Die internasionale gemeenskap moet die land weer help opbou. “Die wêreld wag en wil weer betrokke raak by ’n Zimbabwiese regering wat hervormings deurvoer,“ het hy gesê.
Net twee dae tevore het minister Nkosazana Dlamini-Zuma egter die Suid-Afrikaanse parlement toegespreek en gesê dat Suid-Afrika nie drastiese aksie teen Zimbabwe beoog nie.
Intussen reken ’n lid van die Movement for Democratic Change (MDC) dat Zimbabwe se inflasiekoers nou al 10 000% verbygesteek het.
Eddie Cross, wat ’n bakkery in Bulawayo bestuur en die MDC se ekonomiese segsman is, baseer hierdie persentasie op wat hy in sy eie besigheid ervaar. In sy nuusbrief, wat op 30 Mei uitgestuur is, vertel hy onder andere dat sy personeel onlangs ’n 100% verhoging ontvang het, maar dat dit steeds nie hulle basiese lewenskoste dek nie. Hy was genoodsaak om hulle ook van kos te begin voorsien, want hulle kon nie meer hulle gesinne aan die lewe hou nie. Hy moet verder deesdae 600 km ry om sy meelvoorraad te gaan haal. Petrol word tans vir 45 000 Zimbabwiese dollar per liter verkoop. Die plaaslike geldeenheid verhandel teen 50 000 Zimbabwiese dollar teen 1 Amerikaanse dollar. Cross reken dat pryse met ongeveer 20% per dag styg.
Volgens Cross is ’n humanitêre krisis aan’t opbou in die land en word die lewens van miljoene mense bedreig. Baie Zimbabwiërs bly tans aan die lewe danksy skenkings wat hulle van familielede in die diaspora ontvang. Hy reken dat sowat 4.5 miljoen volwasse Zimbabwiërs hulle tans in die buiteland bevind. Dit is dalk al wat die land nog min of meer stabiel hou, meen hy.
