Hierdie stryd sal by die ANC se komende nasionale konferensie in Desember beslis word.
“Ongelukkig het diegene van ons buite die ANC-alliansie min of geen sê in hierdie proses nie, wat nogtans die omgewing waarin ons leef en werk vir die afsienbare toekoms gaan bepaal,” het De Klerk gesê.
“Miskien, soos bekommerde familie, behoort ons rol te wees om vriendelike raad in die geheim te verskaf…”
Onder andere behoort die waardes waarop die nuwe maatskappy gebaseer is, onderhou te word, soos hulle in die grondwet verwoord en beliggaam is, het hy voortgegaan.
Die nuwe Suid-Afrika sal slaag of misluk na gelang van sy vermoë om by die grondwet te hou en die nasionale konsensus wat dit verteenwoordig.
Terselfdertyd behoort meer gedoen te word om die ernstige probleme wat die land in gesig staar op te los – om die lyding wat vigs veroorsaak te vookom en te verlig, asook die voortdurende en onaanvaarbare ongelykheid en armoede in ons samelewing.
“Sowel vigs as misdaad verteenwoordig eksistensiële krisisse en vereis die mobilisering van watter nasionale hulpbronne ook al nodig is om hulle te beveg.”
Hy het gemeen dis van die allergrootste belang om doeltreffend op te tree teen die grondliggende oorsake van armoede en ongelykheid, veral werkloosheid.
Terwyl daar vele oorsake vir werkloosheid is, staan die rigiede arbeidswetgewing sentraal. Dit het die reële arbeidskoste ver bokant ander ontluikende ekonomieë verhoog waarmee Suid-Afrika in globale markte moet meeding. Hoë koste en oorregulering ontmoedig indiensneming.
“’n Arbeidstelsel wat minimum standaarde vir almal daarstel, is nodig, maar in ’n land soos Suid-Afrika is veel meer buigsaamheid nodig, veral vir mediumgrootte en kleiner ondernemings,” het hy gesê.
“Suid-Afrika word binnekort 13 jaar oud. Soos die meeste ouers, is ons baie lief vir ons tiener. Ons kan nie verhelp om vir ons vriende die jongste foto’s te wys en om hier en daar ’n bietjie oor skoolrapporte en sportprestasies te spog nie.”
“Feit is dat ons tienermaatskappy met al sy groeipyne soveel beter as die oue is. Maar as ons tienermaatskappy die stormagtige jare vorentoe gaan oorkom, moet hy by die bewese waardes in ons grondwet hou.”
Uiteindelik het dit slegs nodig om die verbintenisse waaroor reeds ooreengekom is in terme van NEPAD na te kom en om by internasionale norme van goeie regering te hou.
“Indien die samelewing al hierdie dinge doen, het ek geen twyfel dat dit in ’n sterk, gebalanseerde en suksesvolle volwassene sal ontwikkel nie,” het De Klerk afgesluit.
