Amptenare in die Mugabe-regering het gister kommentaar gelewer op Smith se dood en gesê die oud-politikus sal nie gemis word nie. “Smith sal nie gemis word nie en geen ordentlike mens hier sal oor hom rou nie, want hy was ’n onberouvolle rassis wie se rassistiese houding ten opsigte van ons onafhanklikheid ’n oorlog tot gevolg gehad het. Hy was verantwoordelik vir ’n klomp mense se dood en lyding,” het adjunk-minister Bright Matonga gister aan die pers gesê.
Mugabe het vroeër vanjaar blankes wat terugverlang na Smith se bewind van rassisme beskuldig. “Hulle beweer Rhodesiërs sterf nie en dat Rhodesië vir ewig sal voortbestaan, maar ons het Rhodesië doogemaak en Zimbabwe sal nooit weer ’n kolonie wees nie,” het hy vroeër vanjaar by ’n politieke saamtrek gesê.
Daar word beraam dat daar maar ongeveer 40 000 blankes in Zimbabwe oor is. Alhoewel Smith daarin geslaag het om sy eie plaas te behou, het hy gesê die plaasbesettings wat in 2000 met die goedkeuring van die Zimbabwiese regering begin het, het bewys dat Mugabe ’n terroris en kommunis was wat nooit aan bewind moes gekom het nie. “Ons was reg, en die wêreld kan nou sien dat dit (die situasie in Zimbabwe) ’n absolute ramp is,” het hy kort voor sy dood in ’n onderhoud gesê.

