[snit]
Dié feite is egter in meer as een opsig heeltemal vals.
Eerstens, as ons Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) per capita volgens provinsies neem, het Gauteng en die Wes-Kaap die rykste mense in Afrika, gevolg deur die Noord-Kaap.
Sewe van Suid-Afrika se nege provinsies sou onder die rykste tien lande wees.
Gautengers is minstens 70 keer so ryk as die mense in die DRK en sowat 25 keer so ryk as die mense van Zimbabwe.
Die meeste gesinne in Suid-Afrika besit grond en ’n huis as bate en dit is geregistreer by die aktekantoor. Minder as 2% van die res van Afrika is in private besit.
Suid-Afrika se armes besit deesdae ’n selfoon. Meer as 70% van die bevolking het ’n eie huis. Meer mense in Suid-Afrika het verlede jaar vir die eerste keer ’n motor bestuur en gekoop as die totale getal motors in Zimbabwe.
’n Skoonmaker in die restaurantbedryf in Suid-Afrika kry meer as ’n junior dokter in Zimbabwe. Daar is geen vergelyking tussen die rykdom van die gewone Suid-Afrikaanse burger en die meeste van Afrika se burgers nie.
Elke jaar sedert 2002 het mense in Gauteng ryker geword en meer mense het groter welvaart beleef.
Daar is baie gevolge van hierdie verwronge situasie.
Die eerste is dat verlede jaar meer as ’n miljoen mense Suid-Afrika wettig ingestroom het, maar nie die land verlaat het nie. Sowat 112 000 mense per maand kom soek ’n toekoms in Suid-Afrika. Die getal mense wat onwettig inkom is natuurlik nie bekend nie, maar die totale getal mense wat van Angola tot Zambië na Suid-Afrika kom, is waarskynlik meer as 1,5 miljoen per jaar.
Dit is belangrik omdat Suid-Afrika se eie bevolking maar met net sowat 42 000 per maand groei. Suid-Afrika is besig om ’n land van immigrante te word. Die immigrante bring hul vaardighede saam en daar is beslis in Suid-Afrika ’n tekort aan vaardighede.
Die punt is egter nie net dat daar vandag waarskynlik meer as 55 miljoen mense in Suid-Afrika is nie (teenoor die 47,4 miljoen volgens Statistieke SA) maar dat Suid-Afrikaners nie besef hoe gelukkig hulle is nie. Baie politici en kommentators, veral van die linkse kant van die spektrum, het nog nie agtergekom dat die res van die wêreld wegbeweeg van staatsinmenging en “handouts” nie.
Daar is reeds in Suid-Afrika meer as 12 miljoen mense wat elke maand welsynbetalings ontvang. Dit is 2,3 keer soveel as die getal mense wat vir belasting geregistreer is. Maar selfs die armes wat welsyntoelaes ontvang, leef beter as baie mense in ander Afrika-lande.
Dus stem die mense van Afrika – wat oorwegend swart is – nie saam met die “wit is ryk en swart is arm”-stelling nie. Hulle sê eenvoudig Suid-Afrikaners is ryk en daarom kom soek hulle ’n toekoms hier.
Ten tweede groei die middelklas in Suid-Afrika baie vinnig. Tans is daar meer as 2,6 miljoen mense wat voorheen as arm beskou is, wat nou stewig in die middelklas sit. Die ergste kommentaar word hiér gelewer dat die swart middelklas nie in ’n 4×4 ry nie en dat dit mense wat slegs R4 500 per maand verdien, ook insluit.
Sulke kommentators is heeltemal die kluts kwyt omdat die meeste mense in die wêreld nié ’n 4×4 ry nie – dit is ryk mense wat dié tipe voertuig ry.
’n Inkomste van R4 500 per maand is ’n redelike aanwyser, selfs in wêreld-terme. In Oos-Europa is meer as ’n paar lande waar ’n inkomste van R4 500 per maand as meer as middelklas beskou kan word.
[snit]
Ten laaste, as ’n mens die data van Statistieke Suid-Afrika ontleed, wys dit dat baie meer swart mense as ’n persentasie van die werkmag vandag werk as ooit tevore. Die feit dat wit mense, Indiërs en selfs swart vroue vir hulself werk geskep het, word nooit genoem nie.
Die feit dat veral wit mense en Indiërs vir ander mense in die formele sektor werk skep, word nooit erken nie. Daar word heeltyd op rassistiese maniere gewys dat die bestuur steeds te wit is.
Altesame 69% van alle werkers is swart, maar twee derdes van werkgewers in die formele sektor is nie swart nie (bruin mense, wittes en Indiërs). Sê dankie vir hierdie mense wat die land se mense die rykste in Afrika maak. As jy deel is van die regering, ondersteun dié mense eerder as om net klappe uit te deel oor hul velkleur.
Schüssler, van T-Sec, is ’n vorige wenner van Sake24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Lees die volledige artikel hier.
