praag.co.za

PRAAG, Steve, TLU wil anti-misdaadplan uitbrei

Written by

in

Soos wat die vergadering gevorder het, was dit duidelik dat daar reeds ‘n plan teen misdaad bestaan wat in sommige dele van die land met sukses toegepas word. Mnr. Anton Barnard het ‘n omvattende aanbieding oor misdaadstatistiek gedoen en aangetoon dat Limpopo die laagste misdaad van al nege provinsies het. Die verklaring mag wees dat die TLU se veiligheidstelsel, asook buurtwagte soos dié op Louis Trichardt, reeds die nodige positiewe resultate toon.

Image

Anton Barnard oor die Burgerwagstelsel

Barnard het ook die mite dat misdaad deur armoede veroorsaak word, die nek ingeslaan. “Toevallig is Limpopo die armste provinsie in die land. Die Wes-Kaap wat die hoogste inkomste per kop in die land het, het die tweede hoogste misdaadsyfer na die Oos-Kaap. Daar is dus geen korrelasie tussen inkomste en misdaad nie,” het hy gesê.

Image

Dr. Dan Roodt: geskiedenis herhaal homself

Dr. Dan Roodt het in sy openingsrede verwys na die bekende spreekwoord, “’n Boer maak ‘n plan” en dat hy oortuig is dat die Afrikaner soos soveel kere in die verlede sal opstaan om die anargie wat tans in die land heers, te stuit. Die elektroniese kommunikasiestelsel wat mnr. Anton Barnard van PRAAG ontwikkel het, is immers vernoem na die “Burgerwag” van die 1790s toe besorgde burgers aan die Kaap saamgestaan het om die strate na donker saans met fakkels te patrolleer omdat voetgangers toe dikwels aangeval is. Ook die kommandostelsel wat die ANC-bewind onlangs afgeskaf het, het in die negentiende eeu onstaan om die veiligheid van die ou Boererepublieke te verseker. Die Afrikaner het dus ‘n lang geskiedenis van “kommando ry” en vandag is daardie geskiedenis bloot besig om homself te herhaal.

Image

Steve Hofmeyr in gesprek agterna

Steve Hofmeyr het verwys na die groot aantal betogings waaraan hy en dr. Dan Roodt van PRAAG reeds saam deelgeneem het, sowel teen misdaad as teen naamsveranderings en die miskenning van Afrikaans. Onlangs was hulle saam by die hof in Randfontein om te protesteer teen die koelbloedige moord op die vyfjarige Danielle Esterhuizen wat vir haar pa langs ‘n dam waar hy besig was om vis te vang, gaan kuier het. Hofmeyr het die doeltreffendheid van protes om die ANC-bewind tot ander insigte te bring, betwyfel. “Ons marsjeer, soms is ons ‘n handjievol, soms is ons vyfduisend, maar hulle steur hulle eenvoudig nie daaraan nie.” Volgens hom trek betogings egter tog die aandag van die media. “Dis omtrent die enigste positiewe element daaraan, dat die media daaroor rapporteer en sodoende groter bewustheid skep.”

Mnr. Gideon Meiring van TLU-Veiligheid het verduidelik watter welslae dié organisasie reeds behaal het om plaasaanvalle te bekamp. Meer as 2000 boere en hulle gesinne, maar ook stedelinge, is reeds in hul kursusse wat maandeliks aangebied word, opgelei. (Enigiemand wat meer oor dié kursusse wil uitvind, kan ‘n epos aan inlig@praag.org rig.) Vir mnr. Meiring gaan dit om weerbaarheid in die breedste sin, om mense met kennis van vuurwapens en ongewapende selfverdedigingstegnieke toe te rus, maar ook hulle geestelik en kultureel weerbaar te maak. Die behoud van ons Christelike en patriotiese etos is ewe belangrik as om fisies paraat te wees, meen hy. As mens se denke nie reg is nie, kan jy nie weerstand teen misdaad bied nie. Vandaar die spanbou-aktiwiteite en konserte wat deel vorm van die TLU se naweekkursusse teen misdaad.

Dr. Dan Roodt het bygevoeg dat die TLU-opleidingskursusse teen R350 met kos en verblyf ingesluit ‘n absolute winskoop is, juis omdat die instrukteurs waarvan tot 32 gebruik word om 40 mense op te lei, vrywillig werk. “Hierdie mense verrig ‘n volksdiens en behoort ondersteun te word,” het hy gesê.

Hoewel daar steeds hier en daar pligsgetroue en hardwerkende polisiemanne en –vroue bestaan, was die algemene gevoel by die vergadering dat die diens so deur regstellende aksie ondermyn is dat mens nie daarop kan staatmaak nie. Tot veertig pesent van polisiebeamptes is elke dag met siekverlof. Tien persent is ongeletterd. Die enigste hoop vir die land is daarom dat Afrikaners beheer oor hul woonbuurte en distrikte van die misdadigers moet terugneem deur self betrokke te raak. “Niemand kan sy veiligheid aan iemand anders delegeer nie”, het mnr. Gideon Meiring gesê.

‘n Vorige offisier in die Weermag, mnr. Jan Malan, het ‘n pleidooi gelewer dat alle groepe en organisasies met mekaar sal saamwerk om ‘n strategiese anti-misdaadplan op te stel en landwyd toe te pas. Dr. Dan Roodt van PRAAG het die versekering gegee dat so ‘n plan reeds in wording is en dat die kwessie verder met alle Afrikaanse organisasies wat tans besig is om in ‘n Afrikanerraad byeen te kom, opgeneem sal word.

Steve Hofmeyr het bygevoeg: “Daar is hoop. Die rol van ‘n leier is om mense hoop te gee.”

 

нужно оборудованиеданильченко юрій броніславович компромат

Comments

Leave a Reply