‘Dis verskriklik’: Gaye Derby-Lewis oor Clive se dood

Die politikus Clive Derby-Lewis wat deur die WVK amnestie geweier is vir sy aandeel in die sluipmoord op Chris Hani, is vroeër vandag in die Eugène Marais-hospitaal oorlede. Mev. Gaye Derby-Lewis het sy dood as “verskriklik” en “onverwags” beskryf.

Mnr. Derby-Lewis is vir asemhalingsprobleme in die hospitaal opgeneem, waar hy oorlede is. Terwyl hy in die gevangenis was, het hy onder meer ‘n aanval met ‘n bottelskerf wat sy long binnegedring het, oorleef.

Reëlings vir sy begrafnis word tans getref, volgens mev. Derby-Lewis.

Volgens inligting vanaf die Afrikaanse Wikipedia, was Derby-Lewis, wat in Kaapstad gebore is, ‘n Afrikaner van Duitse en Skotse afkoms. Hy het in Kimberley grootgeword en sy opleiding aan die destydse Christian Brothers-kollege ontvang. Hy het sy klerkskap as ‘n geoktrooieerde rekenmeester voltooi en by ‘n rekeningkundige sowel as ‘n olie-maatskappy gewerk. Hy was ook ‘n buitengewone leraar van die Holy Communion at Blessed Sacrament Church in Johannesburg voordat hy die Katolieke Kerk in die vroeë 1980’s verlaat het. Hy het later by die Afrikaanse Protestantse Kerk aangesluit.

Derby-Lewis is saam met Janusz Waluś skuldig bevind aan die sluipmoord op die kommunistiese terroris, Chris Hani, wat in 1993 plaasgevind het. Hulle is albei ter dood veroordeel, welke straf later tot lewenslange tronkstraf versag is.

Derby-Lewis is in 2008 vir gewone parool en daarna vir mediese parool aanbeveel, maar die owerhede het volstrek geweier om dit uit te voer. Derby-Lewis het die hof herhaaldelik genader om die onregmatige weiering van sy parool te betwis. Op 29 Mei 2015 het regter Selby Baqwa beveel dat die gevangenisdiens, die Minister van Korrektiewe dienste, en die Mediese paroolraad Derby-Lewis se paroolvoorwaardes teen 5 Junie moet vasstel. Die staat is ook gelas om sy regskoste te betaal.

Hy het negentien jaar as ‘n vrywilliger in die Suid-Afrikaanse Burgermag gedien en was die jongste bevelvoerder van die Witwatersrand se Rifles Regiment. Hy het later die John Chard-medalje vir lang en voortreflike diens ontvang.

Derby-Lewis het by die Nasionale Party aangesluit en was ‘n stadsraadslid vir Bedfordview (1972–1977), die onderburgemeester (1973–1974) en uiteindelik die burgemeester (1974–1975), asook ‘n vryman van Johannesburg se mini-stadsraad. Hy het Edenvale in die Transvaalse Provinsiale Raad (1972–1981) verteenwoordig, waar hy vir ‘n paar jaar as die Nasionale Party se woordvoerder vir onderwys en hospitaaldienste opgetree het. Hy dien ook op die direksies van verskeie ander liggame, insluitend hospitale, laer- en hoërskole, asook ‘n skool vir fisies gestremde kinders.

Hy was ook ‘n lid van die hoofbestuur van die voormalige Konserwatiewe Party.

Bob is glo perdfris

Zimbabwe se pres. Robert Mugabe is gesond en die internetgerugte dat die 91-jarige leier ernstig siek is, is vals, het die Zimbabwiese staatskoerant, Donderdag berig.

The Herald het die president se woordvoerder, George Charamba, aangehaal.

Vals berigte dat Mugabe dood is,­ ­sirkuleer gewoonlik elke Januarie wanneer die leier op sy jaarlikse verlof is, berig The Herald.

Zimbabwe se regerende ZANU-PF party het die week aangekondig dat begin is met reëlings vir Mugabe se verjaardagpartytjie. Hy word volgende maand 92.

Kunsvlieënier oorlede

dellGlen Dell, kampioen kunsvlieënier, is Saterdag laatmiddag in die Sunninghill-hospitaal in Sandton oorlede.

Sy Red Bull Extra-vliegtuig het vroeër by die Secunda-lugskou neergestort.

Dell was die eerste Suid-Afrikaner om die Advanced World Aerobatic Championship in 2004 te wen.

Hy het baie ernstige brandwonde opgedoen toe sy vliegtuig se warm enjin volgens omstanders skynbaar die gras aan die brand gesteek het nadat dit geval het. Die vliegtuig het daarna aan die brand geslaan en Dell is erg verbrand.