Flip Buys en Beeld span nou saam om ‘rassis’-teerkwas te swaai

Flip Buys en FW de Klerk
Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Een van die absurdste ideologiese verskynsels is Afrikanerliberalisme. Terwyl die klassieke liberalisme van die negentiende eeu darem die bestaan van meer as een waarheid, meningsverskil en spraakvryheid erken het, is die Afrikanerliberalis meer soos ‘n fundamentalis. Vir hom is daar maar één waarheid, een dogma en wee diegene wat nie daaraan glo nie!

Naspers, of Naarpers soos hulle in die volksmond bekendstaan – hoewel sommige mense praat ook van Naspes, daar is dus ‘n keuse – het natuurlik lank reeds die Damaskusbekering tot pseudoliberale fundamentalisme ondergaan. Hulle dink nie, hulle gló.

Tans lyk dit asof Beeld ‘n hele propagandaveldtog teen my en Steve Hofmeyr voer. Steve ry te vinnig, terwyl ek weer sulke koolkoppe soos Piet Croucamp op hul logiese denkfoute wys. In Suid-Afrika kan jy maar babas verkrag, oumense op plase tot die dood toe martel, en dis alles bykomstighede van “demokrasie” wat ons maar gelate moet aanvaar, te oordeel aan Naarpers se volslae gebrek aan kritiek op dié gruweldade. (Is daar al ooit ‘n hoofartikel in Beeld of Rapport gepubliseer wat spesifiek plaasmoordenaars kritiseer?)

‘n Afrikaner wat ‘n mening uitspreek, is vir Naarpers egter soos ‘n rooi vlag voor ‘n bul. Dít kan nie geduld word nie. Dit druis in teen die heersende dogma van “nasiebou” en fundamentalistiese Mandela-aanbidding.

Verlede week publiseer Beeld uit’t bloute ‘n stokou stuk wat Flip Buys op Maroelamedia geskryf het en waarop enkele skrywers hier op praag reeds kommentaar gelewer het:

Waarom kyk Flip Buys ware rassisme mis? deur Manfred Delport

Watter wit saak? deur Leon Lemmer

Aanvanklik kon ek nie verstaan waaroor dit gaan nie, totdat ek uitgewerk het dat Flip Buys eintlik verwys na my repliek op een van Piet Croucamp se tirades. Flip Buys sou nooit as nagraadse student kon vorder nie, want sy stuk gaan mank aan enige verwysings en daarom laat hy sy lesers heeltemal (dalk doelbewus?) in die duister.

Terloops, dis nogal interessant wat Buys oor Mandela te sê had:

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê Suid-Afrikaners dink terug aan Mandela se tyd as president wat gekenmerk is deur goeie rassebetrekkinge, optimisme en vertroue in die land se toekoms en goeie landsbestuur. (aangehaal in Beeld op Vrydag 6 Desember 2013)

Al tegniek wat die spul fundamentaliste by Beeld met hul gebrekkige opvoedings ken, is dié van die tref-en-trap-belastering en etikettering. Almal wat nie voor die verskeidenheid Mandela–standbeelde in die land neerkniel om wierook en kerse aan te steek soos voor ‘n Baäl van ouds nie, is “regs en rassisties”. Ek dink hulle verlang regtig sterk na die ou Oos-Duitsland waar die Stasi almal dopegehou het wat nie goeie kommuniste was nie en dalk oor die Muur na die “fascisme” aan die oorkant wou ontsnap. Dis nog ‘n oeroue linkse belediging wat Naarpers gereeld afstof: “fascis”. As jy op Afrikaanse skole en universiteite aandring, is jy ‘n “fascis”. So iets.

Ewenwel, ek lees baie min Beeld omdat hulle deesdae verlang dat mens op die internet daarvoor moet registreer, dus reageer ek nie gewoonlik op enige van die stereotipe rubrieke en kommentare wat in dié Naarpers-publikasie verskyn nie. ‘n Mens kan jou in elk geval net aan sóveel “naar” blootstel. Die gedagte om vir Beeld te betaal, is natuurlik so absurd dat jy net sowel ‘n PayPal-subskripsie op die ANC se mediaverklarings kan uitneem, uit dankbaarheid dat iemand in Luthuli-huis nog kán skryf, danksy Bantoe-onderwys! In die geval van Flip Buys se stuk, het ek egter besluit om by wyse van uitsondering wél te reageer en het die volgende brief aan Beeld gerig. Wat toe – is ons enigsins verbaas? – nie geplaas is nie.

aweregs
Bestel Dan Roodt se politieke essays

Voordat ek my brief aan Beeld hier publiseer, laat my toe om eers my lagbui te onderdruk. Ek dink Beeld en Naarpers in die algemeen verkeer onder die indruk dat ons steeds in die tegnologiese donker eeue verkeer waartydens die hoofstroommediagroepe, nes die Oos-Duitse televisie, mense se denke bepaal het. Nóg Naarpers, nóg hul epigoon Flip Buys wat saam op sy knieë in aanbidding voor Mandela val omdat hy Naarpers vir die bemarking van sy sosialistiese vakbond en verwante staatsdiensagtige “groot organisasies” nodig het, verstaan enigiets van hoe die internet die spelreëls verander het.

Beeld en Buys dink ons is nog iewers in die vroeë tagtigerjare toe dit genoeg was om iemand met drukkersink letterlik en figuurlik “swart te smeer”, en agterna enige reg op repliek te weier. Dis mos “goeie joernalistiek”! Só is enige kritiese denke in Afrikaans onderdruk en die groot verraad voorberei, totdat die Afrikaners soos ‘n klomp lemmings die see ingevaar het, sonder ‘n plan.

Daardie dae, is ek bevrees, is vir goed verby. Selfs die mees hartstogtelike gebede by Mandela se standbeeld gaan hulle nie terugbring nie. Ons mag ons land kwyt wees, maar ten minste het ons weer ons spraakvryheid en vermoë om helder te dink, teruggekry.

Flip Buys vrees nie korrupsie, moord, verkragting en die ander plae wat ons land teister nie, maar hy leef in paniese angs vir “rasse-argumente”. Die snode snotkoppe by Beeld se redaksie, daarenteen, se broeke bewe by die gedagte dat daar Afrikaners daarbuite mag wees wat van die Dogma afwyk. Hulle bars in koue sweet uit as hulle bloot vermoed dat ons almal nie opreg in alle vorme van witskuld, Mandelaïsme en klakkelose onderdanigheid aan die huidige, korrupte bestel gló nie.

Moenie dink nie, gló. Dis die motto van die links-liberale Kruiperkaner wat sy siel vir geld sal verkoop, en sonder te hik of te kik sal toesien hoe sy hele gesin deur ‘n paar “vryheidsvegters” uitgewis word. Daar is mos ‘n Mandela-beeld by die Uniegebou. Wat meer het ‘n mens nodig?

Hier volg die briefie wat die DrogBeeld te bang was om te plaas, nadat hulle Flip Buys se ongevraagde, ongegronde en onbilike kritiek op my oorspronklike stuk met fanfare aangebied het,  nogal met ‘n amateuragtige illustrasie wat voorgee dat “rassisme” soos ‘n sware vuis op die Afrikaner rus:

Ek wonder of Flip Buys self verstaan wat hy met ‘n “rasse-argument” bedoel, want my skrywe waarna hy verwys, was juis bedoel om die rasse-argument(e) van dr. Piet Croucamp van die Johannesburgse Universiteit te weerlê.

Croucamp het naamlik twee dinge beweer: dat Afrikaners, of ten minste diegene wat hulself só beskryf, “dom” is. Verder het hy gesê dat “alle rassiste met lae intelligensie geassosieer word”. Kennelik is mnr. Buys en dr. Croucamp geesgenote, want albei is lede van Mensa, die vereniging vir mense met begaafde IK’s, en sien neer op die gemiddelde Afrikaner wat nie tot verhewe “nie-rassige” denke in staat is nie.

Daarteenoor het ek aangetoon dat nogal heelwat internasionale figure wat op een of ander stadium deur ander, veral polities korrekte joernaliste, vir “rassiste” uitgekryt is, hul intellektueel onderskei het. Twee voorbeelde van “rassiste” wat Nobelpryse in wetenskaplike dissiplines ontvang het, is die uitvinder van die transistor, William Shockley, en die mede-ontdekker van die DNS-heliks, James D. Watson.

Reeds in die ou Suid-Afrika is kritiese denke nie gewaardeer nie en daarom het die Nasionale Party tydens sy laaste stuiptrekkinge uit ‘n klompie patetiese jabroers bestaan wat desperaat was om te konformeer. Op die ou end het hulle epigone van Joe Slovo en die SAKP geraak en die denke van hul eertydse vyande klakkeloos hul eie gemaak.

Flip Buys en FW de Klerk
Flip Buys en FW de Klerk

Ek is seker Flip Buys en FW de Klerk is net sulke goeie vriende soos wat hulle op foto’s in die glanstydskrifte lyk. Al hierdie “slim” leiers het ons nou in ‘n situasie laat beland waar Afrikaners ná die korstondige DA-bewind van enkele maande op Potchefstroom nie eens ‘n enkele munisipaliteit waar ook al in die land bestuur nie, wat nog te sê enige inspraak hoegenaamd in die regering het. Dis seker wat Buys eufemisties as die “morele hoëgrond” beskryf. Minder polities korrek noem ‘n mens dit die ashoop.

Ons toekoms is duister, behalwe dat daar nog baie oor metafisiese “rassisme” gesanik gaan word. Verskoon my as ek, tesame met ‘n toenemende aantal Franse, Amerikaanse en ander denkers, dit taamlik oninteressant vind.

Terloops, verteenwoordig regstellende aksie, wat op die mite van swart benadeling gegrond is, nie ook ‘n groteske rasse-argument nie? Ras is mos ‘n “sosiale konstruk”, totdat die swartman en die Indiër voorgetrek moet word. Dan onderskei die sisteem met die grootste gemak tussen rasse.

Net soos Afrikaners nie bestaan nie, totdat hulle die blaam vir die misdadigheid en nie-prestasie van ander groepe moet dra.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.