Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) gister die regering daarvan beskuldig dat hy hardkoppig ontken dat sy swart bemagtigingsbeleid die rede vir Suid-Afrika se vaardighedekrisis is. Die DA-woordvoerder, Mark Lowe, het verklaar dat die party nie ’n probleem het met regstellende aksie om die ongelykhede van die verlede reg te stel nie, maar wel met die wyse waarop die beleid toegepas word. “Meriete en kwaliteit” word misken en “ras” eerder as “individuele vermoë” word as kriterium vir aanstellings gebruik. Volgens Lowe is “apartheidonderwys” gedeeltelik verantwoordelik vir die huidige gebrek aan vaardighede, maar kan foute van die afgelope elf jaar ook hiervoor geblameer word. Die SITA-stelsel funksioneer tans nie, skoolonderwys gaan agteruit en ervare senior staatsamptenare word afgedank, terwyl daar nie genoeg swart beamptes met ervaring is om die posisies te vul nie.
Die Vryheidsfront Plus (VF+) gaan intussen voort om hulle klag oor regstellende aksie met die Internasionale Arbeidsorganisasie (waarvan minister Membathisi Mdladlana die voorsitter is) op te volg. Volgens Willie Spies, die party se woordvoerder, word regstellende aksie gebruik om “’n nuwe vorm van apartheid” te bewerkstellig.
