Die CNBC-belegging verteenwoordig ’n bedrag van 25 miljoen dollar. Die plaaslike Nywerheidskorporasie het R144 miljoen in hierdie projek belê.
Mbhazima Shilowa, premier van Gauteng, het die nuwe kanaal verwelkom en gesê dit wys net weer watter belangrike rol Suid-Afrika speel. Volgens hom sal CNBC Africa ekonomiese inligting verskaf wat Suid-Afrika in staat sal stel om ’n beeld van ”ekonomiese voorspoed” aan die wêreld voor te hou.
Peter Ndoro, wat die kanaal se openbare skakeling gaan hanteer, het egter daarop gewys dat daar nog ’n ver pad is om te stap. Die kanaal gaan op kwessies soos die gebrek aan handel tussen Afrika-lande fokus. Handel word belemmer deur doeane-unies wat nie funksioneer nie. ”Afrika is steeds hoofsaaklik net ’n uitvoerder van grondstowwe en invoerder van vervaardigde goedere. Totdat die vasteland begin om meer goedere te vervaardig, gaan daar min wees om van ander Afrika-lande in te voer,“ het Ndoro verder gesê.
CNBC Africa sal op DSTV-kanaal 54 uitsaai.
