Wade is ’n voormalige opponent van oud president Léopold Senghor, of “die vader van die nasie” soos hy ook bekend gestaan het. Hy het ’n lewendige belangstelling in argitektuur. In sy presidensiële paleis in Dakar het hy spesiaal ’n vertrek laat inrig vir die modelle van sy stedelike projekte. Hy het nou al verskeie brûe, paaie, glasgeboue en universiteite laat oprig. Hy is baie gesteld op sy beeld as ’n moderne staatshoof. Sy nepotisme en vele bouprojekte word egter deur sy vyande gekritiseer. Wade doen sy bes om goeie betrekkinge met Frankryk en die VSA te handhaaf en om op goeie voet met die pers te bly. Sy pogings om in Afrika-konflikte te bemiddel, was tot dusver onsuksesvol.
In 2002 is president Wade met groot entoesiasme vir die eerste keer verkies. Vir die eerste maal sedert 1960 is die Sosialiste se houvas op die land verbreek. Wade het verandering aan sy kiesers belowe en veral die jongmense het baie van hom verwag. Hy het egter nie veel bereik nie. Armoede en werkloosheid heers steeds in ’n land waar helfte van die bevolking van elf miljoen mense jonger as twintig is en 100 000 persone jaarliks desperaat tot die arbeidsmark toetree.
Honderde jeugdiges probeer maandeliks om by die Kanariese Eilande uit te kom, in ’n poging om Spanje te bereik en ’n nuwe lewe te begin. “Barcelona of die dood” is hulle leuse, en vele van hulle verdrink dan ook voor hulle hul bestemming bereik.
Wade mag dalk spog met sy land as die “demokratiese uitstalvenster van Afrika”, maar sy onvermoë om die Senegalese ekonomie op koers te kry, gaan deel van sy nalatenskap wees.
