Prins Charles (59), Britse troonopvolger en oudste seun van Elizabeth II, het blykbaar alles wat hy in 2002 op die vooraand van ‘n Gemenebesvergadering oor Zimbabwe se rol in dié organisasie gesê het, vergeet. Die Gemenebes bestaan uit 53 lande en die koningin staan sedert 1952 aan die hoof daarvan. Gemenebesleiers is tans in Kampala, Oeganda, vir die beraad wat vanaf die 23ste tot die 25ste November sal plaasvind. Hy vergesel sy 81-jarige moeder na die geleentheid en sal amptelik deel wees daarvan.


’n Gebrek aan vaardighede is ’n probleem vir Eskom en grootliks verantwoordelik vir die kragonderbrekings waarmee Suid-Afrika tans te doen het, aldus Logan Pillay, konsultant vir die organisasie. Daar is eenvoudig net nie die nodige vaardighede om instandhoudingswerk uit te voer nie, meen hy. Elektriese ingenieurs en opgeleide elektrisiëns verlaat die land na plekke soos Australië, Nieu-Seeland en Brittanje, waar hulle meer betaal word en die werksomstandighede nie so moeilik is nie.