Kunsvlieënier oorlede

dellGlen Dell, kampioen kunsvlieënier, is Saterdag laatmiddag in die Sunninghill-hospitaal in Sandton oorlede.

Sy Red Bull Extra-vliegtuig het vroeër by die Secunda-lugskou neergestort.

Dell was die eerste Suid-Afrikaner om die Advanced World Aerobatic Championship in 2004 te wen.

Hy het baie ernstige brandwonde opgedoen toe sy vliegtuig se warm enjin volgens omstanders skynbaar die gras aan die brand gesteek het nadat dit geval het. Die vliegtuig het daarna aan die brand geslaan en Dell is erg verbrand.

Die strydros Ian Smith oorlede

ImageIan Smith, voormalige staatshoof van Rhodesië, is op die ouderdom van 88 in Kaapstad oorlede. Smith het in 1965 Rhodesië se eensydige onafhanklikheid van Brittanje uitgeroep. Hy was as eerste minister aan bewind todat ’n politieke skikking in 1979 bereik is. Tydens die verkiesing van die volgende jaar het Robert Mugabe eerste minister van die land geword.

Smith, wat in 1976 nog verklaar het dat hy nie geglo het dat swart meerderheidsregering ooit ’n werklikheid in die destydse Rhodesië sou word nie, het tot teen die einde van sy lewe ’n uitgesproke teëstaander van Mugabe gebly. Hy het sowat vier jaar gelede weens gesondheidsredes na Kaapstad getrek. Mugabe het verskeie kere oor die afgelope paar jaar na Smith verwys en gesê hy was gelukkig dat “sy kop nie afgekap is nie.”

Amptenare in die Mugabe-regering het gister kommentaar gelewer op Smith se dood en gesê die oud-politikus sal nie gemis word nie. “Smith sal nie gemis word nie en geen ordentlike mens hier sal oor hom rou nie, want hy was ’n onberouvolle rassis wie se rassistiese houding ten opsigte van ons onafhanklikheid ’n oorlog tot gevolg gehad het. Hy was verantwoordelik vir ’n klomp mense se dood en lyding,” het adjunk-minister Bright Matonga gister aan die pers gesê.

Mugabe het vroeër vanjaar blankes wat terugverlang na Smith se bewind van rassisme beskuldig. “Hulle beweer Rhodesiërs sterf nie en dat Rhodesië vir ewig sal voortbestaan, maar ons het Rhodesië doogemaak en Zimbabwe sal nooit weer ’n kolonie wees nie,” het hy vroeër vanjaar by ’n politieke saamtrek gesê.

Daar word beraam dat daar maar ongeveer 40 000 blankes in Zimbabwe oor is. Alhoewel Smith daarin geslaag het om sy eie plaas te behou, het hy gesê die plaasbesettings wat in 2000 met die goedkeuring van die Zimbabwiese regering begin het, het bewys dat Mugabe ’n terroris en kommunis was wat nooit aan bewind moes gekom het nie. “Ons was reg, en die wêreld kan nou sien dat dit (die situasie in Zimbabwe) ’n absolute ramp is,” het hy kort voor sy dood in ’n onderhoud gesê. карданные светодиодные светильникиданильченко юрий брониславович прокурор