2007 bring die Kringbestuurder, mnr Frank Hlatshwayo, ‘n brief gerig aan die Beheerliggaam waarin die magte van die Beheerliggaam om die skool se taalbeleid op te stel, teruggetrek word. Terselfdertyd word ‘n Komitee aangestel om ‘n nuwe taalbeleid vir die E H S op te stel met spesifieke voorskrifte vanaf die Departement. Nadat mnr Paul Colditz van Fedsas gekonsulteer is, word besluit om die saak teen te staan.
Advokaat Johan du Toit en prokureur, Johan van der Wath, hanteer die aansoek.
Op Maandag 29 Januarie 2007 word ‘n dringende aansoek voor die Hooggeregshof gebring. Regter Legodi stel dit op ‘n tegniese punt uit.
Dit beteken dat die Engelssprekende leerders by die skool kan inskryf want die Komitee het die taalbeleid verander na Afrikaans en Engels op ‘n parallelle basis (aparte klasse).
Tot Vrydag 2 Februarie 2007 kon hulle inskryf en van die beweerde 113, skryf net 13 in.
Vrydag 2 Februarie word die saak aangehoor en regter Prinsloo staan die dringende bevel toe dat die komitee se taalbeleid nie meer geldig is nie.
Die Regter-President, regter Ngoepe doen navraag oor die 113 kinders en die staat bring ‘n dringende aansoek teen die Beheerliggaam.
Op Maandag 13 Februarie dien die saak voor regters Bernard Ngoepe, Wille Sereti en Natvarial Ranchod. Hulle herroep regter Prinsloo se uitspraak en die Komitee se taalbeleid geld nou weer.
In sy boek Negrologie beskryf die Franse joernalis, Stephen Smith, Afrika as ‘n “Ubuland sonder grense”. ‘n Mens hoef net bogaande chronologie te lees om te besef dat Ermelo-hoërskool hier blootgestel word aan ‘n Ubu-eske vertoon van Afrikakragdadigheid wat ‘n Idi Amin, ‘n Robert Mugabe, ‘n Mobutu of ander diktator waardig sou wees.
Dit word duidelik tydens mnr. Paul Colditz van Fedsas se uiteensetting van die regsaspekte van die saak in die skoolsaal van Ermelo. “In my 37 jaar as regspraktisyn het ek dit nog nooit teëgekom dat ‘n regter ‘n uitspraak kan lewer sonder om redes te verstrek nie. Tydens regter Bill Prinsloo se oorspronklike uitspraak ten gunste van die skool se reg om sy taalbeleid te bepaal, het hy na die Mikro-saak verwys. Mikro was ‘n Appèlhofsaak, daarom is die Transvaalse Hooggeregshof gebind om die Appèlhof se mening in ag te neem. Maar hier kom regter Ngoepe en steur hom nie daaraan nie.”
Dit wil dus voorkom asof die ANC-bewind, as ‘n hof nie die soort uitspraak lewer wat hy wil sien nie, hy soos ZANU-PF in Zimbabwe eenvoudig ‘n ander regter of regters aanstel om dieselfde saak te verhoor, waarna die gewenste uitspraak sal volg.
Dr. Christo Landman, kommissaris van die Kommissie vir die beskerming en bevordering van godsdiens-, kultuur- en taalregte, noem in sy betoog dat die taalkwessie by Ermelo polities van aard is en “op politieke vlak opgelos moet word. Dis ‘n maaksel van (oudpres.) F.W. de Klerk en sy onderhandelaars by Kempton Park. Hulle moet uit hul gate kruip en met pres. Thabo Mbeki gaan praat”. Hy het ook verwys na die amptenare van die onderwysdepartement “wat Napoleon probeer speel”.
Mnr. Paul Colditz het voorts aangetoon dat die bydrae wat die onderwysdepartement per jaar aan die skool maak, R18 000 uit ‘n begroting van R3,7 miljoen beloop! Verder verkeer die helfte van die onderwysers steeds op die departement se betaalstaat. Maar die res van die lopende uitgawes waarvan net water elektrisiteit R60 000 per maand verteenwoordig, word deur die ouergemeenskap betaal.
‘n Samehorige gees het by die skool geheers en ongeveer ‘n dosyn Afrikaanse organisasies is op die verhoog verteenwoordig (waaronder PRAAG, FAK, Afriforum, Tussentydse Afrikanerraad, Dames Aktueel, Blanke Ekonomiese Forum, Afrikanerbond, Akademie vir Wetenskap en Kuns, Vryheidsfront, Demokratiese Alliansie, ens.), terwyl afwesiges boodskappe van solidariteit aangestuur het. Onder andere het die voormalige goewerneur van die SA Reserwebank, dr. Chris Stals, ‘n boodskap van ondersteuning gestuur waarin hy meld dat veeltaligheid en moedertaalonderrrig van die strewes van die Afrika-unie verteenwoordig.
Ekself het daarop gewys dat die Afrikaner in ‘n nuwe stryd verkeer en dat ons nie weet waar daardie stryd gaan eindig nie. Op ‘n vraag aan die gehoor of hulle gaan toelaat dat Ermelo Engelsmedium word, het die skare soos een man “Nee!” geskree.
Een of twee sprekers het dit benadruk dat die taalkwessie by Ermelo nie oor ras gaan nie. Maar is dit waar? wonder mens. Die onderwysdepartement wil immers die taalmedium van die skool verander sodat meer swartes toegelaat kan word. Nadat regter Bill Prinsloo ‘n uitspraak op suiwer regsgronde ten gunste van die skool gelewer het, is twee swart en een Indiërregters aangestel om dit ongedaan te maak.
Swart nasionalisme is in Suid-Afrika, soos in Zimbabwe, besig om ‘n verterende mag te word wat blanke regte, soos in Zimbabwe, wesentlik aantas.
Interessant was dan ook die gesprekke wat agterna oor die vingerete in die hotelskool se lokaal plaasgevind het. Een onderwyseres het gekla dat mens glad nie met die amptenare van die onderwysdepartement kan redeneer nie. Sy het die gevoel dat die skool met sy rug teen die muur staan. Gaan die verengelsing van een hoërskool in die provinsie die onderwysdepartement se probleme oplos? is gevra.
Verskeie persone was dit eens dat die onderwysdepartement van Mpumalanga gemotiveer word deur, enersyds rassehaat jeens die hoofsaaklik blanke leerlingkorps en blanke personeel van die skool en andersyds deur afguns oor die skool se uitmuntende prestasies, asook sy pragtige terrein en geboue wat oor jare heen deur die ouergemeenskap van die skool opgebou is.
Die feit dat daar ‘n leë kloosterskool op die dorp bestaan wat deur die onderwysdepartement besit word, is ‘n aanduiding dat dit geensins gaan om “genoeg plek” vir swart leerlinge sonder ‘n heenkome te vind nie. Uiteindelik word Hoërskool Ermelo as ‘n Afrikanerinstelling gesien wat onbeskaamd ‘n bepaalde etos in Afrikaans uitdra. Dít wil die onderwysdepartement vernietig.
Die voorgenome verengelsing van Ermelo is daarom slegs deel van die uiteindelike verafrikanisering daarvan op ‘n rassegrondslag.
Soos mnr. Crawford von Abo, die bekende Vrystaatse boer wat vyftien plase in Zimabwe verloor het, die mentaliteit van Afro-nasionalisme op ‘n keer aan my opgesom het: “Al gee jy vir hom die bestanddele, wil hy nie sy eie koek bak nie. Hy wil jóú koek hê.” In dié verband het aanbiedinge van Ermelo se hoof en personeel om die onderwysdepartement te help om ‘n Engelstalige hoërskool in die bestaande leë gebou op die dorp te vestig op dowe ore geval.
Ermelo-hoërskool is in ‘n taalstryd gewikkel, maar in die groter prentjie verteenwoordig die skool daardie smaaklike koek wat deur Afrikaner-vernuf, dissipline en hardwerkendheid opgebou is. Die rasbewuste onderwysminister en haar amptenare het besluit hulle wil dit hê en dit verteer in die tragiese vernietigingsdrang wat sedert 1960 so deel van die Afrika-kontinent geword het. Die Afrikaan se sin vir “alles kom my toe” verteenwoordig nie net die dilemma van Afrika-armoede en ellende nie, maar ook van Ermelo-hoërskool.
Dat soveel Afrikanerorganisasies die vergadering saam met die ouers bygewoon het, is ‘n aanduiding dat ‘n lyn tussen Naledi Pandor en die Afrikanervolk getrek word. Vir die eerste keer in baie jare is Afrikaners verenig in hul strewe om hul taal en kultuur gehandhaaf te sien.
Ermelo-hoërskool staan dus in die brandpunt van die toenemend openlike konflik tussen die ANC-bewind en die Afrikaner.
барбі русалочкаОлександр Васильович Фільчаков