Soos dr. Bertie du Plessis enkele dae gelede in Beeld geskryf het, gaan nóg die polisie, nóg die bestaande weermag enigiets doen om die veiligheid van gewone Afrikaners te verseker. Die vergadering op 10 Maart is bedoel om die begin van so ’n volksaksie teen misdaad in te lui wat moet uitloop op die gekoördineerde beveiliging van alle gebiede waar Afrikaners woon. Alle belanghebbende Afrikaanse organisasies word uitgenooi om ook die vergadering by te woon en met Praag in verbinding te tree by inlig@praag.org ten einde die sakelys vir die oggend te finaliseer.
Mnr. Anton Barnard van Praag is tans besig om ’n sms-kommunikasiestelsel te toets waarmee lede van die publiek in Gauteng ’n sms sal kan stuur om blitssnel tydens ’n aanval hulp te ontbied van ander lede van ’n burgerlike reaksiemag in die omgewing. Meer besonderhede sal binnekort op http://praag.org aangekondig word, asook op die nuwe webwerf http://www.burgerwag.co.za/. Die naam “burgerwag” is gekies weens die historiese gebruik daarvan toe Kaapse burgers aan die einde van die agtiende eeu so ’n wag moes vorm om hulle teen straataanvalle ná donker te beskerm.
Oor die volgende weke sal die vergadering deur middel van die internet, sms, pamflette en plakkate geadverteer word. Onderhoude en artikels sal op http://www.praag.org geplaas word in aanloop tot die vergadering om perspektief te verskaf. Die Praagwebwerf word reeds vanaf begin Januarie deurlopend met intydse nuusartikels, rubrieke en kommentaar bygewerk.
Eerskomende naweek hou die Praag-bestuur tesame met afgevaardigdes van TLU-Veiligheid ’n bosberaad om die vergadering van 10 Maart en verwante aksies te beplan. Die doelwit is om ’n landwye netwerk van buurtwagte en plaaswagte te organiseer wat ’n omvattende burgerlike veiligheidsnetwerk sal uitmaak.
“Hoewel Praag nie afwysend staan teenoor die groot aantal petisies en briefveldtogte wat gevoer word om die ANC-bewind voor sy verantwoordelikhede te plaas nie, beskou ons enige vertoë aan Mbeki of Nqakula as ’n futiele oefening. Laasgenoemde het immers gesê dat as ons nie tevrede is nie, behoort ons te emigreer. Ons enigste hoop op oorlewing is om beheer oor ons eie veiligheid te verkry,” het dr. Roodt bygevoeg.
