Habib meen die syfers lyk nie sleg nie, maar van die 60.9% swart studente wat in 2005 op universiteit was, kom net 40.9% deur. Hy vra voorts hoe universiteite na hulleself as “wêreldklas-Afrika-universiteite” kan verwys as’n universiteit soos Wits se navorsinguitsette van 1 100 in 1998 tot 700 in 2005 gekrimp het. Die Mangosutho Technikon lewer slegs een navorsingsdokument per jaar. Tans word 63% van navorsingsuitsette in Suid-Afrika deur net vyf universiteite geproduseer. Daar word nie slegs méér hulpbronne vir hoër onderwys benodig nie; ook die beter benutting daarvan is essensieel.
As ’n mens Unisa en Technikon SA uitsluit, beëindig een uit drie universiteitstudente en een uit elke twee technikonstudente tans hulle studies.
Volgens Mandla Seopela, voorsitter van die South African Students’ Congress, is ’n gebrek aan finansies die hoofrede waarom studente nie hulle studies voltooi nie. “Die oplossing is gratis onderwys…die regering kan dit bekostig. Ons het met hulle gepraat, maar hulle sê dat hulle nie geld het nie. Dit is’n mite.”
Swak akademiese geletterdheid en onvoldoende voorbereiding speel ook ’n groot rol. Derek Swemmer, registrateur by Wits, stel dit baie versigtig soos volg: “Studente neem besluite, gebaseer op slegte advies, om tot die hoër onderwys toe te tree sonder om noodwendig die regte ingesteldheid te hê.”
Minister Naledi Pandor het al verskeie kere haar kommer uitgespreek oor die groot aantal studente wat druip of hoër onderwysinstellings verlaat voordat hulle grade of diplomas behaal.
Gebrekkige kennis van Engels en Afrikaans beïnvloed natuurlik ook studente se prestasie. Daarom is dit juis ironies dat die regering amptelik elf landstale respekteer, maar nie’n oog knip as Afrikaans, met sy indrukwekkende ervaring as akademiese onderrigtaal, onderdruk word nie. Prof Niek Grové van die Universiteit van Pretoria meen egter dat moedertaalonderrig as ‘n kode vir Bantoe-onderwys en apartheid gesien word. Volgens hom het Afrikaans steeds nie “die juk van 1976” afgeskud nie.
Die afgelope twaalf jaar het emigrasie en ’n dalende demografie tot ’n afname van sowat 20% in Afrikaanse studente aan openbare universiteite gelei. Universiteite wat poog om in meer as een amptelike taal klas te gee, word nie finansieel hiervoor deur die staat vergoed nie. Die histories Afrikaanse universiteite word verder met die toekenning van subsidies gepenaliseer, omdat daar nog nie genoeg swart studente is nie. Dosente voel reeds dat die las om in Engels en Afrikaans lesings aan te bied, te veel is.
Volgens prof Grové is die vlakke van akademiese geletterdheid van nuweling-studente aan die Universiteite van Pretoria, Noordwes en Stellenbosch die afgelope paar jaar getoets. Die doel met die toets was om studente te identifiseer wie se gebrekkige akademiese geletterdheid van hulle ’n risiko maak om nie die program waarvoor hulle inskryf, suksesvol te kan voltooi nie.
|
Tabel 12: Nuweling-eerstejaarstudente aan UP – Persentasie studente wat weens lae akademiese-geletterdheidsvlakke as akademiese risikogevalle beskou word |
||||||||
|
Jaar |
2000 |
2001 |
2002 |
2003 |
2004 |
2005 |
2006 |
Gemiddeld |
|
% akademies nie geletterd nie |
28 |
33 |
30 |
29 |
31 |
30 |
30 |
30 |
Die syfers in bogemelde tabel weerspieël slegs ten dele die waarheid. Nuweling-studente wat van voorneme is om in Engels te studeer, druip in verhouding baie meer as wat die geval met die Afrikaanse studente is.
|
Tabel 13: Nuweling-eerstejaarstudente aan UP – Persentasie studente wat weens lae akademiese-geletterdheidsvlakke as akademiese risikogevalle beskou word* *Onderskeid word getref tussen studente wat die Afrikaanse en dié wat die Engelse weergawe van die toets geskryf het . |
|||||
|
Jaar |
2003 |
2004 |
2005 |
2006 |
Gemiddeld |
|
% wat die Afrikaanse toets nie geslaag het nie |
22 |
26 |
25 |
26 |
25 |
|
% wat die Engelse toets nie geslaag het nie |
34 |
35 |
35 |
32 |
34 |
Volgens Sipho Seepe en Annette Lansink het die pogings van die afgelope twaalf jaar nie ’n duik gemaak in die uitdaging wat die hoër onderwysstelsel in die gesig staar nie. Die uitdagings van “ontwikkeling, vaardighede, kwaliteit, gelykheid, regstelling en verhoogde toegang, herverdeling van hulpbronne en diversifisering van kennisproduksie is steeds daar.
Histories swart instansies bly onderontwikkeld, “terwyl die histories wit instansies bly voordeel trek uit die geskiedenis van oorallokering van hulpbronne (menslik en kapitaal) en regeringsteun en borgbefondsing in uiteenlopende areas.” Kennisproduksie het ook nie verander nie. Blankes dra 92% by, terwyl die bydrae van swartes aan navorsing ’n skamele 3% beloop.
Volgens Allan Bloom verteenwoordig onderwys ’n beweging van die duister na die lig. Die vraag kan met reg gevra word of ons nie eerder al dieper in die duisternis beweeg nie.
