Die tema van PRAAG se anti-misdaadvergadering Saterdag 10 Maart in Lynnwood, Pretoria, was Genoeg! Die publiek, en veral die Afrikanergemeenskap, is siek en sat vir misdaad en die moue moet nou opgerol word om iets daadwerkliks daaraan te doen.
Volgens dr. Phillip Venter, voorsitter van die Louis Trichardtse buurtwag, het hulle daarin geslaag om misdaad op die dorp met 95% binne vier maande te verminder. Hoewel hy ‘n predikant is, ry hy self patrollie en is daar al op hom geskiet. Maar hy het die gehoor van ongeveer 300 mense daaraan herinner dat misdaadvoorkoming ons Christelike plig is. “Misdaad is sonde en indien ons as gelowiges dit toelaat, is ons ewe aandadig as die misdadigers self.”

Onlangs skryf Rod Liddle ‘n sin in die Britse Spectator wat hom in Suid-Afrika sekerlik die attensies van Jody Kollapen se Menseregtekommissie op die hals sou gehaal het: “Waarom skiet swart mense mekaar heeltyd dood? En is daar enigiets wat die res van ons aan die situasie kan doen of behoort ons hulle maar net te los?”