My vrou sê toe so ewe: “Ons moet begin sokker speel.” Waarom nie? Tans is daar bloedweinig Afrikaners wat sokker speel, daarom is daar geen gevestigde belange wat dié sport betref nie. Die rugby-unies is vrekbang vir die ANC en sal niks doen om die outoritêre sportadministrateurs van die regerende party te ontstel nie. Die Suid-Afrikaanse sokkerspan is hoofsaaklik ’n swart span en Afrikaners stel nie werklik in sy vordering belang nie.
Ons mense doen goed in feitlik elke vorm van sport: rugby, krieket, atletiek (in die dae toe daar nog atletiek in Suid-Afrika was), tennis, gholf, noem maar op. Ons stamlande soos Nederland, Duitsland en Frankryk het van topsokkerspanne ter wêreld. Met ’n bietjie moeite en afrigting behoort ons ’n gedugte sokkerspan te kan oplewer. So ’n nuwe span sal heeltemal onafhanklik van bestaande verpolitiseerde sportstrukture kan funksioneer.
Gestel nou ons kon ’n Afrikanersokkerspan vir die komende wêreldbeker inskryf? Klink dit vergesog? Ek het bietjie oor die probleem begin dink. Dit mag dalk selfs ’n oplossing vir ons algemene sportprobleem onder die ANC bied waar politiek en politiekery sport oorheers.
My plan is eenvoudig: ons moet een van die kleiner landjies of eilandgroepe in die wêreld wat nie self oor die bevolking of die middele beskik om internasionale sport te bedryf nie, oorreed om onder hul vlag te kan deelneem. Omdat al die lede van die span egter Afrikaners sal wees, sal ons eie mense plaaslik onmiddellik die span begin ondersteun. En natuurlik moet die oranje-blanje-blou Prinsevlag by wedstryde geswaai word.
Ek het my voorgeneem om van aanstaande week af briewe en diplomatieke boodskappe te begin skryf aan elke potensiële land of selfregerende gebied ter wêreld wat nie ’n span vir 2010 ingeskryf het nie. Moontlike kandidate vir ’n Afrikaanse sokkerspan vir 2010 is:
Wallis en Futuna: ’n selfregerende eilandgroep onder Franse beheer (’n sogenaamde TOM of territoire d’outremer) met ’n bevolking van 16309 mense. ’n Ander Franse TOM, Nieu-Caledonië het wel ’n eie nasionale span vir 2010 ingeskryf, dus behoort dit moontlik te wees vir Wallis en Futuna om dieselfde te doen.
Tokelau: Hierdie selfregerende eilandgroep in die Stille Oseaan het ’n bevolking van slegs 1449 mense en word tans deur Nieu-Seeland geadministreer. Heel moontlik sou hulle verheug wees om aan die Wêreldsokkerbeker te kan deelneem met spelers wat vanuit die Afrikanervolk van 3 miljoen mense afkomstig is.
Die Marshall-eilande: Hierdie onafhanklike eilandgroep in die Stille Oseaan het ’n bevolking van 61 815 siele en sou met ons spelers aan die Wêreldbeker kon deelneem.
Gefedereerde State van Mikronesië: Hierdie eilandgroep in die Stille Oseaan het in 1986 van die VSA onafhanklikheid verkry en het ’n bevolking van 107,862. Met ’n Afrikanerspan sou hulle maklik aan die Wêreldbeker kon deelneem.
Saint Lucia: ’n Karibbiese eiland wat in 1979 onafhanklikheid van Brittanje verkry het. Hoewel hulle oor ’n bevolking van 170 649 beskik, is hulle nie lid van FIFA nie.
Hierdie lys is nie volledig nie, maar indien Afrikaner-diplomate met genoemde eilandvolkere kontak maak en hulle oorreed om namens hulle lande aan internasionale sport, waaronder veral sokker, deel te neem, mag ons die sportisolasie waaronder ons spelers tans met rasse- en taalkwotas verkeer, verbreek.
Dis nodig dat ons lateraal begin dink.

Vanmiddag het ek die eerste helfte van die Springbokke se rugbywedstryd teen Engeland gekyk en dit agterna afgesit omdat dit my nie werklik kon skeel wie wen nie. Nietemin het dit my weereens getref hoe die ANC sport en sportboikotte teen ons gebruik het om die Afrikaner ten eerste te isoleer en ten tweede van sy identiteit te ontneem sodat hy tans byna volkome oorheers word.