‘Watter wit saak?’

Deel op
Eers was dit Nasperssentrurm, nou is dit Naspers Centre
Eers was dit Nasperssentrurm, nou is dit Naspers Centre

deur Leon Lemmer

Om die eens werklike verlede te vergeet en dit in die hede wan voor te stel, is blykbaar maklik en ‘n florerende bedryf. Dit is opnuut by my tuisgebring toe daar in ‘n artikel verkeerdelik beweer is dat die Naspers-sentrum in Kaapstad as die hoofkantoor van Sanlam opgerig is (Die Burger, Eiendomme, 16 Nov, p 4). In werklikheid het die Sanlam-hoofkantoor in 1953 uit Waalstraat, Kaapstad, na die noordelike voorstad Bellville verskuif, waar dit steeds is.

Sestig jaar gelede was Bellville in baie opsigte spreekwoordelik “woes en leeg” in vergelyking met die skouspelagtige ontwikkeling wat daarna plaasgevind het. Dit was ‘n beskaafde, Westerse leefwêreld wat deur Afrikaners gedomineer is. In die nuwe Suid-Afrika het die hoofstraat, Voortrekkerweg, met sy middelpunt by die kruising met Durbanweg, en van daar af tot by Bellville-stasie, onmiskenbaar verafrika. Enigeen uit Afrika, wettig en onwettig, kan daarheen aangetrek voel en hom daar vestig.

Dit word blykbaar as ‘n onvervreembare mensereg en as ononderhandelbare geregtigheid beskou dat dese en gene kan afbreek en laat verval wat deur blankes en veral Afrikaners hier en elders in hierdie droewe land sorgsaam oor eeue tot stand gebring is. Teenmaatreëls teen die kolossale, oorweldigende agteruitgang word danksy blanke inisiatief getref, bv die Voortrekkerweg-korridorverbeteringsdistrik, waarvan Derek Bock die bedryfshoof is. Hy sê sonder omhaal van woorde: “Ons vrot kolle is die twee stasies by Parow en Bellville” (Die Burger, 27 Nov, p 14).

Die foutiewe berig oor die Sanlam-hoofkantoor is ‘n week later reggestel (Die Burger, Eiendomme, 23 Nov, p 5). Martiens van Bart, ‘n joernalis wat bekend daarvoor is dat hy met hartstog uitstekende berigte oor die Afrikaner se kultuur en geskiedenis skryf, het van die geleentheid gebruik gemaak om die aandag te vestig op die deskundige vernuf van die raadgewende ingenieurs, Van Wyk en Louw. Die huidige Naspers-sentrum is vyftig jaar gelede op die Kaapstadse strandgebied, oftewel Roggebaai, as ‘n sakegebou en bekend as Sanlam-sentrum opgerig. Met 26 verdiepings bogronds was dit die hoogste gebou in Kaapstad. Tydens die bouwerk is die voltooiing van een na die ander verdieping ter inligting van die publiek op ‘n groot bord aangedui.

Van Bart noem dat die gebou op betonringe rus wat progressief met beton gevul is. Wat hy nie noem nie, is dat daar voor die aanvang van die bouwerk toetsgate op die perseel in die drooggelegte grond geboor is en dat die ingenieurstekeninge van die fondament daarvolgens opgestel is. Nadat daar tydens die bouwerk met uitgrawings begin is, is bevind dat die betonpilare baie dieper gesink sou moes word voordat die gebou op werklik bestendige rots sou staan. Daarmee het die koste van die gebou die hoogte in geskiet. Die Sanlam-raad het met groot besorgdheid kennis van hierdie verwikkeling geneem, maar besluit dat die bouwerk moet voortgaan omdat hierdie pragtige, hoë gebou onder meer groot prestigewaarde vir Sanlam sou hê.

Wat ek wil tuisbring, is dat hierdie gebou in die era van Afrikanertrots, ‘n skrale vyftig jaar gelede, opgerig is. Die stigting van Sanlam in 1918, met Willie Hofmeyr as die eerste raadsvoorsitter, en van Nasionale Pers in 1915, met Jacobus Petrus Bekker as die eerste hoofuitvoerende beampte, was belangrike aanlope hiertoe. Wat Sanlam in sy trotse jare as Afrikaner-onderneming gedoen het, was om mede-Afrikaners te ondersteun. Louw en Louw was die eerste sodanige argiteksfirma, met sy hoofkantoor in die Paarl. At Meiring, wat die eerste hoogleraar in argitektuur aan die Universiteit Pretoria sou word, het sy loopbaan by Louw en Louw in die Paarl begin. Meiring en Naudé was die argitekte van die Sanlam-sentrum. Borckenhagen en Louw was die bourekenaars en Van Wyk en Louw die raadgewende ingenieurs. Wat opval, is die prominente rol wat Louws in hierdie konteks gespeel het.

‘n Minder bekende maar belangrike feit is dat Sanlam in daardie jare vereis het dat alle argiteks- en ander tekeninge vir sy geboue, bv dié van die strukturele en elektro-tegniese ingenieurs, asook die bourekenaars se hoeveelheidslyste, in Afrikaans opgestel moes word. Die genoemde Afrikaner-baanbrekers het Afrikaanse terme vir hierdie doel gemunt. Al die bouers wat vir die oprigting van ‘n Sanlam-gebou getender het, moes teen wil en dank hierdie Afrikaanse terme baasraak. Hulle moes noodgedwonge dikwels met die argitekte, bourekenaars en ingenieurs skakel om die betekenis van Afrikaanse terme vas te stel. Daar was toe veral twee boumaatskappye, Murray & Stewart en Roberts Construction, albei sterk Engels geöriënteerd, wat om die beurt suksesvol vir groot Sanlam-gebouprojekte getender het. Hulle het spoedig agtergekom dat hulle elke keer teen mekaar meeding en het dus besluit om liewer as Murray & Roberts saam te smelt.

Hoe sterk Afrikanergesind Sanlam destyds was, blyk uit die feit dat ek, werksaam as ‘n onbeduidende klerk in die Sanlam-hoofkantoor in Bellville, jaarliks die bygewerkte lyste van praktiserende argitekte, bourekenaars en ingenieurs nagegaan het en dan al die vanne gemerk het van diegene wat blykbaar Afrikaans was. Daardie gemerkte name is dan deur die Sanlam-hoofamptenare gebruik wanneer hulle besluit het watter professioneles vir die volgende bouprojek aangestel sou word.

In die nuwe Suid-Afrika het Sanlam en Naspers, asook bv Volkskas (gestig in 1934) in sy nuwe gedaante as Absa (wat deur die Britse Barclays oorgeneem is), doelbewus hulle Afrikanerwortels afgesweer. Dit lyk asof hulle in ‘n poging om hulle trotse verlede te versaak, alles in hulle vermoë doen om swartes en veral die ANC ter wille te wees. Dit is om van te ween, maar van ‘n omkeer- en terugkeerstrategie na hulle Afrikanerwortels is daar geen sprake nie.

In die jare sestig, dus ten tye van die oprigting van die Naspers-sentrum, en sekerlik lank voor dit en daarna, het die Sanlam-raad daarop aangedring dat alle raadstukke slegs in Afrikaans moes wees. Ek en ander klerke het ure lank dokumente uit Engels in Afrikaans vertaal om te verseker dat geen Engelse teks aan die direkteure voorgelê word nie. Deesdae is die raad van sowel Sanlam as Naspers dermate getransformeer, dus beset met persone wat nie Afrikaans kan of wil gebruik nie, dat alle raadstukke en -besprekings waarskynlik deurgaans in Engels is. In die geval van Absa is daar onder die tien raadslede nie ‘n enkele siel wat naasteby ‘n Afrikaner genoem kan word nie.

Diegene wat gebeurtenisse soos die Van Riebeeck-fees (1952) en die inwyding van die Voortrekkermonument (1949) en die Afrikaanse Taalmonument (1975) meegemaak het, behoort ‘n baie beter begrip van die meevoerende Afrikanertrots van daardie dekades te hê as diegene wie se eerstehandse waarneming grotendeels tot die nuwe Suid-Afrika beperk is. Die Afrikaner van die apartheidsera en vroeër was anders en sekerlik beter as wat hy tans voorgestel word; ‘n karikatuur wat veral deur die Waarheids- en Versoeningskommissie, met Desmond Tutu aan die spits, geskep en via die SABC deur Max du Preez en Antjie Krog uitgebasuin is en steeds met oorgawe gepropageer word.

Dit is nie net nie-Afrikaner-elemente wat regverdigbare Afrikanertrots deesdae belaglik voorstel nie. Weens ‘n mengsel van politieke korrektheid en ANC-gedienstigheid neem verloopte Afrikaners aktief deel aan hierdie minagting en vertrapping. Tydens die “onderhandelde politieke skikking” het die swartes deurgaans hulle eie belange ten koste van die blankes nagejaag en seëvierend daarmee weggekom. Mense soos FW de Klerk, Roelf Meyer en Leon Wessels was die swartes ter wille en het verraderlik die mandaat vir magsdeling in algehele magsoorgawe omskep.

Ek het onlangs Wessels se relaas van die gebeure, Vereeniging: Die Onvoltooide Vrede (2010), onder die loep geneem (Praag 20 Okt). Hy beweer: “Die ‘wit saak’ was verlore lank voordat die onderhandelings begin het” (p 59). Hy wek die indruk dat hy hom hieroor verlekker. Dit kom van iemand wat sy bevoordelingsopsies oopgehou het en dus eers in 1994 uit die Afrikaner-Broederbond bedank het (p 333). Wessels aanvaar sonder meer dat alle volwasse burgers in ‘n eenheidstaat in dieselfde mate stemreg moet hê. Kwalitatiewe verskille by mense word summier geïgnoreer. Daar is geen sprake van ongedurigheid by Wessels oor wat diegene aangedoen is wat die land oor eeue opgebou en die Westerse beskawing hier gevestig het nie.

Op 20 Oktober was ek beswaard oor Wessels se stelling dat “wit beskawing” “‘n eufemisme vir oorheersing deur wittes” sou wees (p 51). Ek het ook genoem dat Wessels dink “Westerse beskawing skynbaar sonder verlies deur afrikanisering vervang [kan] word.” “Wessels het vir lief met swart mag en die tirannie van die meerderheid, eufemisties ‘demokrasie’ genoem, geneem.” “Hy het die nuwe Suid-Afrika gewen, maar in die proses sy siel as Afrikaner verloor.” As iemand wat in 1946 gebore is, het Wessels nie gees by die inwyding van die Voortrekkermonument of die Van Riebeeck-fees gevang nie en dit is onwaarskynlik dat hy die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument bygewoon het.

Ek het voorheen aangetoon hoe ongevoelig Wessels deesdae vir die belange nie net van die blankes en in die besonder van Afrikaners is nie, maar ook vir dié van Afrikaans. Dit kan teruggevoer word na die feit dat Wessels, soos Willie Esterhuyse, uit ‘n Sap-gesin kom. Albei het ‘n tyd lank ‘n Afrikanerdop vertoon, maar die neut het Sap gebly. Dit is mense wat nie die grootsheid van die Afrikaner in sy dieptegang ervaar het nie, maar eerder oppervlakkig en opportunisties eens lippediens aan die Afrikanersaak bewys het. Daarna het hulle die Afrikaner vir ‘n pot lensiesop verkwansel.

Die voorafgaande betoog kan geen twyfel laat oor die voor die hand liggende werklikheid van die blankes se saak nie. Tog het Wessels dit wys geag om ter herdenking van die ondertekening van die tussentydse grondwet 20 jaar gelede, ‘n artikel vir Rapport (24 Nov) te skryf, wat onder die opskrif “Watter wit saak?” gepubliseer is. Daar is by Wessels steeds algehele onbegrip vir wat hy en sy meelopers die blankes en veral die Afrikaners aangedoen het. Daar is geen boetvaardigheid by hom te bespeur oor twee dekades van agteruitgang en verval nie. Hy herhaal halsstarrig wat in sy 2010-boek staan.

Wessels:

“Die ‘wit saak’ was verlore lank voordat die onderhandelinge begin het. Die onreg wat aan wit bevoorregting gekoppel is, was eenvoudig te groot. Wit mag, wit eksklusiwiteit was so gediskrediteer dat welluidende woorde soos selfbeskikking, magsdeling en vetoreg in ‘n konsensusregering dit eenvoudig nie kon versag nie, hoe goed dit ook al bedoel was.”

Is die kern van ons geskiedenis voor 1994 wit bevoorregting of wit ondernemingsgees, kundigheid, toewyding, deursettingsvermoë, ens? Het swart mag geblyk beter as wit mag te wees? Wie het wit eksklusiwiteit gediskrediteer? Die swartes. Op grond waarvan mag wittes nie vir hulleself leefbare ruimte vir hulle kultuur en waardes gun en skep nie?

Waarom konsensusregering? Die wittes het die politieke mag gehad. Die NP-onderhandelaars kon, as hulle ruggraat gehad het, ononderhandelbare voorwaardes gestel het. Dit is wat die ANC gedoen het en wat die VGK in hulle gesprekke met die NG Kerk steeds doen. Pleks daarvan dat wittes selfbeskikking, magsdeling en vetoreg het, het die swartes nou (feitlik) onbeperkte mag; iets wat klaarblyklik nie in die openbare belang is nie.

Wessels vertel hoe erg verdeeld die kabinet was. “Dat De Klerk dié uiteenlopende groep mense so lank bymekaar kon hou, was ‘n prestasie waarvoor hy nie aldag erkenning kry nie.” Eintlik is dit ‘n hoogs onoorspronklike opmerking, want dieselfde is jare lank van sir De Villiers Graaff en sy Sappe gesê. De Klerk “verdien ook krediet daarvoor dat hy nie toegelaat het dat die vasstekers die proses kaap en die oorgang vertraag nie”. Die behoudendes word dus die “vasstekers” genoem en die oorgang van wit na swart mag word deur Wessels ondersteun. Is dit nie veel beter om ‘n vassteker vir, as ‘n verraaier van, jou etniese groep te wees nie?

Onthou, dit behoort in die eerste plek nie te gaan om die belange van die huidige geslag nie, maar om die heil van toekomstige geslagte. Die NP-onderhandelaars, waarvan Wessels een was, het omstandighede geskep wat vir die huidige geslag blankes kwalik leefbaar is. Vir hulle komende geslagte is dit klaarblyklik nag.

Daarna herhaal Wessels dieselfde stommiteit as in sy boek (p 251): “Roelf Meyer was die regte man om De Klerk by te staan.” Ek vra weer: “Sodat die ANC hom so erg ore kon aansit?” In die nuwe Suid-Afrika het Meyer ‘n ANC-lid geword. Hierdie feit, wat sy gesindheid opsom, is afdoende om Meyer as beskermer van blanke belange heeltemal te diskrediteer. Wessels vertel goedkeurend van Meyer en Cyril Ramaphosa se uitgangspunt “dat vir elke probleem daar ‘n oplossing is.” Die geneuk is dat hierdie “oplossings” meesal en male sonder tal ‘n eufemisme vir toegewings aan die kant van Meyer en De Klerk was.

Die “versoenende” pad wat mense soos De Klerk, Meyer en Wessels geloop het, het tot gevolg dat die blankes, onder wie se leiding die land ontwikkel en opgebou is, tweederangse burgers in hulle geboorteland geword het. Dié blankes word verwyt en verfoei. Van hulle word verwag om sonder ophou verskoning te vra. Hulle is grootliks polities magteloos gelaat. Diegene wat met oorgawe alles wou afbreek wat oor eeue opgebou is, het deesdae feitlik onbeperkte politieke mag. Ingevolge die grondwet, waarvoor iemand soos Wessels net die hoogste lof het, word daar in elke moontlike opsig teen die blankes gediskrimineer. Desnieteenstaande gee die ANC hoog op oor ‘n “nie-rassige” nuwe Suid-Afrika. Die erflating van die blanke bewind is oorweldigend positief, maar die ANC en sy meelopers haper uitsluitlik op die onvolmaakthede wat deel van ‘n voortreflike pakket was.

Realisties beskou behoort daar groot erkentlikheid teenoor die blankes vir hulle bydrae te wees. Daarom behoort hulle eerder bevoordeel as benadeel te word. Hulle behoort as die waardevolste etniese groep erken en waardeer te word. Pleks daarvan is die kern van die ANC se beleid presies die teenoorgestelde. Dit gaan deesdae om die benadeling van blankes en die bevoordeling van nie-blankes, veral swartes. Desmond Tutu het selfs al ‘n etniesgebaseerde ekstra belasting op blankes voorgestel. Die wittes moet klaarblyklik boet vir wat hulle opgeoffer en tot stand gebring het.

Dit is hierdie wesenlike politieke werklikheid wat iemand soos Flip Buys miskyk (Maroelamedia 4 deser). Hy verwys na wat hy beskou as “swak gedrag”, “dom optredes” en “swak argumente”. Dit veroorsaak glo vyande vir Afrikaners en het tot gevolg dat ons verder verneder en nog meer ongewild gemaak word. Ons benadeel glo onsself deur na ras (oftewel kleur, etnisiteit) te verwys. Wat Buys per slot van sake met sy paaibeleid voorstaan, is dat die blankes die rampspoedige voorbeeld van mense soos De Klerk, Meyer en Wessels moet navolg en bly buig (“blackwards” – soos die Rhodesiërs gesê het) voor die aanslag van die bose; dat ons nie soos die ANC in rasgebaseerdheid mag uitmunt nie. Buys versuim om die ANC se rasgebaseerde aandrang op swart mag ter vervanging van wit mag in berekening te bring. Soos Willie Esterhuyse in Eindstryd (2012) bepleit, verkies Buys blykbaar om die ANC as “vennote” (p 195) pleks van as vyande van die Afrikaner te takseer.

Daar is klaarblyklik groot kulturele en ontwikkelings- of beskawingsverskille tussen plaaslike indiwidue en etniese groepe. Sonder om ras/kleur tot rassisme of rassemeerderwaardigheid te verabsoluteer, is ras/kleur (dikwels) aanduidend van hierdie verskille. Velpigmentasie is eerder die aanduidende as die wesenlike rede vir hierdie nie-eendersheid. Dít hoef nie, soos Buys voorgee, “haatpolitiek” of ‘n “terugkeer na apartheid” te behels nie. Hy skryf: “Rasargumente is ‘n politieke doodloopstraat.” Dit is egter die straat waarin die ANC aktief bedrywig is en waarin hy ten koste van die blankes floreer. Die bepalende hooffaktor in die ANC se beleid is ras/kleur/etnisiteit. Dit sou die toppunt van dwaasheid wees om hierdie feit goedsmoeds te ignoreer in die hoop dat dit tot ‘n beter bedeling vir blankes sou lei.

Of ons daarvan hou of nie, ras/kleur/etnisiteit is die kern van die politieke werklikheid in die nuwe Suid-Afrika. Om opdrag te gee dat ras/kleur/etnisiteit buite rekening gelaat moet word, soos Buys doen, is soos om ‘n suksesvolle wittebrood sonder seks na te streef.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.