Ek wil met Giliomee saamstem dat ons in Afrikaans moet poog om volgens Van Wyk Louw-norme die “oop gesprek” te bevorder, asook redelikheid en volwassenheid aan die dag te lê as dit by politieke argumente kom.
Maar ek is bevrees dat die breër landspolitiek, gegewe die historiese oorwinning van die ANC wat met ’n intense propagandaveldtog aangeteken is, nog lank nie aan enige redelikheidsmaatstawwe voldoen nie.
Ek verstout my om te sê dat politiek in Suid-Afrika berus op die kuns van die onredelike. Hoe meer jy jou opponent kan swartsmeer en belaster, hoe beter gaan jy in die media en by die stembus vaar.
Hierdie ingesteldheid tref mens selfs onder akademici, sangers en joernaliste aan. Onlangs het ek aan ’n openbare debat deelgeneem. Die sangeres Karen Zoid het langs my op die paneel gesit en Bok van Blerk se musiek, asook die patriotiese optrede van sy jeugdige aanhangers, as “Nazi-kak” beskryf.
Die huidige polemiek rondom Aristide se doktorale proefskrif by UNISA volg dieselfde patroon. Akademiese besware teen Aristide se middelmatige begrip van Zoeloe-grammatika, asook sy foutiewe vertalings van Zoeloe-tekste, word deur sy promotor, prof. Ncedible Saule, as “rassisme” afgemaak.
Ons Afrikaners sal moet besef dat die nasionale spel nie meer rugby is nie, maar om iemand ’n “rassis” of ’n “Nazi” te noem.
Twee jaar gelede by die Woordfees op Stellenbosch het ek ervaar dat akademici aan daardie eens trotse instelling met oorgawe hieraan deelneem en bereid is om selfs die onskuldigste literêre byeenkoms met hul politieke histerie te ontsier. By daardie geleentheid het ek gepleit dat “transformasie” dringend in boekvorm ontleed moet word as ’n nuwe vorm van rassekommunisme en volksmoord.
Is dit oordrewe? Ek glo nie. Die nuwe politieke spel bepaal dat jy slegs ernstig opgeneem word as jy jou opponent met sinsnedes soos “misdaad teen die mensdom” aan die skandpaal kan hang.

Hermann Giliomee is heeltemal korrek deur in vandag se