Daar was geen artillerie nie en Colley het dit verder nie nodig geag om sy manskappe te beveel om hulleself op die koppie in te grawe nie. Hulle was moeg ná die lang nag van steiltes uitklim. Die Boere, onder aanvoering van generaal Nicolaas Smit, het 450 vrywilligers uit verskillende kommando’s bymekaar gemaak om die koppie te bestorm. “Julle wat geen lafaards is nie, volg my!” was Smit se wekroep.
Die Boere het net voor dagbreek op 27 Februarie aangeval en die Britse soldate dadelik onder druk geplaas. Hulle uitstekende skuts het die Engelse teen die hellings teruggehou en die res van die Boerevegters in staat gestel om teen middagete die koppie in te neem.
Veldkornet Fanus Roos en sy manne moes reguit na Gordon’s Knoll beweeg. Kommandant Joachim Ferreira en sy manne het parallel met Roos aan sy westekant beweeg. Veldkornette Malan en Trichardt met hulle manskappe het parallel met Roos aan sy oostekant beweeg. Die koppie is dus van drie kante af, noord, oos en wes, beset. Van agter die skuiling van die groot terras het die ouer Boerevegters (wat die beste skuts was) voortdurend met hulle koeëls die Britte op die kruin onder druk geplaas.
Die reserwe Britse soldate is agter ‘n lang randjie, wat van wes na oos loop, geplaas. Hulle was egter magteloos teen die vuur van die Boere wat van drie kante af gekom het – Roos en sy manne vanuit die noorde, Ferreira en sy manne vanuit die weste en Malan en sy manskappe vanuit die ooste. Die Britte het suidwaarts oor die kruin gevlug. Hulle verliese was groot: van die 400 het net 120 niks oorgekom nie. Van die 280 ongevalle is 92 dood, 135 gewond en 53 gevange geneem. Die 120 Skotte van die 92ste regiment het die ergste deurgeloop – slegs 24 kon daarin slaag om te ontsnap.
Colley is doodgeskiet net nadat hy die bevel gegee het om terug te val. Terwyl die oorblywende Engelse met die agterste hellings van die koppie na onder gevlug het, het die Boere aanhou skiet.
Die taktiek wat deur generaal Smit aangewend is om die vyand te oorwin, is as baie gevorderd vir daardie tydvak beskou. Uitstaande skietwerk en die doeltreffende aanwending van kamoeflering was belangrike elemente in die veldslag.
Generaal Smit (1837 – 1896), was ‘n uitstekende militêre leier. Hy het die agting van sy manskappe geniet. Ná die oorlog het hy volksraadslid vir Ermelo geword. Pruise het aan hom die Ridder van die Rooi Adelaar toegeken en in Nederland het hy Kommandeur van die Orde van die Nederlandse Leeu geword.
Die slag van Majuba het gelei tot die ondertekening van die vredesverdrag tussen Brittanje en die ZAR, wat ‘n einde aan die Eerste Vryheidsoorlog gebring het. “Remember Majuba”, het die Britte egter vir mekaar gesê, en dit was hulle inspirasie toe die Tweede Vryheidsoorlog aangebreek het. Die neerlaag van Majuba moes gewreek word.
